Vrou vertel ná verkragting: ‘Ek moes oorleef om my storie te vertel’

[WAARSKUWING] Die berig bevat ontstellende besonderhede en is nie geskik vir sensitiewe lesers of kinders nie.

Leilani Kuter. (Foto: Maroela Media)

Sy is vreemd genoeg eintlik dankbaar dat haar verkragter haar só hard gewurg het dat sy haar bewussyn verloor het. Nou hoef sy nie te leef met daardie beeld in haar geheue van hoe sy verkrag word nie.

Só vertel Leilani Kuter (45) oor die dag 27 jaar gelede toe haar lewe onherroeplik verander het. Sy was maar net 18 jaar oud, pas klaar met skool en vasbeslote om ʼn sukses van haar lewe te maak. Min het sy geweet watter donker dieptes sy eers sou moes deurgaan voor sy dié droom kon verwesenlik.

Kuter se glimlag kom maklik en is ooglopend opreg – ʼn eerlike glimlag wat tot by haar oë strek en geen aanduiding gee van dit wat sy al deur is nie. “Mense het al vir my gesê ek lyk nie soos ʼn verkragtingslagoffer nie, dan raak ek sommer vies. Hoe moet ʼn verkragtingslagoffer dan lyk?” vra sy fronsend.

Haar stem is sterk en beheers wanneer sy praat oor dáárdie dag. Net af en toe bly sy stil en kyk weg wanneer die trauma die knop in haar keel laat opdruk. Slukkie water, diep asemhaal, en dan vertel sy verder.

Dit was 16 September 1992. Sy het by die departement van finansies in haar heel eerste werk gewerk en in die destydse NG Kerk Jeugsentrum in Vermeulenstraat in die hartjie van Pretoria gewoon. Geld vir naskoolse studies was daar nie en die jeugsentrum het goedkoop verblyf aan studente en jong werkendes gebied.

Dit was ʼn Woensdag en sy het dié dag verlof ingesit om haar bonusgeld te gebruik om nuwe beddegoed te gaan koop om haar kamer in die jeugsentrum te verfraai. Sy onthou presies hoe die wit-rooi-en-swart duvetoortreksel wat sy gekoop het, gelyk het. Sy was só in haar skik.

Die middag het sy besluit om die meeste van die lekker lenteweer te maak en het ʼn paar uur by die openbare swembad gaan deurbring. Later het sy teruggestap jeugsentrum toe om in haar kamer te gaan wag vir Dewald, die jong man met wie sy teen daardie tyd al op ʼn paar afsprake was.

Op Kuter se deur was ʼn selfgemaakte kennisgewing wat sy gebruik het om aan te dui waar sy haar bevind. Almal by die jeugsentrum het sulke kennisgewings op hul deure gehad – dit was eintlik ʼn wedywering om te sien wie die mooiste kennisgewing kon maak. Wanneer sy uitgegaan het, het sy die pyltjie geskuif om te wys waarheen sy gaan. By die werk. In die badkamer. Uit saam met vriende.

Teruggekom van die swembad af, het sy die pyltjie geskuif: In die kamer.

Dit was omtrent 15:00 toe sy ʼn klop aan die deur hoor. Dit was nie Dewald nie. Die man by haar deur was jonk, seker in sy vroeë 20’s, en het hom as Frankie voorgestel. Hy het gesê hy is op soek na sy suster wat op dieselfde vloer bly, want hulle ouma is oorlede.

“Onmiddellik het ek ʼn gevoel van empatie gekry en vir hom gesê ek is baie jammer om dit te hoor. Maar ek kon hom nie help nie, want ek het pas na hierdie vloer toe getrek en ek het nog niemand op die vloer geken nie. Hy het gesê dankie en hy is daar weg.”

Sy het die deur op ʼn skrefie oopgelaat; Dewald sou nou enige oomblik daar wees. Die gang was doodstil, almal was by die klas of by die werk. Sy sou sommer kon hoor as Dewald aangestap kom.

Toe sy opkyk, staan “Frankie” in die deur. “Ek het geskrik. Ek het vir hom gesê my kêrel is op pad in die hoop dat hy sou loop. Dit was ‘n breukdeel van ‘n sekonde toe is hy binne en het hy die deur gesluit, en hy het op my gespring en my begin wurg.”

Sy onthou hoe sy geskree en terugbaklei het, hoe sy gedink het aan daardie mes in haar boonste laai, gewonder het of sy sou oorleef as sy twee verdiepings ver by die venster uitspring. Maar daar was geen wegkomkans nie.

Sy onthou die seer op Frankie se hand terwyl hy haar gedwing het om seksuele dade op hom uit te voer. Sy onthou die reuk van ou rook wat aan hom gekleef het. Sy het aangebied om die seerplek op sy hand skoon te maak in die hoop om tyd te wen. Wanneer kom Dewald nou dat hierdie nagmerrie kan eindig?

Maar Dewald het nooit gekom nie.

Frankie het haar op die bed gestamp en ʼn belt uit haar kas gebruik om haar te wurg. Dit is toe dat sy haar bewussyn verloor het.

Toe sy wakker word, het sy kaal op haar bed gelê met die belt steeds om haar nek. Die pyn wat deur haar lyf gepols het en die bloed op haar nuwe duvet, was duidelike bewys dat dit nie net ʼn nagmerrie was nie – dit het régtig gebeur. Op die vloer het Frankie se geel T-hemp gelê wat sy van sy lyf afgeskeur het soos sy met hom baklei het.

Die goedjies wat sy vroeër die dag gekoop het om haar kamer te verfraai het hy saam met ander items uit haar kamer gesteel.

Sy het regop gekom, haar klere aangetrek en in die gang in gestrompel. Iemand het die polisie gebel en die gang was eensklaps ʼn bynes van bedrywighede.

Sy sou later eers sien dat Frankie die pyltjie op haar deur se kennisgewing geskuif het om aan te dui dat sy uit is. En dit was jare later voor sy sou uitvind Dewald wás die dag daar, maar het omgedraai toe hy op die kennisgewing sien sy is uit.

Leilani Kuter. (Foto: Maroela Media)

Soeke na genesing

Die herstelpad ná die verkragting was moeilik, onseker en onvoorspelbaar. Kuter vertel sy kon tien jaar lank glad nie daaroor praat nie. Sy kon nie eers die woord oor haar lippe kry nie. Dit was “die insident” en daar was nie oor die insident gepraat nie. Nie eers haar ma het geweet wat presies daardie dag met haar gebeur het nie.

Dit was eers nadat sy die verrykingskursus Turning Point gedoen het, wat die muur binne haar begin verbrokkel het, wat sy tree vir tree nader aan genesing kon beweeg. “By hierdie kursus het ek ʼn man ontmoet wat al vrouens verkrag het. Ek het hom amper met my kaal hande doodgemaak, maar daarna het ons ʼn betekenisvolle pad saam gestap,” vertel Kuter.

“Ons het vir ʼn rukkie ʼn band gehad en kon praat daaroor. Dit klink nou onwerklik, maar ek glo God het ʼn plan met alles. Ek moes dalk in daardie stadium daar wees sodat hy kon besef watter skade hy gedoen het. En hy moes daar wees om my te help om tot by die punt van vergifnis te kom.”

Dit het baie berading en terapie geverg vir Kuter om tot die besef te kom dat niks hiervan haar skuld was nie. Die verkragting het nie gebeur omdat sy die deur op ʼn skrefie oopgelos het, of omdat sy die dag ʼn kortbroek aangehad het, of omdat sy te vriendelik met die vreemdeling by haar kamerdeur was nie. Sy het geen rede gehad om skaam of skuldig te voel nie.

“Ek het uiteindelik besef dat die Here ʼn doel hiermee het, dat ek hierdie gebeurtenis moet gebruik om ander te help,” sê Kuter. “Daarom het ek besluit ek wil hierdie jaar iets amazing doen. Omdat dit 27 jaar gelede gebeur het, gaan ek vir 27 dae elke dag 27 km stap, en toevallig is my verjaarsdag ook op die 27ste. Ek hoop ek kan hiermee vir mense sê, as jy deur so iets gegaan het, gaan kry hulp. As my storie ander mense kan help en ander kan inspireer om oor hulle ervarings te praat, dan dien ek my doel.”

Kuter wil ook graag tydens haar 27 dae lange staptog R150 000 insamel wat gebruik sal word om troospakkies vir verkragtingslagoffers aan te koop. Dié pakkies word onder organisasies versprei wat verkragtingslagoffers ondersteun en bevat items wat onmiddellike steun aan die slagoffers, veral kinders, kan bied ná ʼn verkragting, bv. skoon onderklere, sanitêre ware, iets om te eet en te drink, en ʼn sagte speelding vir die kinders.

Kuter sê sy onthou goed die koue, onpersoonlike prosedure wat volg ná ʼn verkragting. Terwyl jy eintlik net in ʼn bondeltjie wil opkrul en van die wêreld wegkruip, moet jy indringend deur dokters ondersoek word, DNS-monsters moet geneem word en polisieverklarings moet afgeneem word. Sy glo daarom dat dié troospakkies van groot waarde vir verkragtingslagoffers is.

Haar staptog sal op 16 September begin en op 12 Oktober by die Parkrun in Ruimsig tot ʼn einde kom. “Elke tree van my 729 km-reis sal wees in opstand teen die sistemiese geweld teen vroue en ter viering van ons gesamentlike oorlewingsgees,” sê sy.

Nee, sy kon nog nooit “die einde” skryf en hierdie verhaal heeltemal agter haar plaas nie. Haar verkragter is nooit gevang nie en tot dan, sal daar nooit finaal afsluiting wees nie. Sy hoop steeds dat hy gevang sal word. Vir haar is hierdie dossier nooit gesluit nie.

Maar sy is bewus van die groter prentjie, haar groter doel. “God het my gekies om hier te wees. Toe hy my daardie dag so gewurg het… Ek kon dood gewees het. Ek kon regtig dood gewees het. Maar ek moes bly, ek moes hier wees om my storie te vertel.”

Besoek die BackaBuddy-webtuiste om meer oor Leilani Kuter se veldtog te lees en by te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

George in Bloem ·

Wat ‘n dapper dame en duidelik is haar geloof haar anker en Hy is haar Rots. Baie sterkte en beste wense word jou toegewens op jou pad voorentoe. Daar sal talle wees wat baat sal vind by jou storie en vir wie jy ‘n wonderlike voorbeeld is en sal wees.

A-nee-a ·

Hiermee hoop ek elke verkragter wat nooit gevang is nie omdat die slagoffer te bang is om te praat, vir die res van sy lewe in vrees sal wees vir die dag wat sy dade hom dalk sal inhaal. Soveel lewens is al verwoes……..

CHAPPIES ·

FANTASTIESE DET TERAPIE VAN FRANS EN SARIET VAN KEERPUNT/ TURNING POINT BEDIENING IN PTA

Bianca ·

Sooo dankbaar, jys nou volkome vry en kán dit déél en andere ook bedien!
Welgedaan aab jou Leilani en DANKUE DAT U haar Genees het,alle eer aan U

Leslie ·

Met alles wat in hierdie tye gebeur is hierdie gebeurtenis deesdae alledaags. Niks ontstellends nie!
Die dame het herstel, en is pragtig.

Deloris ·

Sterkte word jou toegewens. Jy is voor waar n Engel wat God gebruik om ander te help. Mag jy vrede en rustigheid vir eweig in jou binneste ervaar.

Jerry ·

Dit is baie sleg wat met jou gebeur het. Dit het jou jongmens lewe vir tien jaar lank in trauma vasgevang, maar deur God se liefde en genade het jy n sterker vrou daaruit gekom, spesifiek om jou storie te kan vertel en om die groter doel te dien. Jou verhaal en oorlewingsgees gaan nog baie mense inspireer tot bekering in God se liefde en genade! Ek glo en vertrou dat jy die nodige ondersteuning van mense gaan kry met die staptog wat jy gaan aandurf. Voorspoed en sterkte! Jy is n Survivor!

Veer ·

Respek Leilani! Jy is die mooiste vrou, ek kan nie glo jy is al 45 nie!

Nicolas ·

Ek het ook in daardie tyd in die Jeugsentrum gewoon en onthou dit. Dit was n tragiese gebeurtenis. Ek is so baie bly om te sien sy is OK en wat sy nou doen. Ek het baie respek vir jou Leinani en baie voorspoed vorentoe.

$ ·

Dis steeds ontstellend al is dit deesdae alledaags.
Mag ons nooit só afgestomp word deur misdaad dat ons ons omgee vir mense verloor nie.

AmY ·

Leilani, baie sterkte met hierdie projek van jou. Ek glo dit gaan ‘n reuse sukses wees.
En baie sterkte ook op jou pad vorentoe.

Ilse ·

Ek het ook daardie tyd in dieselfde jeugsentrum gebly en nie geweet van die vreeslike insident nie – dis groot skok om te weet dat so iets daar gebeur het. Ons ouers het ons daar laat bly omdat mens gedink het dit was veilige hawe – dankbaar dat jy sover gekom het – baie sterkte vir jou

Rika ·

So jammer dit het met jou gebeur sterkte vorentoe en mag jy n volle lewe lei

M ·

Dankie vir jou dapperheid, Leilani, om jou storie te deel, en dat jy wil help en ‘n verskil wil maak. Ek wil egter duiwelsadvokaat speel deur die volgende kommentaar te gee:

Niemand sê “O nee, dit gaan nooit weer gebeur nie!” In plaas daarvan om te sê hierdie is nou oor en uit vir altyd, maak ons van slagoffers “heldinne” en sit ‘n groot aksie aan die gang om geld in te samel vir nog slagoffers. Hierdie soort optrede sê eintlik: “Dis okay! Gaan voort met die verkragtings! Ons gaan julle tog kry, ou maat – ons gaan gelukspakkies vir die slagoffers gee!”

Die doel van hierdie kommentaar is nie om enige iemand seer te maak nie, dit is om te wys hoe die gemeenskap in werklikheid GEEN manier het om geweld teen vroue te staak nie. Daar word maar so al om die verkragtings en geweld gedans en getroos terwyl die misdaad self sy volle magsposisie behou.

AM ·

Ek verstaan wat jy bedoel M. Dit is verskriklik om te moet redeneer dat dit weer en weer gaan gebeur en troospakkies gemaak gaan word. Maar dit ís ook nou werklikheid en die troospakkies is darem íéts, al gaan dit nie die tipe misdaad verminder nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.