Vrou skiet aanvaller tydens plaasaanval 

Argieffoto

ʼn Agt-en-veertigjarige vrou het Vrydagaand tydens ʼn plaasaanval by Jeffreysbaai in die Oos-Kaap een van haar aanvallers geskiet en gewond.

Die vrou was omstreeks 20:30 besig in haar kantoor wat langs die huis geleë is op ʼn plaas in die Kabeljauws-omgewing.

“Sy het geluide buite die perseel gehoor en het eers gedink dis haar man,” het kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, gesê.

Twee gewapende mans het voor die kantoor te voorskyn gekom. Een het ʼn vuurwapen gehad en die ander ʼn skerp voorwerp.

“Een van die verdagtes het op die vrou begin losbrand en sy het teruggeveg. Die vrou is met die skerp voorwerp in die kop gesteek en sy het een van die verdagtes in die bolyf geskiet.”

Die ander verdagte het op die vlug geslaan en die vrou het haar man gebel wat hulp ontbied het. Die vrou het mediese sorg vir haar beserings ontvang.

Die beseerde verdagte is onder polisiebewaking in ʼn hospitaal opgeneem. Hy sal in die Humansdorp-landdroshof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

Volgens Swart is ʼn soektog na die ander verdagte begin. Die polisie ondersoek sake van poging tot moord en poging tot huisbraak.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om ao. Francis Scott te kontak op 082 441 7645 of die Jeffreysbaai-polisie op 042 200 6800.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.