Vrou wag ná 8 jaar steeds vir ’n nier

Van links: Belinda, Braam en Bernadine Blom (Foto: Verskaf)

Belinda Blom (52) van Pretoria probeer hoopvol bly dat sy ná agt jaar eindelik ’n suksesvolle nierskenking sal ontvang. Intussen werk haar man en dogter hard om bewusmaking te skep oor orgaanskenking en só die waglys te probeer verkort.

Blom se man, Braam (55), het in 2012 een van sy niere aan haar geskenk, maar haar liggaam het dié orgaan twee jaar later verwerp.

Belinda ontvang vanaf 2014 drie keer ’n week dialise en wag sedertdien vir ’n tweede nieroorplanting.

Volgens die egpaar se dogter, Bernadine (24), is daar dalk nou ’n moontlike nier vir haar ma beskikbaar, maar dit is nog te vroeg om te sê of die oorplantingsproses suksesvol voltooi sal word.

“Daarom raak ons nog nie té opgewonde nie, want dalk word die oorplanting nie werklikheid nie,” sê Bernadine.

Volgens die dogter het moontlike skenkers die afgelope agt jaar gekom en gegaan, maar weens verskeie redes het nie een werklik uitgewerk nie.

Die gesin probeer positief bly en nie moed verloor nie en glo daar sal ’n skenker kom. Dit is die een rede waarom sy en haar pa die Ride for Hope-bewusmakingsveldtog van stapel gestuur het.

Die veldtog is om mense aan te spoor om orgaanskenkers te word en ook diegene wat op ’n waglys vir ’n orgaanoorplanting is, hoop te gee.

Die eerste veldtog is in November 2018 van stapel gestuur toe Braam sowat 1 800 km met ’n bergfiets afgelê het, deur van die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria al die pad na die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad fiets te ry (Foto: Verskaf)

Die eerste veldtog is in November 2018 van stapel gestuur toe Braam sowat 1 800 km met ’n bergfiets afgelê het, deur van die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria al die pad na die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad fiets te ry. Bernadine het ter ondersteuning in ’n motor agter hom aangery.

“Met die inisiatief het ons gehoop om die waglys korter te maak, al is dit nie net vir my ma nie, maar ook vir ander mense.”

Pa en dogter het daarna in 2019 en 2020 saam met ’n groep van sowat 100 mense aan die Warrior Race vir dieselfde doel deelgeneem.

In April vanjaar het hulle weer dié hindernisbaan-wedloop saam met ’n groep van ongeveer 30 ondersteuners aangepak.

Die groep het hempies gedra waarop staan “Be a hero. Be an organ donar warrior”, saam met die kenteken van die held, Superman. Die hempies is geborg deur die Noordwes-Universiteit (NWU), die Urologie-hospitaal in Pretoria en die Orgaanskenkerstigting.

Hulle wil “groot gaan” met die Warrior Race wat op 1 Oktober plaasvind.

“Ons mik om minstens 100 mense te kry wat saam met ons aan die kompetisie sal deelneem.”

Augustus was Nasionale Orgaanskenker-bewusmakingsmaand en die departement van gesondheid het Suid-Afrikaners opnuut aangemoedig om orgaanskenkers te word.

Volgens die departement was daar teen Augustus vanjaar sowat 2 780 mense op die waglys vir orgaanskenking en -oorplantings wat nier, lewer, hart en long insluit. Dít terwyl slegs 0,2% van Suid-Afrika se bevolking geregistreerde orgaanskenkers is.

Altesaam 189 mense het die afgelope jaar hul lewe verloor terwyl hulle vir ’n orgaan gewag het.

“Mense registreer nie as skenkers nie omdat hulle nie besef hoe groot die nood werklik is nie,” sê Bernadine.

Volgens die departement groei hierdie waglyste toenemend, terwyl meer mense, onder wie jong kinders, daagliks sterf terwyl hulle vir lewensbelangrike organe wag.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die Transplant Education for Living Legacies, is ’n nier die orgaan wat die meeste deur ’n lewende skenker geskenk word.

“10% van alle mense in die wêreld het die een of ander vorm van niersiekte, met meer as 2 miljoen mense wêreldwyd wat dialise ontvang of met ’n nieroorplanting saamleef,” lui die verklaring.

“In Suid-Afrika word 15% van alle Suid-Afrikaners deur ’n niersiekte geraak. Altesaam 20 000 nuwe pasiënte word elke jaar in Suid-Afrika gediagnoseer. Suid-Afrika het een van die hoogste syfers van eindstadium-nierversaking in die wêreld.”

Twee hoofoorsake van chroniese niersiekte is diabetes en hoë bloeddruk.

Volgens die organisasie is Suid-Afrika een van 12 Afrikalande wat nieroorplantings doen, en dit is die enigste land in Afrika wat staatmaak op skenkings van oorledenes vir die meerderheid van sy oorplantings.

Die eerste nieroorplanting in Suid-Afrika het in 1966 plaasgevind, ’n jaar voor die eerste hartoorplanting. Die eerste dialise is in 1957 deur ’n algemene praktisyn gedoen wat sy eie dialisemasjien gebou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.