Vrou, vlieënier en vurig oor wildbewaring

Jana Meyer (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die bos was nog altyd in Jana Meyer se bloed. Natuurbewaring bruis in haar are.

Vandag is dié dapper ystervrou een van net ʼn handvol wat wildbewaring vanuit ’n helikopter doen. Sy word ook gereken as die enigste vrou in die land wat oor toerusting beskik om in die nag bewaringswerk te kan doen.

“Dit het spreekwoordelike bloed, sweet en trane geverg sodat ek as vrou in ’n dominante mansbedryf gerespekteer en vertrou kan word… Die skeptisisme is soms steeds daar, veral as mense nie vertroud is met jou vaardighede nie. Dit is asof mense nie kan kop dat ’n vrou kan doen wat ek doen nie,” vertel Meyer.

Maroela Media het Meyer by haar vliegtuigstoor op Hoedspruit, Limpopo, besoek. Binne is ʼn klein sitkamer, kombuis, slaapkamer en badkamer. Meyer noem dit haar “huis weg van die huis”.

“Ek wil graag naby my helikopter wees sodat ek onmiddellik kan reageer indien iemand my dienste benodig.”

Passievol oor natuurbewaring

Meyer in aksie in die lug (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Meyer vertel sy wou van kleins af ’n wildbewaarder word en het gereeld saam met haar ouers wildplase en die Krugerwildtuin besoek.

Ná skool wou sy met alle mag natuurbewaring gaan studeer, maar haar pa wou aanvanklik niks weet nie.

“Hy het vir my gesê: ‘Nee my kind, daar is nie geld in daardie bedryf nie.’ Ek was egter vasbeslote om dit te studeer en ek hét.”

As deel van die drie jaar lange kursus, het Meyer in haar laaste jaar – as deel van haar praktiese ondervinding – as wildvangstudent saam met die Krugerwildtuin se wildvangspan gewerk.

“Die wildtuin was ’n jaar lank my tuiste.”

Sy het een keer saam met die wildvangspan in ’n helikopter gevlieg terwyl hulle buffels gevang het. En net daar het die helikopter-gogga haar ook gebyt.

“Ek het net daar en dan besluit ek wil ook wildbewaring vanuit ’n helikopter doen. Ek het oor lugvaart gaan oplees, ’n lening aangegaan en met die Here se genade my vlieglisensie gekry.

“Die werk het werklik eers begin toe ek my lisensie gekry het, want toe moes ek begin ervaring opbou. Ek moes op ’n punt kom waar mense my agter die stokke vertrou.”

Meyer het vir verskeie instansies wildwerk gedoen, maar het gou besef dat sy nie haar “visie van bewaring” uitleef soos sy wou nie. Ná ’n lang en harde pad het Meyer in 2018 haar eie onderneming, Hope for Wildlife Helicopter Services, op die been gebring.

Meyer se helikopter wat sy in Desember verlede jaar gekry het (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Die feit dat ek toe nog nie my eie helikopter gehad het nie, het my wel ʼn bietjie gekniehalter. Ek moes altyd helikopters huur, wat soos ’n lucky packet is – jy weet nie wat jy kry nie.

“Ek het vir lank een helikopter gehuur, maar dié het later probleme gegee en is verkoop. Dit was ’n groot terugslag, want toe sit ek lank sonder vlerke.”

Net daarna word die stoor wat Meyer gebruik het boonop verkoop, en moes sy haar elders gaan vestig.

“Ek het wel uit die terugslae geleer dat dit ’n mens vir iets ‘beter’ voorberei.”

Goeie vriende van Meyer het haar verlede jaar gehelp om die vliegtuigloods wat sy nou gebruik, te bekom. In Desember het Meyer, met die hulp van Serondella Safari Lodge wat een van haar kliënte is, haar eerste helikopter gekoop.

“Serondella deel dieselfde passie vir bewaring as ek en het besluit om my te ondersteun in dit wat ek wil doen.”

Maak verskil

Meyer woon in haar hanger om naby haar helikopter te wees (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Meyer het nou al wyd en syd naam gemaak en word as een van die “beste vlieëniers” in die Hoedspruit-omgewing beskou.

Sy is omtrent daagliks in die lug besig met wildbewaringswerk; hetsy om wild wat uitgebreek het terug in hul kampe te jaag, of te help met verdowing en die vang van diere.

Haar vaardighede word gereeld ingespan by renoster-onthoringsprojekte en sy het al tot 80 renosters in twee weke gehelp vang sodat die majestueuse diere onthoring kan word.

Maroela Media het vroeër berig die onthoring van renosters, saam met die aanwend van tegnologie en gemeenskapsbetrokkenheid, gee die deurslag vir die afname in renosterstropery in die Krugerwildtuin en die Groter Kruger-gebied.

Haar helikopter word gereeld na teenstropingsoperasies ontplooi – in samewerking met die plaaslike buurtwag in Hoedspruit en die polisie – om meestal renoster- en ietermagog-stropers vas te trek.

Meyer verduidelik tydens ’n stropingsoperasie werk sy nou saam met die grondspanne en sê hulle is afhanklik van mekaar se ondersteuning.

“Die grondspanne sal die helikopter in ʼn gebied inpraat. Die grondspanne dra omgedopte hoede op hul koppe, met ʼn helder oranje merk bo-op sodat ek hulle met die eerste oogopslag kan sien. Hulle sal soms ook ʼn wit lap in die lug hou vir identifikasie.”

Meyer verduidelik stropers wil nie hardloop wanneer die helikopter bo hul koppe vlieg nie, en verkies om dan eerder weg te kruip. “Op hierdie manier maak ek die stropers stadig sodat die grondspanne die stropers kan inhaal.

Meyer verduidelik tydens ’n stropingsoperasie werk sy nou saam met die grondspanne en sê hulle is afhanklik van mekaar se ondersteuning (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Die slegte deel is wanneer daar klaar skote geklap het en ons dan op karkasse afkom. Ons sal dan vandaar spore volg en die stropers probeer vastrek.”

Sy word ook ontbied om gebiede te patrolleer om op die uitkyk te wees vir verdagte bedrywighede.

“Reservate se grondspanne sal my inlig dat daar draad geknip is of verdagte voetspore opgemerk is, wat ek dan sal opvolg.”

Meyer het ook al saam met die polisie gewerk om vermiste persone op te spoor en gesteelde voertuie te soek. Met die onlangse vloede het Meyer gehelp om mense wat in lodges en reservate weens vloedwaters vasgekeer was, na veiligheid te neem.

Meyer se nagsigbril maak haar veral gewild as vlieënier omdat sy dan snags op voorvalle kan reageer en patrollies kan doen.

Sy doen ook private vlugte vir diegene wat die Blyderivier-canyon uit die lug wil verken. Dié vlugte gee ʼn broodnodige finansiële inspuiting.

Uitdagings

Hope for Wildlife Helicopter Services fokus op die bewaring van wild (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Naas die finansiële uitdagings verbonde aan Meyer se werk, plaas sy ook haar lewe op die spel wanneer sy gevaarlike projekte aanpak.

“Met teenstropingsprojekte vlieg ek gewoonlik met ’n koeëlvastebaadjie en ’n plaat onder my sitplek, vir as die stropers op die helikopter losbrand. Daar was al gevalle waar ek stropers gejaag het en hulle my uit die lug kon skiet.”

Ondanks die feit dat Meyer se lewe al telkemale in gevaar was, is sy nooit bang wanneer sy ’n operasie aanpak nie.

“As jy bang is vir iets, gaan jy seerkry – veral as dit by vlieg kom. Jy moet met selfvertroue in die operasie ingaan… Maar daar is ’n fyn lyn tussen selfvertroue hê en roekeloos wees, onbewus van jou risiko’s.

“Tydens krisisbeheer moet jy kophou, want lugvaart is onvergewensgesind. Jy kan nie nalatig wees nie en kan sterf as jy jou helikopter sonder respek hanteer.”

Ongunstige weersomstandighede kelder soms Meyer se ekskursies.

“Ek kan nie in situasies invlieg waar ek nie die grond kan sien nie. Reënweer is ook nie goed nie omdat dit die verf van die helikopter se lemme afwas. Helikopters hanteer egter wind goed.

Behalwe dat Meyer ’n puik wildbewaarder is, is sy ook ma van ʼn 14-jarige tweeling.

“Dit is uitdagend om my persoonlike en beroepslewe te balanseer omdat ek op sulke onverwagse tye uitgeroep word. Die bewaringswerk is ook stresvol en behels lang ure.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lakemalawi ·

Dis nou ‘n regte “feel good” storie vir ‘n verandering, dankie!

Michele ·

Baie respek maar sy is nie die enigste vrou nie met toerusting. Michelle Hurley vlieg elke dag om agter renosters te kyk en seker te maak dat stropers nie naby ons renosters kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.