Vosburg-boere ewig dankbaar oor droogtehulp

Droogtehulp is aan die Vosburg gemeenskap gebied. (Foto: Lisa Swanepoel)

Boeredroogtehulp SA het sy “beste, grootste uitreik nog” aan boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap die afgelope naweek voltooi.

Chris van Beljon, wat Boeredroogtehulp SA bestuur, vertel aan Maroela Media dat hulle met sowat 52 gelaaide voertuie na die provinsie gery het. “Ons het altesaam sowat 3 300 groot 1,2 m-bale met die uittog aangery. Daar is ook sowat 1 000 kleiner bale en so 10 ton hoendermis geskenk.”

Van dié vrag is sowat 982 groot bale, 221 klein voerbale, 30 sakke voerpille, 45 sakke hondekos, 229 sakke mieliemeel en 386 sakke hoendermis aan die boere van Vosburg, duskant Britstown, geskenk. Van Beljon is deur Lisa Swanepoel, ʼn boer in die omgewing se dogter, van die nood in die gebied ingelig.

Die uitreik het ook kruideniersware aan die boere gelewer, wat sowat 180 sakke aartappels, 232 bottels water, 45 geskenkbokse, vars groente, lekkers, koffie, kookolie, suiker, en so meer ingesluit het.

Die uitreik is ook deur Manne op ʼn Missie, ʼn niewinsgewende organisasie van Fochville, ondersteun. Die organisasie het 61 ton mielies in die dorp afgelewer.

Hendrik Lensley, een van die Manne op ʼn Missie-stigterslede vertel aan Maroela Media dat hy tesame met “11 pelle” besluit het om van Fochville af Weskus toe te ry met bromponies. Die uittog het op 21 September begin. “Ons ken mekaar almal so deur die kerk en het altyd gedroom om die lengte en breedte van Suid-Afrika op hierdie girly scooters te toer.”

Voor hulle uiteindelik sou vertrek op hul reis, het die manne besluit om waarde en mening aan hul toer te gee. Hulle het tydens die 1 860 km-toer by verskillende dorpies stilgehou om ʼn hand by te sit waar hulle kon.

(Foto: Lisa Swanepoel)

Dit was tydens die ses dae lange toer, en ʼn oornagstop op Vosburg, dat Manne op ʼn Missie die nood in die dorpie raakgesien het. “Ons het by vriende hier gebly en toe besluit om bystand te lewer op ons eie manier.” Die organisasie het gesteun op skenkings van boere uit die Fochville-omgewing, met een boer wat 54 ton geskenk het. Die boer wil anoniem bly.

Verder het Manne met ʼn Missie ook mielies uit hul eie sak gekoop.

“Toe die vragte by ons dorp aankom, was die woorde maar min, want die dankbaarheid was te groot. Ons gemeenskap sal nooit vergeet wat [die organisasies] vir ons gedoen het nie,” vertel Pieter Vos, die voorsitter van Vosburg-boerevereniging.

Vos sê die aflewering was besonders omdat dit met skriflesing en gebed begin is. “Dit was so ʼn mooi dag. Van die skenkers, tot die drywers, tot die boere, het al die lof en die eer vir die dag net aan ons Hemelse Vader gebring.”

Vos, wat self ʼn skaapboer in die omgewing is, sê dat die boere swaar trek. “Dit is nie lekker om nou te boer nie. Dis regtig baie droog hier. Die meeste boere het, omdat die droogte lank aankom, gehoop dat dit laas jaar Desember sou reën. Dit het nie.

“In Februarie, Maart het dit so effens gereën, maar nie genoeg om ʼn verskil te maak nie. Die boere se veegetalle is min, en die jong diere wat hulle lam, wat eintlik vervangingsdiere is om die kudde op te bou, moet uitgeslag word. Selfs al sou dit reën, sal dit jare vat vir die veld om te herstel en veegetalle weer op te bou.

“Dis nie net die boere wat onder die druk ly nie, maar ook die dorp. Die koöperasie, motorwerktuigkundige en onderneming hier gaan almal gebukkend onder die droogte. Instandhoudingswerk op die plase word ook nie nou gedoen nie, want daar is eenvoudig net nie geld nie.”

Die vleismark dra verder by tot die boere se probleme. “Dit kos ons meer om die lammers te voer om hulle reg vir die mark te kry, as wat ons die hele skaap op die mark kry.”

Vos sê egter dat die aflewering minstens een maand se voer aan die boere in die omgewing verskaf het, wat die druk bietjie ligter maak.

Ongelooflike ondersteuning

Van Beljon vertel toe die vloot in Kimberley aangekom het, is hulle begroet deur die brandweer en ambulanse. “Omtrent die hele dorp het ons begelei. Daar was tot ʼn motorfietsklub wat ons begelei het deur die dorp,” sê hy.

Ná Kimberley het die vloot weggedraai Britstown toe, waar hulle oornag het en die volgende dag na Vosburg vertrek het.

Hy skat die waarde van die jongste aflewering so om en by R2 miljoen.

“Die enigste probleem waarmee ons tans sit, is om die dieselrekening terug te betaal. Ons het dit gegooi op skuld en moet dit nou terugbetaal, maar daar is tans amper niks geld om dit te doen nie. Dit is iets wat aan my knaag. Ons glo en vertrou dat daardie geld sal inkom en dat ons daardie rekeninge kan vereffen.”

Die rekening staan tans op so R130 000.

Vanuit Vosburg het die vloot Onseepkans se kant toe vertrek. Van hierdie ervaring het Van Beljon op Facebook geskryf:

“As jy voor ʼn boer se huis stop en hy kom groet jou met ʼn lyf en arms wat so erg bewe dat hy amper nie sy arm kan oplig nie, trane wat skiet uit sy oë, want sy oë het ʼn trok vol voer gesien, eers dan besef jy vandag doen ek goed.

“Vandag was ons net betyds. Terwyl ons voer aflaai, sê die boer vir my hy het vanoggend sy laaste voer vir sy diere gegee, sy vrou vertel hoe sy net nie kan ophou huil nie. Hulle is moeg, hulle is bang, hulle weet nie meer wat om te doen nie. Maar vandag was God weer betyds en saam met die gee van hulle laaste voer stuur God ʼn vrag voer sonder dat die boer en sy vrou dit weet.”

  • Vir meer inligting oor Boeredroogtehulp SA, kan lesers hul Facebook-blad besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ina ·

En toe huil ek saam. Saamstaan is hoe ons “roll”. High 5 aam almal

sweis ·

Kan julle dink wat ons kan vermag as ons n onafhanklike tuisland kan kry?

Kiskar ·

Ek het self familie wat boer met skape in die Karoo. Mense besef nie hoe erg dit tans met die boere gaan weens die droogte nie. Dis eers wanneer jy self op daai plase kom wat mens besef hoe erg sake tans lyk. Prys die Here vir al die mense wat voer skenk.

Retha Basson ·

Ek wil ook vir ons Hemelse Vader dankie se vir Sy genade. Here gee dat daar nog hulp Sal kom asb Here. Dan vra ek names die hele SA dat U die Hemelse sluise sal open. Here ons kan nie oorleef sonder goeie reens. Ek dank U vir al U genade.

Amen

Bertus ·

En terwyl dit so swaar gaan en die prys wat boere vir skape kry dramaties gedaal het, word vleis in die supermarkte net duurder.
Maar ‘n mooi verhaal van omgee en naasteliefde

Anton ·

Hoekom word die vee nie vervoer na groen Wei velde nie? Ek kry nie die kleikie by die oor nie.!

Andre ·

Ek wonder of die skaaptroppe van die droë areas per skip / trein / trok vervoer kan word na areas waar weiding en water volop is? Totdat die reen geval het en die weiding herstel het?

Wat van vennootskappe tussen boere aan die Oostekant (hoë reenval) en boere aan die Westelike droë areas vam die.land?

Meraai ·

Ek wil graag maroela media lesers uitdaag, kom ons help om by te dra en die dieselrekening van hierdie engele te betaal, kan die bankbesonderhede dalk aan ons verskaf word asseblief?

Marie ·

Ek daag die supermarkte Woolworths, Pick en Pay, Shoprite, Spar en sommer almal van hulle uit om ook bydraes te lewer vir die boere. Julle sal nog agterkom dat mens geld nie kan eet nie. Julle was tjoepstil tot nou toe. Skaam julle.

LP ·

kan julle asseblief n rekening nommer vir Boeredroogtehulp SA publiseer vir betalings, ek het nie facebook nie
ok, geen kansvaters nie asseblief, ek wil graag help, al is dit net om van die diesel te help betaal :)

Pieta ·

Dankie, dankie, dankie aan julle almal wat ons boere gaan help het! Mag die Here julle ook ryklik seen!! en DANKIE dat julle die EER gee aan GOD ons VADER.

Tina du Toit ·

Skiet my oë ook nou vol trane met `n helse knop in my keel. Is so dankbaar vir hulle part. En dankie aan elkeen wat hier help. Dankie God vir die hulp op hul pad. Amen

Anita ·

Ek bid , ek glo, dat God eers ons moet laat swaarkry sodat ons nader as christene na mekaar beweeg en weer ou waardes handhaaf , ons kinders laat liefdes diens doen,
God sê in die Bybel dat Hy ons gaan beproef……….hierdie is beproewing maar ek glo dat HY
ons sterker daar uit sal laat kom, en ek bid dat SY trane die droog gebiede natmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.