Vrou gesoek oor miljoene se PPE-bedrog

Swereen Govender word in verband met PPE-bedrog gesoek. (Foto: Verskaf / SAPD)

ʼn Vrou wat niksvermoedende beleggers glo uit sowat R10 miljoen bedrieg het, word nou deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Valke gesoek.

Daar word beweer dat Swereen Govender familie en vriende sedert 2019 gelok het om in haar persoonlike beskermingstoerusting (PPE)-onderneming te belê deur winsgewende dividende in ruil vir die beleggings te belowe.

Verdere ondersoek na die beweerde bedrog het onthul dat Govender aanvanklik minimum dividende aan beleggers betaal het, maar toe later heeltemal daarmee opgehou het.

Sy het na bewering ook vir haar beleggers gelieg deur te sê sy kan nie gekontak word nie omdat sy in ʼn getuienisbeskermingsprogram geplaas is. Beleggers het in sommige gevalle al hul spaargeld asook aftree- en ongeskiktheidspensioene by Govender belê.

Verskeie sake is by polisiestasies in Gauteng aanhangig gemaak, wat nou deur die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad in Germiston ondersoek word.

Volgens die ondersoekspan het Govender glo ook bedrieglike verskaffersertifikate van verskeie staatsdepartemente vir PPE geskep.

ʼn Lasbrief vir haar inhegtenisneming is intussen uitgereik en haar identiteit is ook aan die internasionale en plaaslike bewegingsbeheerstelsel oorhandig.

“Enigiemand wat weet waar me. Govender haar bevind of wat ʼn slagoffer van Govender se bedrogspul is, word versoek om die ondersoekbeampte, kapt. John Marepa, by 082 822 6351 te kontak.

“Enigeen wat skuiling aan me. Govender bied moet weet dat dit ʼn strafregtelike oortreding is,” het die polisie en Valke Woensdag in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Hulle het mense ook gemaan om uiters versigtig te wees wanneer hulle by individue belê.

“As ’n aanbod te goed lyk om waar te wees, is dit waarskynlik. ʼn Mens moet dit eerder oorweeg om jou kapitaal by jarelange betroubare beleggingsmaatskappye te belê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

Weet nie hoe hierdie skelms met hulle gewetes saamleef nie, meeste het NIE so iets soos ‘n gewete nie. Haar tipe moet net onthou dat jou sondes jou wel inhaal.

SjN ·

Familie en vriende ingedoen, hoe lekker was dit om gulsig en geldgierig te wees.

Kobus ·

Hulle slaap juis nie. Terwyl ons slaap, werk hulle aan hulle skemas. ‘n Skoon gewete is ‘n sagte kopkussing. Hulle breine werk oortyd. Ek moet erken,ek is te dom vir sulke truuks en dan moet sulke mense nog oorredingsvermoee ook hê.

Annatjie ·

As iets te goed is om waar te wees dan is dit te goed om waar te wees.
Dit is gierigheid wat maak dat mense in sulke skelms se visier kom.

Jan Seerot ·

Met R10M in my sak sou ek nie meer in SA gewees het nie. Dis vir seker.

pdbpta ·

Kan die polisie as met soortgelyke erns die GROOT POLITIEKE SWENDELAARS vervolg!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.