Vreeslose ystervrou van Welkom trap diep spore

Die teater is onomwonde deel van Dulcie Harris (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Sy dra die titel van ma, eggenoot, weldoener en sakevrou. Bowenal is Dulcie Harris (57) ʼn omgeemens wat die skoene aan haar voete vir haar medemens sal gee.

Dié ystervrou van Welkom sal ook nie skroom om haar eie lewe in gevaar te stel om ʼn ander te help nie en dit is presies wat sy gedoen het toe sy haar bure vier jaar gelede tydens ʼn gewapende rooftog te hulp gesnel het.

“Die idee van gevaar het nie eens deur my kop gegaan nie. Ek het net geweet ek moet my bure help, al is dit ten koste van my eie lewe. Anders sou hulle dalk geskiet word,” vertel Harris.

Harris het as jong meisie in 1996 die leisels by die Ernest Oppenheimer-teater in Welkom as bestuurder oorgeneem en is ná 26 jaar steeds daar. Sy noem dit haar “huis weg van die huis”.

Die families op die ashope druk swaar op Dulcie se hart (Foto: Verskaf)

Sy is verlede jaar ook tot voorsitter van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Welkom verkies en is al byna 20 jaar ʼn lid van die Rotariërs, ʼn organisasie wat uitreikwerk in die gemeenskap doen.

“Ek weet ek kan nie die wêreld red nie (al wil ek hoe graag), maar ek kan een vir een in die gemeenskap probeer red.”

Harris se oë blink wanneer sy oor haar uitreikwerk en die teater praat en sy kan nie help om te glimlag nie.

“Dit is my passies in die lewe. Daarsonder sou ek nie kon wees wie ek is nie.”

‘Teater is my huis’

Dulcie Harris is al die afgelope 26 jaar die bestuurder van die Ernest Oppenheimer-teater (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Harris het as vierjarige in 1970 saam met haar gesin van ʼn hoenderplaas in Hillcrest, KwaZulu-Natal, na Bloemfontein verhuis nadat die gesin alles weens Newcastle-siekte, ʼn ernstige, aansteeklike voëlsiekte, verloor het.

Hulle het in die winter met die klere aan hul lyf in die Rosestad aangekom. Die kleinhoewe waar hulle gewoon het, het nie elektrisiteit of lopende water gehad nie.

“Ons het nie eens ʼn baadjie of ʼn trui besit nie. My ma moes vinnig leer brei. Die kerk het ook met klere gehelp.”

Ondanks die feit dat die gesin dit self nie breed gehad het nie, wou Harris toe al ander help.

“Ek het in die winter vir die werkers op die kleinhoewe se kinders mussies gehekel.”

Harris het in 1985 aan die Hoërskool Eunice matriek behaal en daarna by Pacofs (Performing Arts Centre of the Free State) begin werk.

“Ek was nie van plan om te studeer nie omdat ek disleksies is en ook nie ʼn akademiese persoon was nie. Ek het belanggestel om iets met my hande te doen.”

Harris het in daardie stadium niks van teater geweet nie, maar haar ma het voorgestel dat sy by Pacofs gaan aanklop. “Dulcie, dink daaroor! Wie verf die dekor? Wie maak die kostuums?” het haar ma destyds gevra.

“Ma was reg. Ek het ʼn oproep na Pacofs gemaak en nou, 36 jaar later, wil ek nêrens anders as by die teater wees nie. Ek sal nooit ʼn ‘gewone werk’ wil doen nie.”

Die Ernest Oppenheimer-teater in Welkom (Foto: Verskaf)

Harris het as stikster by die kostuumafdeling by Pacofs begin werk en later self vir die kunstenaars kostuums, kostuumbykomstighede en juwele gemaak.

Sy het gaandeweg meer in die tegniese aspekte soos klank en beligting van die produksies begin belangstel en het al hoe meer geleer. Sy is later as senior verhoogbestuurder in Pacofs se dramadepartement aangestel.

Op 8 Januarie 1996 het Harris as teaterbestuurder by die Ernest Oppenheimer-teater begin, waar sy iets van alles by die teater gedoen het. Sy het verhoogstelle gebou, bemarking en selfs instandhoudingswerk behartig.

Toe die teater tussen Maart en Oktober 2020 sy deure weens die Covid-19-inperking noodgedwonge moes sluit, was dit ʼn laagtepunt – en een sonder inkomste.

Volgens Harris het die pandemie ook groot skade aan die teatergehoor berokken, met kaartjieverkope wat steeds heelwat minder is as voor die pandemie.

“Die teater is nog nie waar dit moet wees nie, maar die kaartjieverkope is stelselmatig besig om te herstel. Ek het in ʼn stadium gedink indien die inperking nog langer moes aanhou, sou die teater dit nie oorleef nie.”

‘Help in uur van nood’

Marina en James Gillmer (Foto: Verskaf)

Net ʼn paar jaar tevore, as die omstandighede op daardie reënerige oggend in Oktober 2018 enigsins anders was, was Harris dalk nie meer vandag hier nie.

Harris, haar dogter, Vickey-Luanne (29), en seun, Sean (22), was nog tuis in die bed by hul huis in Jim Fouchépark, toe hulle ʼn geskreeu buite hoor.

“Dit het geklink soos ʼn uitroep van paniek.”

Harris, geklee in haar slaapklere, is summier na buite waar sy beweging skuins oorkant die straat by die huis van Marina en James Gillmer gesien het.

Sy is terug in haar huis om haar hek- en motorsleutel te gryp. Sean het straataf na die Gillmers se huis gehardloop en Harris is in die motor agterna.

“Toe Sean by die Gillmers se huis kom, het hy gesien hoe twee mans vir Marina en James op die grond hou, besig om hulle seer te maak. Die een man was besig om James met ʼn das te wurg. Sean het aan die hek geskud om aandag te trek. Die man wat ʼn vuurwapen teen Marina se kop gehou het, het na hom gedraai. Hy het hom gedreig dat hy hom gaan skiet indien hy nie spore maak nie. Sean het sy hande in die lug gegooi en twee treë agteruit gegee. Ek het ʼn ent agter hom in die motor gewag en die motordeur oopgehou sodat hy kan inklim.”

Die volgende oomblik skreeu die man weer vir Sean: “Hardloop of ek skiet.”

En toe klap ʼn skoot.

“Die koeël het Sean genadiglik gemis en die huis se muur oorkant die pad getref.”

Die man het na die hek gehardloop, waarna Sean gehardloop het om hulp te gaan soek.

“Ek ry toe vorentoe en probeer die bure se aandag trek. Ons bly so ingekamp met hoë mure, niemand bekommer hulle meer oor hul bure se doen en late nie.”

Harris het ná ʼn ruk een van die buurmanne in die hande gekry en dié het die buurt se sekerheidsdiens en polisie ontbied.

“Ek het daarna teruggery na die Gillmers se huis en gesien Marina en James lê op die grond, maar die skelms het reeds gevlug. Die egpaar was in ʼn verskriklike toestand. Marina is met pepersproei in haar oë gespuit en haar bril van haar gesig af geslaan.”

Sy het probeer gil, maar die rower het sy hand in haar mond gesit en haar tong vasgehou om op te hou skreeu. Die mans het ook gedreig dat hulle Marina gaan skiet indien sy nie ophou skreeu nie.

Die Gillmer-egpaar het omstreeks 11:45 ná kerk tuisgekom toe twee gewapende rowers hulle oorval het. Een van die rowers het die egpaar agter die sitkamerbank ingewag en vir Marina aangeval, terwyl die ander een vir James in die motorhuis beetgekry het.

Volgens Harris was dit vir haar instink om te gaan help toe sy die skreeuery hoor. “As ek eendag in daardie situasie is, sal ek wil hê my bure moet my help.”

Vier jaar later is Marina steeds dankbaar dat Harris en Sean alarm gemaak en “hul lewe gered” het.

“Vir Marina was dit asof ʼn engel voor haar gestaan het, toe sy deur haar dowwe visie vir Sean in sy grys sweetpakbroek, wit T-hemp en silwer kruishangertjie by die hek sien staan het.

“Sean was haar engel.”

Weldoener

Dulcie en haar span by die DBV woon vlooimarkte by om geld in te samel (Foto: Verskaf)

Wanneer sy nie werk nie, dien sy die gemeenskap en help Harris waar die nood groot is.

As deel van die Rotariërklub, waarvan sy al twee keer president was, reël sy geldinsamelingsprojekte en samel skenkings vir behoeftiges in.

Sy het ook al twee keer die Paul Harris- internasionale toekenning ontvang. Dit word toegeken aan ʼn Rotariër of ʼn lid van die gemeenskap wat ʼn uitstaande bydrae tot die gemeenskap gemaak het.

Van haar bekendste projekte is die Madiba 67 Minute Walk For Charity en die Kerspartytjies wat sy jaarliks op die dorp hou.

Sy het ook vroeër jare die Miss Goldfields-kompetisie bestuur, ook vir liefdadigheid.

Verder maak die Rotariërklub gereeld ʼn draai by plaaslike ouetehuise en informele nedersettings.

“In Desember neem ek graag kos vir die families wat op die ashope woon. In koue, stormagtige aande rol ek in my bed rond en dink aan hierdie families wat nou in die koue en reën moet regkom.”

Haar jongste uitdaging as voorsitter van die plaaslike DBV het haar ook laat besef watter groot nood daar onder diere is.

“Ek besef nou hoe ʼn groot probleem die verwaarlosing van diere is en hoe wreed mense teenoor diere kan wees.”

Sy spook intussen om geld vir die organisasie in te samel.

“Ons moet tussen R65 000 en R70 000 per maand insamel om al die DBV se rekeninge te kan betaal.”

Sy beoog om in haar vyf jaar as voorsitter by die vereniging ʼn bewusmakingsveldtog onder jongmense te begin om hulle te leer oor dierebeskerming en hoe om na hul troeteldiere om te sien.

“Hulle is ons leiers van die toekoms.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.