Voortrekkerbegraafplaas trek nuwe baadjie aan

Louis Van Zyl, Okkie Jooste, Kevin Meiring, Marius van Zyl (Foto: Verskaf)

Te danke aan lede van die FAK-Vaal-Kultuurnetwerk, waarvan die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV), asook die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) deel uitmaak, kon die Voortrekkerbegraafplaas van kmdt. Daniel Pieter Jacobs ’n nuwe baadjie aantrek.

Tydens ’n projek wat Saterdag onderneem is, is die Voortrekkerbegraafplaas in Vereeniging, waar die kommandant van die Slag van Bloedrivier ter ruste gelê is, deur dié kultuurnetwerk en lede van die publiek opgeknap en skoongemaak.

Dit vorm deel van die FAK se 185ste gedenkjaar vanjaar van die Groot Trek waar die organisasie vele projekte ter ere van die Voortrekkers van stapel stuur.

Die FAK het te hore gekom van ’n Voortrekkerbegraafplaas op ’n plaas in Vereeniging. Ná ondersoeke van Kobie en Gys Ströh van die GGSA, asook Okkie Jooste van die SAWV, is die plaas opgespoor waarop die Voortrekkerbegraafplaas is en toestemming verkry om die begraafplaas op te knap.

Marius van Zyl, Righardt Jooste, Freddie Peters (Foto: Verskaf)

“Hoe lekker is dit om hierdie stukkie geskiedenis te herontdek en die lig te skyn op so ’n belangrike gebeurtenis soos die Slag van Bloedrivier en die mense te eer wat daar betrokke was,” sê Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK se kultuurnetwerke in die noordelike provinsies.

Kmdt. Daniel Pieter Jacobs, gebore in 1780, is een van die Trekkerleiers en was ’n kommandant tydens die Slag van Bloedrivier, waaraan hy en sy seuns deelgeneem het.

Oorspronklik vanaf Beaufort-Wes, het hy en sy gesin deelgeneem aan die Groot Trek. Die trek vanuit Beaufort, met ’n kommando van 60 man, is volgens oorlewering die vyfde grootste trek wat die kolonie verlaat het. Die kommando het later by Retief en Maritz aangesluit.

Jooste het verdere navorsing gedoen oor dié Voortrekkerbegraafplaas en het afgekom op foto’s, tesame met byskrifte, van die opening daarvan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ES ·

Ongelooflik – dankie dat jul ‘n stukkie van ons erfenis weer mooi en herkenbaar gemaak het!

Papsak ·

Baie dankie vir julle omgee vir nog n stukkie van ons geskiedenis mooi te maak baie dankie trots daar op

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Groot dankie vir jul onbaatsugtige dienste.Ook aan Maroela Media vir die plasing van hierdie artikel. ‘n Mens wat nie belangstel in sy kultuurhistoriese goedere nie, is ‘n halwe mens.

Barney ·

‘n Onredelike stelling om te maak. Mense het verskillende belangstellings en dis goed so. Dis wat mense interessant maak. Ek is seker jy stel nie belang in alles wat van my ‘n “heel” mens maak nie, so laat ons mekaar eerder verdra ipv afkraak oor ons verskille.

Tienie ·

Gelukkig het die oom Jacobs nie ‘n Water en Ligte rekening van die stadsraad gekry soos die Booysen familie wat hier in n familie begrafplaas in Claremont Pretoria vir meer as 100 jaar lê nie.

Shame. Die Booysen grafte is in net so ‘n gehawende toestand.

trotsNAMSA ·

Fantasties ! Ek is van die bloedlyn van Gerrit MARITZ. Ek sou so graag wou help om onse mense se begraafplase te bewaar. Is daar nie ‘n boek oor waar al die grafte is nie en ook foto’s? Genl. Manie MARITZ, ook my bloedlyn, en vele ander se grafte is ver en wyd geleë.
Dankie vir jul harde werk, ons nasate MOET weet van die Afrikaner se doen en late .

Belinda ·

baie dankie vir jul omgee – maar nou is dit net weer ‘n kwessie van tyd voor die kwaad-doeners weer skade gaan rig agv die geskiedenis verbonde aan die plek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.