VRK: ‘Ons kon nie vir ’n beter begin vra’

Kobus Wiese in sy speeldae. Foto: Jean-Pierre Muller/AFP.

Kobus Wiese is nie ’n man wat sommer sal doekies omdraai as hy met jou praat nie.

Die gewilde kommentator en voormalige lid van die Springbokspan wat in 1995 die Webb Ellis-trofee op Ellispark omhoog gehou het, is dus die perfekte persoon om oor die naweek se rugby te gesels.

Die Stormers speel Saterdag teen die Bulls in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap op die DHL-stadion in Kaapstad; twee Suid-Afrikaanse spanne wat sommer met die intrapslag sake om die silwerware sal uitspook.

Volgens Wiese sluk ondersteuners van Europese rugby maar swaar aan hierdie brokkie inligting.

“Om gewone Afrikaans te gebruik – dit krap hulle agterente,” het die oudslot vanoggend in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

Wiese meen daar was in die aanloop tot die toernooi meer as een ongelowige Thomas wat oor die wysheid van die besluit gewonder het om die plaaslike spanne Noorde toe te stuur.

Elrigh Louw op die aanval. Foto: GB Jordaan.

“Hulle het egter uitstekend aangepas en benewens die eindstryd wat in Suid-Afrika beslis word, was daar ook drie Suid-Afrikaanse spanne (Bulls, Stormers en Sharks) in die uitspeelwedstryde. Ons kan eintlik nie vir ’n beter begin gevra het nie.”

Hy was juis vroeër een van die persone wat voorspel het dat die Bulls oor die nodige skietgoed beskik om met Leinster af te reken; ’n rugbyprofesie wat terstond bewaarheid is toe die Pretorianers verlede Vrydag die sterk Ierse klub in Dublin geklop het.

“Die Bulls het so te sê met die perfekte wedstryd vorendag gekom en ek glo dat die eindtelling eintlik vir Leinster ’n bietjie vlei.”

Maar kan hulle vir die tweede agtereenvolgende naweek teen dieselfde hoë tempo en intensiteit speel?

“’n Eindstryd is eintlik ’n ongelooflike ding – alles wat op die dag gebeur is van belang en dit wat vooraf gebeur het, beteken niks nie. Daar is spanne wat al aan hul spelpatroon gekarring het om by die groot oomblik aan te pas, maar dit is ’n fout – jy moet by jou wenresep bly.”

Die Bulls dra lank nie meer net die etiket van stampkarrugby om die nek nie, terwyl die Kapenaars gereeld met hul aanvallende spel beïndruk.

Ja, rugby is ’n spansport, maar Wiese kan ook nie wag om Saterdag ’n paar individuele tweestryde te volg nie.

Evan Roos. Foto: Twitter.

“Die twee lostrio’s kan beslis vir ’n vuurwerkvertoning sorg. Evan Roos en Elrigh Louw is nie net twee van die heel beste losvoorspelers in Suid-Afrika nie, maar ook in die reeks. Dan is daar Deon Fourie teen Marcell Coetzee – wat ’n stryd!”

Al twee spanne spog ook met puik vleuels wat die nodige afrondingswerk kan doen, maar die verwagte reën in die Kaap kan dinge interessant maak; ’n vyftiental se vertoning by die afbreekpunte en taktiese skopwerk is dan van groot belang.

Hy frons ook ’n bietjie oor die feit dat Leinster se Leo Cullen onlangs as die afrigter van die seisoen aangewys is.

Terselfdertyd glo hy dat die vertoning van Jake White en John Dobson die lede van die keurpaneel ’n bietjie op hul neuse laat kyk.

“’n Mens se logika sê vir jou dat die afrigters van die twee spanne wat in die eindstryd speel vir hierdie toekenning in aanmerking moes gekom het.”

Saterdag is dit egter hulle spanne – die twee bestes in die reeks – wat in die eindstryd speel. En boonop is hulle Suid-Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

Maar mnr Wiese , mnr Freek Burger het op SuperRugby uitgewys dat die een drie van die Bulls nie toegeken moes wees nie. Dit sou die wedtryd anders laat uitdraai het. Sterkte aan die spanne, mag die beste span wen en hopelik geen kaarte en onkonsekwente skeidsregter beslissings nie.

Chris dupreez ·

Ja en ons almal ken vir Freek Burger, ook nie een van die mees konsekwente skeidsregters gewees nie.

Piet ·

Irrelevant, selfs Leister ondersteuners het erken Bulle was die beste span op die veld. Maak gereed, die Bulle os oppad!

piet ·

Dit gaan waarskynlik reen, dit sal tot voordeel van die Bulle wees. Hoop nie dit reen nie want dan kan ons glansrugby verwag.

Dup ·

Na die onlangse swaar reëns in die Kaap,sal die Stormers sukkel om kop bo water te hou…

johan ·

Jip. Ons spanne kon nerens kom in super rugby nie. Moes selfs reels buig dat ons tog net uitspeel wedstryde kan haal. Maar nou kan die met die 1 oog koning wees in die land van die blindes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.