Vrou wreed op skoolterrein verkrag

Johan en Bonita Engelbrecht. Foto met vergunning van Die Pos.

Johan en Bonita Engelbrecht. Foto met vergunning van Die Pos.

ʼn Vrou wat byna twee weke gelede wreed in haar huis op die skoolterrein van die Settlers Agricultural High School verkrag is, het gesê sy glo vas die traumatiese voorval was ʼn haatmisdaad.

Bonita Engelbrecht (55) het Maandag aan Maroela Media van die grusame ervaring vertel wat haar lewe vir altyd onherroeplik verander het. “Ek wou eers stilgebly het hieroor. ʼn Mens kry maar skaam en ek wou nie hê mense moet hiervan weet nie. Maar toe dink ek, hoekom moet ek stilbly? Ek moet hieroor praat. Dit is nie lekker om daaroor te praat nie, maar mense moet weet sulke goed gebeur,” het Engelbrecht gesê.

Engelbrecht se man, Johan (55), doen instandhoudingswerk by die Settlers Agricultural High School en die egpaar woon al die afgelope tien jaar in ʼn huis op die skoolterrein. Sy het die aand van 16 Februarie seker gemaak al die deure in die huis is gesluit voordat sy gaan slaap het. Sy was die aand alleen by die huis aangesien Johan in Polokwane was om die egpaar se motor te laat herstel.

Die aanvallers het glo die agterdeur van die huis se skarniere losgeskroef om die deur te verwyder en toegang tot die huis te kry. Foto: Verskaf

Die aanvallers het glo die agterdeur van die huis se skarniere losgeskroef om die deur te verwyder en toegang tot die huis te kry. Foto: Verskaf

“Ek het al klaar geslaap toe ek wakker geword het van [die aanvallers] wat my aan my voete gryp. Hulle het my daarna met ʼn harde voorwerp uitgeslaan,” het sy gesê. Volgens Engelbrecht weet sy daar moes meer as een aanvaller gewees het, maar sy is nie seker hoeveel van hulle in die huis was nie.

Toe sy haar bewussyn herwin, het sy besef die aanvallers het haar hande en voete vasgebind. Sy kon daarin slaag om ʼn vriend van haar skoonsuster te bel en het probeer verduidelik wat gebeur het, maar die aanvallers het weer die kamer binnegekom en haar foon stukkend getrap. Hulle het haar daarna weer met ʼn voorwerp oor die kop geslaan en sy het weer haar bewussyn verloor.

Toe Engelbrecht weer wakker word, was haar skoonsuster by haar en het sy reeds die polisie en ambulansdiens ontbied. Engelbrecht sê sy was “gelukkig” om nie by haar bewussyn te wees toe sy verkrag is nie. “Ek het die boodskap wat hulle my wou gee egter duidelik gehoor terwyl ek nog by [my bewussyn] was. Hulle het gesê, ‘This is a message for Mr Engelbrecht to f*** off from Settlers’,” vertel sy.

ʼn Mediese ondersoek het later glo getoon dat Engelbrecht onder meer met ʼn huishoudelike voorwerp verkrag en inwendig beseer is. Sy het erge beserings aan haar gesig opgedoen en is ook met ʼn skerp voorwerp oor haar bors gesny.

Vrees vir hul veiligheid

Volgens Engelbrecht is dit nie die eerste keer dat die egpaar gedreig is nie. Sy vertel dat hulle voorheen ʼn brief ontvang het wat saamgestel is deur letters uit tydskrifte in woorde te plak. Die brief het glo gelui: “Your wife and your dog are not safe. You must f**k off.” Sy sê daar is ook voorheen ʼn baksteen deur een van hul huis se vensters gegooi.

Volgens Engelbrecht is daar nie konflik tussen haar man en iemand by die skool nie en verstaan hulle nie hoekom hulle so gedreig word nie. “Settlers was altyd ʼn fantastiese landbouskool, maar het geleidelik agteruitgegaan. Tans werk daar net vier wit mense by die skool en ek glo hierdie aanval was rasgedrewe. Hulle wil al die wit mense weg hê hierso.”

Sy sê ook dat hulle nog geen ondersteuning van die skool of die departement van onderwys ontvang het sedert die voorval nie. “Niemand van die skool het my eens genader om hul meegevoel te betuig nie. Hulle hoef dit seker nie te doen nie, maar dit sal darem net menslik wees, of hoe?”

Die Engelbrecht-egpaar se huis op die skoolterrein van die Settlers Agricultural High School. Foto: Verskaf

Die Engelbrecht-egpaar se huis op die skoolterrein van die Settlers Agricultural High School. Foto: Verskaf

Sy dink dit is onaanvaarbaar dat die veiligheid by die skool só swak is dat so iets op die terrein kon gebeur. Volgens Engelbrecht se skoonsuster wou die veiligheidswag aan diens ook nie saam met haar in die huis ingaan nadat sy na die egpaar se huis gehaas het omdat sy onraad gemerk het nie. “My skoonsuster het nie geweet of die aanvallers nog in die huis was of wat aangaan nie. Maar sy moes self in die huis ingaan, die veiligheidswag wou nie saam met haar stap nie,” het Engelbrecht gesê.

Sy en haar man beplan om die skool, die departement van onderwys en die veiligheidsmaatskappy wat die skoolterrein oppas te dagvaar oor wat gebeur het.

ʼn Woordvoerder van die skool het alle navrae van Maroela Media na die provinsiale departement van onderwys verwys.

Dr. Naledzani Rasila, woordvoerder van die departement, het by navraag ontken dat die skool nog nie met die Engelbrecht-egpaar kontak gemaak het nie. “Die skoolhoof en die onderwysers by die skool tree in so ʼn geval namens die LUR en die hoof van die departement op. Hulle was in aanraking met die slagoffer en na gelang van die gesprekke met die slagoffer, sal die skool aandui of hulle ondersteuning van die departement af nodig het en die saak na ons verwys moet word,” het Rasila gesê.

Op ʼn vraag of die skool enigiets gaan doen om veiligheidsmaatreëls by die skool op te skerp, het Rasila geantwoord dat misdaad nie tot een instansie beperk kan word nie. “Wanneer daar ʼn misdaad plaasvind, laat ons dit oor aan die polisie om dit te hanteer. Veiligheid is nie die verantwoordelikheid van een instansie nie, maar die hele gemeenskap as ʼn geheel. Ons soek nie misdadigers in ons skole nie en daarom doen ons ʼn beroep op die gemeenskap om die polisie by te staan in hul ondersoek deur wenke en inligting aan hulle deur te gee.”

Rasila het verder gesê hy is nie bewus daarvan dat die Engelbrecht-egpaar al vir ʼn geruime tyd dreigemente ontvang nie en het gesê indien hulle bedreig voel, moet Johan dit by die departement en die polisie aanmeld.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn saak deur die polisie ondersoek word. Hy het gesê die verdagtes is nog soek. Enigiemand met inligting kan hul naaste polisiestasie of ao. Shitlhane by 071 355 0566 bel.

Intussen het Engelbrecht aan Maroela Media gesê dat die egpaar nie van plan is om van die skoolterrein af te trek nie. “Hoekom sal ek hulle nou die bevrediging gee om te gaan? Dit is tog wat hulle wil hê. Waarheen sal ons ook gaan? Ons ouderdom tel teen ons, waar gaan ons nou weer werk kry? Ons moet ook aan ons pensioen en ons aftrede dink.”

Sy sê hulle het wel die veiligheid by die huis opgeskerp en maak seker dat al die deure en vensters altyd gesluit is. “Ek en Johan is altyd by mekaar, maar ons het daardie aand nie ʼn keuse gehad nie, want hy moes die motor laat regmaak. Ek was besig om koekies vir die skool te bak en daarom kon ek nie saamgaan nie. Dit is ook ʼn inkomste vir my. Dit maak my eintlik nog bitterder, want ek weet nie of dit dalk een van die kinders is vir wie ek koekies bak nie … Maar ek kan nie stilbly nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jean

Janee so verontskuldig almal hulleself. Natuurlik is jy verantwoordelik vir die veiligheid van die mense op jou terrein, veral as hulle al dreigemente ontvang het. Natuurlik moet jy verantwoordelikheid neem vir wat op skoolgronde gebeur, wat as dit met ‘n skooldogter gebeur het, sou julle dieselfde houding gehad het, of is dit net omdat dit met ‘n wit vrou gebeur het? Die wiel draai ou mater, more as dit een van die kinders is gaan hulle daardie skool vernietig, bande brand en KLIPGOOI .. DAGVAAR hulle mnr en mev Engelbrecht, vat wat julle kan van mense wat NIKS omgee vir… Lees meer »

Carl

Ek bly al 15 jaar nie meer in SA nie maar besoek nog gereeld. Inteendeel ek het selfs n paar jaar terug n kantoor oopgemaak en in SA belê en verskaf 30 persone werk. Misdaad gebeur met alle SA-ners en almal in SA verdien baie beter veiligheids en Staats dienste. Wit mense is beslis nie net meer deel van gewone misdaad nie en word openlik deur politieke leiers in die breë aangeval en dit laat die misdadigers en slegte persone beslis met meer geweld optree. Ek glo julle almal weet dit maar ek weet nie wat julle kan doen nie.… Lees meer »

janee

Mev jy het niks om oor skaam tevoel rakende die verkragting nie -jy het NIKS verkeerd gedoen nie -jy was n slagoffer van n verskriklike misdaad. Ek dink jou vermoede dat dit rasgedrewe is is is korrek …verbaas dit ons Nee glad nie..baie sterkte

Mielie

Noem die naam van die veligheids maatskappy vir wie die sekurireitswag werk asb

Boer

Ja asb gee die naam. Dit is n skande voor die Here om n ou mens so te vernie.
Ek wonder wat gaan die skool daaroor doen?????