Vrou dood ná ‘polisie’ egpaar kaap

Selvin Pillay en Priscilla Pillay (Foto: Facebook)

’n Vrou is dood nadat sy en haar man Dinsdagaand op die R59 in Kliprivier in Johannesburg gekaap is deur verdagtes wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring die man (68) en vrou (65) is in Rietspruit deur verdagtes vermom as polisiebeamptes in ’n voertuig met blou ligte van die pad afgetrek.

Die kapers het ’n vuurwapen op die egpaar gerig, waarna hulle in die egpaar se wit Toyota Hilux-bakkie met die slagoffers in die voertuig op die vlug geslaan het. Die verdagtes het later langs die R55 gestop en die egpaar aangesê om uit te klim en weg te hardloop.

“Die vrou het na bewering inmekaargesak en die man is na ’n nabygeleë huis om hulp te ontbied,” verduidelik Masondo.

Volgens Masondo is die polisie ontbied en die bakkie is verlate op die R550 aangetref. Die vrou se liggaam is kort daarna in ’n oop stuk veld aangetref.

’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van die vrou se dood vas te stel.

Die slagoffers is intussen deur hul dogter op Facebook as Selvin Pillay en Priscilla Pillay geïdentifiseer. Die paartjie was glo onderweg na hul huis in Heidelberg van Vereeniging af. Die polisie wou egter nie hul identiteit bevestig nie.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om die Kliprivierpolisie by 011 903 8205 of Stop Misdaad by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Oujongvrou ·

Nouja, en so kan mens nie vir die polisie stilhou nie, want hoe moet jy weet dis polisie. En as jy ry na n veiliger gebied word jy deur regte polisie aangerand en gearresteer. Wat doen mens nou. Our people bewys net elke dag meer watse aard hulle het. Baie simpatie met die familie van die mense. Hoe aaklig moet dit wees om jou ouer in sulke gru situasie te veloor.

Niné ·

Ons is te bang om in die aand te ry. Ons gaan letterlik nerens meer heen as ons nie kan oorslaap nie. Ons lewe is ingeperk en en beperk. Ons doen niks meer spontaan nie. Dis te gevaarlik! Ek kry myself sommer jammer.

Mieke ·

Baie jammer en sterkte aan die familie met die verlies van hulle geliefde. My hart gaan uit na hulle veral onder die omstandighede waarin sy oorlede is. So onnodig – veral omdat dit deur misdadigers veroorsaak is.

Sandra ·

Die storie maak nie vir my sin nie. Miskien omdat ek lees van die motor wat hulle afgetrek het met blou flitsende ligte, en toe klim hulle in die paartjie se bakkie en slaan op vlug met die bakkie met die egpaar in. Het die kar met die polisieligte dan agter hulle gery met die res van die kapers? Sal seker later meer inligting vorendag kom sodra die man tot sy sinne gekom het. Innige simpatie aan hulle verlies.

Hexi ·

Wat nie vir my sin maak nie, is hoekom die bakkie op die wyse kaap, net om dit later verlate te los.
Dink die ware oorsaak van die arme vrou se dood gaan meer vrae as antwoorde hê…

Daleen ·

So wat moet mens nou doen. Stop jy word jy gekaap. Ry jy na veilige nabygelee plek dan word jy aangerand en gearresteer. Nee wat ek ry min in die aand rond maar as ek doen maak ek seker my plaaslike CPF nommer is op speed dial. Is altyd op speed dial ek bel hulle eerder voor ek polisie sal bel.

marius ·

Stop jy nie word jy aangerand of dalk geskiet . Laat cele vir die nasie vertel wat hulle te doen staan . Sommer van die parlement se vloer af .

msp ·

Bitter hartseer storie. Hoe lank kan ń mens nog aangaan met al die weteloosheid om jou. As jy nie stilhou nie word jy aangerand by die plek van veiligheid waarheen jy gery het en hou jy stil dan is dit kriminele wat in polisiemotors en uniforms jou voorkeer. Vir hoe lank sal ons dit nog kan verdra?

Chantelle ·

As Mens vir die “polisie” stilhou word jy geskiet. As jy na n plek van veiligheid ry en dan stilhou word jy aangerand. Hoe nou gemaak??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.