Vorentoe of agtertoe? Só staan sake in Tshwane nou

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, tydens Donderdag se stadsrede. (Foto: Tshwane-metro/X)

Net soveel as wat die Tshwane-metro se suksesse van die afgelope jaar gevier moet word, is dit ook belangrik om bestekopname te doen van die werk wat nog gedoen móét word, het Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, Donderdag in sy stadsrede gesê.

Kry beheer oor finansies

Brink sê die stad se finansiële reddingsplan vorm die spil waarom verbeterde dienslewering draai. En die metro se boeke moet balanseer. Ná ʼn onbevredigende oudit-uitkoms, is die plan egter nie net om die probleme wat die ouditeur-generaal uitgewys het, reg te stel nie, maar ook om probleme proaktief te pak.

Brink het inwoners bedank wat betaal vir die dienste wat hulle gebruik, diegene wat agterstallig is, uitgenooi om ʼn afbetalingsreëling te tref en diegene gewaarsku dat sou hulle nie vir dienste betaal nie, dit afgesny sal word.

“Ons gaan alle debiteure, inwoners, sakeondernemings en staatsinstellings teiken. Ons gaan swaar strawwe en boetes oplê vir alle onwettige verbindings – en dit sluit misdaadklagte in.”

Brink sê nie almal wat nié hul rekeninge betaal nie, is arm nie. “Daar is diegene wat betreklik welaf is, wat geen dispuut met die munisipaliteit het nie, maar kies om nie hul munisipale rekeninge te betaal nie of dit net af en toe betaal. Dit gaan stop.

“As jy jou DStv of die paaiement van ʼn luukse voertuig kan betaal, kan jy betaal vir die water en krag wat jy gebruik – of jy moet ander planne maak.”

Die stad beoog ook om oor die volgende paar maande R6 miljard van sy R23,3 miljard-debiteureboek in te vorder.

Krag, water

Herstelwerk word aan die waternetwerk gedoen. (Argieffoto: Tshwane-metroraad)

Elektrisiteit- en waterinfrastruktuur vorm die ruggraat van dienslewering aan inwoners en die stad gaan voort om daarin te belê, sê Brink. “Laat ek hierdie duidelik stel: elektrisiteit-substasies is nie veronderstel om af te brand nie. Volgens die mees basiese standaard van ingenieurswese moet elke substasie beskermende toerusting hê wat die kragtoevoer afskakel wanneer ʼn brandgevaar ontstaan.

“Ek is net so gefrustreerd en kwaad oor elke brand by ʼn substasie as die inwoners wat geraak word.

“Die tyd is verby dat ons eenvoudig vra vir mense se geduld en die skade herstel tot die volgende brand uitbreek. Ek het vir die stadsbestuurder gesê elke brand by ʼn substasie moet soos ʼn uitsondering hanteer en omvattend ondersoek word. As iemand nalatig is of doelbewus iets doen wat beteken die stad doen nie stappe wat miljoene rand in herstelwerk kon bespaar nie, moet so ʼn persoon vir die skade aanspreeklik gehou word.”

Wat water betref, het die metro reeds R450 miljoen oor drie jaar toegewys aan opgraderingswerk by die Rooiwal-afvalwaterbehandelingsaanleg. R150 miljoen hiervan word reeds oorgedra en die afhandeling van fase 1-opknappingswerk is onderweg.

Daar is ook begroot vir ander opknappingswerk.

“Terwyl ons binne ʼn beperkte begroting werk, werk ons ook om dit wat tot ons beskikking is, ten beste te benut,” sê Brink.

Die stad doen ook aktiewe stappe om die uitwerking van beurtkrag te verminder en teen 2026 altesame 1 000 MW se kragonafhanklikheid van Eskom te hê. Planne hiervoor behels onder meer die verhuring van die Rooiwal- en Pretoria-Wes-kragstasie.

Die stad mik daarna om in die nuwe boekjaar 90% van kragonderbrekings binne 7,5 ure te herstel en 90% van waterlekke binne 48 uur reg te maak.

Vat hande met gemeenskap

Die metro het reeds verskeie vennootskappe aangegaan en gemeenskapsopheffingsprojekte geloods. Dit strook met die stad se almal-in-die-samelewing-benadering om hande te neem met gemeenskappe sodat doelwitte saam bereik kan word. Daar kan slaggate opgevul, gras gesny en straatligte herstel word.

“Vennootskappe met die regering kan nie ʼn fraksie van dit wat die munisipaliteit op ʼn daaglikse basis doen, vervang nie. Dit kan ʼn sin van eienaarskap, verantwoordelik en bydraes koester. Dit is ʼn vorm van deelnemende demokrasie, ʼn manier om die werklikheid te aanvaar dat die regering nie altyd die beste weet nie en ons hulp benodig om die lewensgehalte in ons stad te verbeter en gewone mense ʼn aandeel in die sukses van die regering te gee,” sê Brink.

Ekonomiese groei

Groot private ontwikkelaars het vertroue in die toekoms van die hoofstad, sê Brink in sy stadsrede. “Hulle belegging help ons om paaie, stormwater- en ander infrastruktuur te bou waarvoor ons nie nou self die geld het nie. Ons benodig meer groot ontwikkelings, maar ons moet dit ook makliker maak vir kleiner ontwikkelaars om in ons stad te bou.”

Brink meen ook die stad is nie “vriendelik genoeg” teenoor die sakesektor nie. Ontwikkelaars en argitekte is gefrustreerd met die tempo waarteen aansoeke verwerk en die stelsel bestuur word. “Dit is hoekom ek wil verseker dat ons die werwing van stadsbeplanners vir die stad in die volgende boekjaar prioritiseer. Dit is ʼn kernvaardigheid indien ons die verhouding met die sakegemeenskap wil verbeter.”

Brink het ook verwys na Tshwane se spesiale ekonomiese sone vir die voertuigvervaardigingsbedryf as ʼn voorbeeld van hoe verskillende regeringsvlakke kan saamwerk om belegging en ontwikkeling te dryf.

Nog groot ontwikkelings in die Jakarandastad sluit in die Reserwebank se belegging in ʼn sogenaamde finansiële distrik; “nie in Sandton nie, maar hier in die Pretoriase middestad”.

Veilige stad

Veiligheid is egter deurslaggewend as die stad selfs meer beleggings wil lok. Maar dis eweneens belangrik vir die stad se inwoners. “Dit is net so belangrik dat mense veilig voel in die stad wat hul tuiste is.”

Die Tshwane-metropolisie (TMPD) vorm dus ʼn integrale deel van Tshwane se stedelike bestuursplan. Onder leiding van die nuwe metropolisiehoof, Yolanda Farro, en Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapveiligheid, is ʼn sterk verhouding tussen die TMPD en die afdeling vir arbeidsverhoudinge gebou en dit was deurslaggewend om tugstappe te doen teen beamptes wat hulle aan korrupsie skuldig maak. Verskeie sake duur voort en etlike afdankings is reeds weens oortredings gedoen.

Verbetering hiér nodig

Die stad kon steeds nie sy infrastruktuur teen misdaadaanvalle verskans nie, maar Brink sê hulle het waardevolle lesse geleer. Een hiervan is dat die stelsel om duur veiligheidsmaatskappye aan te stel om bates te beskerm, nie doeltreffend is nie. Dié maatskappye het dikwels geen voetspoor in ʼn bepaalde gemeenskap nie en daar is geen samewerking met gemeenskapspolisiëringsforums en plaaslike veiligheidsnetwerk nie.

Die kontrakteurs is soms blind vir wat in die omgewing om bates soos substasies en reservoirs gebeur en dit skep ʼn gaping waarbinne misdadigers floreer. “Ons moet daardie gaping toemaak deur kamera- en bewegingsopsporingstegnologie te gebruik wat nou algemeen en bekostigbaar geword het. Ons benodig ook die vermoë van ʼn snel- gewapendereaksiediens.”

Brink sê die stad se beligting bly ʼn probleem en sommige gebiede is nou selfs donkerder as vantevore. Kragspanne wat herstelwerk en instandhouding moet doen, kan eenvoudig nie voorbly met werk aan openbare beligting ook nie.

“Namate die druk weens beurtkrag, kabeldiefstal en vandalisme toegeneem het, is minder en minder mense en hulpbronne aan straatligte en oorhoofse masligte toegewys.”

ʼn Toegewyde eenheid in die munisipaliteit, met sy eie personeel en hulpbronne, word nou op die been gebring en sal spesifiek hieraan aandag gee. “Openbare beligting is belangrik genoeg om iemand se voltydse werk te wees,” sê Brink.

Die stad gaan ook 30% van sy begroting vir straatligte in die nuwe boekjaar spesifiek aanwend om sonkragaangedrewe straatligte te installeer.

Verkiesing op hande

Die nasionale en provinsiale verkiesing is op hande en gaan op verskeie plekke ongetwyfeld tot omwentelings lei.

“Terwyl dit gebeur, is ons span in die Tshwane-metro ten volle verbind tot die werk wat ons in die stad doen,” sê Brink.

“Die vraag oor die doeltreffendheid van koalisies gaan geopper word, dit betwyfel ek nie. In die stad het ons gewys dat, selfs onder geweldige moeilike omstandighede, ons kan aanhou saamwerk en aanhou bou.”

Dit beteken egter nie hy is houtgerus oor die toekoms nie.

“Ek is verbind daartoe om te wys dat ʼn stabiele koalisie ʼn voorbeeld vir die land en die provinsie kan wees. In die stad het ons politieke bestendigheid en hiervoor wil ek ons toegewyde vennote bedank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elize ·

Tshwane munisipaliteit is ‘n grap. Water wat dae uit stukkende pype stroom, straatligte wat nie werk nie (om te rapporteer is net om kwaad te word want elke keer word ‘n nuwe verwysingsnommer gegee en indien hulle jou bel word die foon doodgedruk terwyl jy nog die probleem probeer verduidelik). Het straatligte al ‘n maand en ‘n half terug gerapporteer en is nog steeds nie in werking nie. Elke dag word geskreeu dat rekeninge betaal moet word maar watter diens word gelewer? Nou word gekerm oor die water gebruik! Reageer op die rapporterings van water wat die strate afloop dan sal dit ook beter gaan. Hierdie burgemeester is meer bek as binnegoed en kan beslis nie lewer waaroor hy elke dag skreeu nie

Kombiman ·

Baie dankie Mnr Brink, ons glo en vertrou dat onder jou leiding Pretoria weer die prag stad kan wees wat dit in die verlede was.

Dries ·

Joh. Gee Brink bietjie krediet. Hy’t al baie reggekry in sy termyn. Mens gaan nie alles wat in 30 jaar agteruitgegaan het, in 6 maande regkry nie. En mens het geld nodig om herstelwerk te doen. Hierdie man doen uitstekende werk en ek wil beslils nie in sy skoene staan nie.

Theuns ·

Die “koalisies” in Gauteng het kiesers se signing van partye drasties verander. As DA en ActionSa nie in stede kan saam werk, wat se gemors gaan provinsiaal en nasionaal wees?
Kry sigbare resultate soos kry vullisverwydering uitsorteer en minder praat. Doen doen doen.
Belaglik om betalings te eis en dienste is in chaos.
Dank helfte van staf af. Tyd met CCMA sal beter wees as lui onbevoegde cadres wat belasting geld in gat laat verdwyn.
Guts nodig.

Jasmyn ·

Cilliers Brink, jy is briljant. Jou voorstelle is uitstekend. Mag dit alles deurgevoer word…. Ek bid daarvoor. Maar ek dink beslis ook dat daar te veel onkundige mense is wat die werk doen… Vervang hulle met mense wat kan, wil en bereid is om te leer en op te offer. Sterkte met die pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.