Vrou tydens kosaflewering in ooste van Pretoria geskiet

Argieffoto (Foto: Jon Tyson/Unsplash)

ʼn Vrou in haar 40’s van Moreletapark in die ooste van Pretoria is Saterdagaand tydens ʼn gewapende rooftog in die maag geskiet toe sy ʼn kosaflewering buite haar huis in ontvangs geneem het.

Ao. Duane Lightfoot, plaaslike polisiewoordvoerder, sê die vrou het vroeër die aand kos aanlyn bestel. Die afleweraar het omstreeks 20:30 op sy motorfiets buite die vrou se huis in Suurkareestraat stilgehou en die vrou is na buite om die kos in ontvangs te neem.

Dit is toe dat ʼn onbekende wit voertuig verbyry, ʼn U-draai maak en by die hek stilhou.

ʼn Onbekende man het uit die motor gespring en die vrou se selfoon geëis voordat hy twee skote op haar afgevuur het. Die skote het haar in die maag getref.

Die skieter het terug in die wit voertuig gespring en die voertuig het weggejaag. Die voertuig was egter kort daarna in ʼn ongeluk in Jacquesstraat, Moreletapark, betrokke.

Polisiebeamptes van die Garsfontein-polisiestasie wat in daardie stadium reeds van die skietery in kennis gestel is, het by die ongelukstoneel stilgehou en die drie verdagtes het uit hul motor gespring en weggehardloop.

Twee van die drie is egter kort daarna aangekeer en sal binnekort op aanklag van poging tot moord in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Die derde verdagte is egter nog op vrye voet.

Die vrou is ná die skietery per ambulans na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Ai, n lewe het so goedkoop geword…..Here wees SA genadig

Tino ·

Die godelose is volop!

Hulle ry in al die oop buurte in die ooste rond en soek vir geleenthede om enige iets te buit, veral karre selfone en laptops. Vir die krimenele is dit feestyd!

Laurika ·

Mens bestel juis kos in daai tyd van die aand omdat dit gevaarlik is om so laat in die aand rond te ry. Sjoe, dis darem erg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.