Vraagtekens oor wetsontwerp om regering groter beheer oor skole te gee

skool-21.jpeg

Argieffoto

Die VF Plus sal versoek dat die sperdatum verleng word vir openbare deelname oor ‘n wetsontwerp wat die minister van basiese onderwys se beheer oor skole versterk.

Maroela Media het vroeër berig vakbonde en belanghebbende organisasies moet teen 15 Januarie reageer op die voorgestelde wysigings aan die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwys.

“Terwyl verskeie rolspelers die tydsberekening daarvan bevraagteken, wys die VF Plus op die afwesigheid van toepaslike inligting op die departement se webwerf,” het dr. Wynand Boshoff, hoofwoordvoerder oor basiese onderwys van die VF Plus, Sondag in ʼn verklaring gesê.

Wetsontwerpe word gepubliseer om belanghebbendes kans te gee om dit te bestudeer en kommentaar te lewer.

Daarna volg die parlementêre proses, wat oorweging deur die portefeuljekomitee en stemming in die parlement behels. “Die vraag is hoe openbare deelname moet plaasvind sonder publikasie op die departement se webwerf,” het Boshoff bygevoeg.

“Gegewe die vakansieseisoen bied dit beperkte geleentheid vir deeglike bestudering. Die VF Plus sal vra dat hierdie spertyd verleng word.”

Die VF Plus bevestig dat verskerpte sentrale beheer oor onderwys volgens dié party ‘n stap in die verkeerde rigting is.

“Wêreldwyd, in lande met kulturele verskeidenheid, is onderwys ‘n funksie van die kultuurgroep. Die ANC-regering daarenteen, volg die tipies Marxistiese patroon om onderwys allereers vir nasiebou aan te wend.”

Boshoff het gesê kiesers moet daarop let dat die VF Plus die enigste party is wat hom daarvoor beywer dat onderwys ‘n uitdrukking van die gemeenskap en sy waardes moet wees. Daarom sal dié party hierdie wetsontwerp met al sy krag teenstaan.

“Dit lyk of die nasionale onderwysminister [Angie Motshekga] besig is om die voorbeeld van die Gautengse onderwysminister, Panyaza Lesufi, te volg. Hy het op ‘n skriftelike vraag van die VF Plus in die Gautengse wetgewer geantwoord dat taal byvoorbeeld nie meer ‘n oorweging is wanneer skoolhoofde aangestel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.