Vrou skuldig aan moord op ouma

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

Nomaswazi Rachel Tshabalala (31) is in die Johannesburgse hooggeregshof skuldig bevind op aanklag dat sy haar ouma vermoor en haar Sassa-toelaag spandeer het.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die beskuldigde het skuld beken op ʼn aanklag van moord, 24 aanklagte van bedrog, diefstal van die oorledene se bank- en Sassa-kaarte, dwarsboming van die gereg en meineed.

“Tshabalala het saam met haar ouma, Nomsa Hilda Tshabalala, in Mndeni (Soweto), gebly. Sy het erken sy was onder die invloed van dwelmmiddels toe sy die bejaarde vrou ná ʼn bakleiery vermoor het. Sy is op 14 Desember 2019 uit die huis geskop toe die twee vroue ʼn woordewisseling gehad het.”

In haar pleitverduideliking het Tshabalala gesê sy het Nomsa op 19 Desember 2019 as vermis aangemeld by die Naledi-polisiestasie. Sy het tussen 17 Desember 2019 en 3 September 2020 geld uit Nomsa se Nedbank- en Sassa-kaarte onttrek.

“Sy is op 3 September 2020 in hegtenis geneem op aanklag dat sy die oorledene se kaart gebruik het ná sy haar as vermis aangemeld het. Sy is in aanhouding gehou en van bedrog en diefstal aangekla totdat ʼn huurder in Junie 2021 op die oorledene se oorskot afgekom het.”

Nomsa se familie het besluit om die huis uit te verhuur ná Tshabalala se inhegtenisneming. “Die nuwe huurder was besig om die erf skoon te maak toe hy op Nomsa se oorskot afgekom het. Dit is onder ʼn staalkabinet in die erf begrawe. DNS-toetse het bevestig dit is Nomsa.”

Verdere ondersoek het sers. Quma na die Johannesburgse gevangenis gelei waar Tshabalala verhoorafwagtend was.

Senior staatsadv. Tshimangadzo Xakaza het aan die hof gesê die staat aanvaar nie die pleitverduideliking nie, maar sal tydens die verrigtinge aanvoer die moord was vooraf beplan.

Waarnemende regter Makamu het Tshabalala skuldig bevind op aanklag van moord met voorbedagte rade en gesê sy het ʼn geleentheid gehad om haar besluit te heroorweeg ná Nomsa bewusteloos was, maar nog steeds geleef het, ná sy oor die kop geslaan is. Tshabalala het egter voortgegaan en haar ouma met haar kaal hande verwurg.

Die saak is tot 7 Oktober uitgestel vir vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Ai, hierdie is ‘n slegte storie. Hoe laag moet mens daal om so iets te kan doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.