Vroue-akademici brand uit tydens inperking-tuiswerk

(Argieffoto: Facebook)

Terwyl die streng inperkingstyd tydens die Covid-19-pandemie – toe miljoene mense noodgedwonge van die huis af moes werk – “alles onder een dak ingeprop het”, sê talle vroue-akademici hulle het in dié tuisbly-werktyd heeltemal uitgebrand.

Nuwe navorsing wys dat die huiswerkery vir baie Suid-Afrikaanse vroue-akademici in ʼn “nagmerrie” ontaard het in die eerste ses maande van die grendeltyd wat in 2020 ingestel is.

“Hoër werkladings, huishoudelike druk en onvoldoende werkspasie het van die huis ʼn meer stresvolle plek gemaak en hulle uitgebrand laat voel,” het die navorsers bevind.

Die studie het onlangs in die portuurbeoordeelde vaktydskrif PLoS One verskyn en is gedoen deur dr. Cyrill Walters en prof. Jonathan Jansen van die Universiteit Stellenbosch, prof. Linda Ronnie van die Universiteit van Kaapstad en dr. Samantha Kriger van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie. Die opname is onder meer as 2 000 vroue-akademici by al 26 openbare universiteite gedoen.

“Gedurende die grendeltyd was die huis nie daardie skuilplek teen die eise en wanorde van die wêreld daarbuite nie. Pleks daarvan het dit ʼn vol en oorlaaide plek geword waarin talle ander funksies – van tuis- en aanlyn onderrig tot nuwe administratiewe take – uitgevoer moes word, soms sonder enige hulp van andersins betroubare lewensmaats, huiswerkers of uitgebreide familielede,” het hulle bevind.

Dit het ʼn nadelige uitwerking op akademiese uitset, produktiwiteit of toewyding gehad. Een akademikus sê die tuiswerktydperk het die “grense tussen werk en huis laat vervaag”. Nog ʼn vrou sê “dit het meer ʼn situasie van leef-by-die-werk as werk-van-die-huis-af geword”.

Die omstandighede het tot groter gesondheidsprobleme gelei, met verskeie vroue wat ook aangedui het dat hulle groter angstigheid, finansiële probleme en hartseer gevoelens begin ondervind het. In sommige gevalle het die groter werklading, tesame met die druk van meer huishoudelike take, tot angsaanvalle gelei.

Sommige vroue het negatiewe gevoelens jeens hul werk begin ontwikkel en geen vreugde meer daarin gevind nie. Een akademikus beskryf dit selfs dat sy voel of sy “emosioneel mishandel” is.

Ma’s kry baie swaar

Akademici wat ook ma’s is, het veral swaar gekry terwyl hulle van die huis af moes werk.

“Kinders se teenwoordigheid het die huis as werkspasie ernstig in die gedrang gebring omdat jong kinders die teenwoordigheid van hul ma by die huis as ʼn teken van toeganklikheid en beskikbaarheid gesien het. Een vroeëloopbaan-akademikus en ma van ʼn peuter en ʼn kleuterskoolkind het beskryf hoe hierdie dinamika ‘konsentrasie verlaag’ en ‘onvoldoende tyd vir akademiese werk’ meebring.

“ʼn Gevestigde akademikus en ma van ʼn senior hoërskoolkind het opgemerk dat ‘pligte professioneel uitgevoer moet word in ʼn huishoudelike spasie wat deur onderbrekings en voortdurende eise gekenmerk word’,” lui die navorsing.

Die lang tye tuis – inperking, saamwoon en saam werk – het ook verhoudingskade veroorsaak en in sommige gevalle tot agteruitgang in die verhouding gelei.

Vroue-akademici het hul eie beroepsdoelwitte uitgestel en enigiets wat nie werklik noodsaaklik was nie, opgeskort om beheer van huishoudelike pligte te neem.

“Namate vroue hul akademiese werk op hierdie manier as prioriteit afgeskaal het, of alternatiewelik probeer het om elke persoonlike én professionele doelwit te haal, het talle óf uitgebrand óf soos mislukkings gevoel ‘omdat hulle nie alles kon behartig nie’.

“Terwyl talle deelnemers in detail beskryf het tot watter uiterstes hulle gegaan het om spertye te haal, hul gesinne gelukkig te hou, hul huise in stand te hou en objektief te presteer, het hulle dikwels die chaos geïnternaliseer wat in hul huisspasie ontstaan het en dit as ʼn bewys voorgehou dat hulle inderdaad nié suksesvol was nie.”

Erken vroue se rol

(Foto: Nathan Dumlao/Unsplash)

Die navorsers sê tersiêre instellings moet voortaan die geslagsgebaseerde aard van die huis as werkspasie as ʼn “talentbestuurskwessie erken en prioritiseer”.

“Die betekenis van huis kan nie verduidelik word buite die geslagsongelykhede wat die toewysing en verstaan van ‘werk’ tussen vroue en hul maats verdeel nie.

“As hulle van die huis af moet werk, sal die meeste vroue-akademici die ongelykhede in verwagtinge en verpligtinge moet hanteer op maniere wat hulle nie andersins in ʼn nie-huishoudelike, professionele omgewing sou nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Perdeby ·

Jammer, maar dit is nie die waarheid nie. Wat van mans wat ook van die huis afgewerk het, wat ook alleen ouers is.

Nettie ·

Hierdie navorsing het spesifiek oor VROUENS gegaan, nou is dit onwaar omdat dit nie vir enkel-Pa’s geld nie?

SLEGS vrouens is uitgevra oor hul ondervindings tydens die tydperk.
Ek kan net my kop skud oor die swak lees begrip.

Ronel ·

Watse nonsens is dit? Monde is elke dag groot – hulle wil gelyk gestel word aan die man en nou kan hulle nie die “punch” vat nie.

Nettie ·

Sjoe Ronel. Is jy getroud? Het jy kinders van verskillende skoolgaande ouderdom? Moes jy hulle skielik aanlyn help skoolgaan, TERWYL jy ‘n voltydse werk van die huis af moes uitvoer wanneer dit nog nooit gedoen was nie en als dus nuut was sonder handleiding of hulp?

So skielik was jou huis ook jou werksarea en jou kinders se skoolarea, en jy moes jou studente van die huis af onderrig (dosente/akademici), terwyl jy ook jou skoolgaande kinders moes help om van die huis af skool te gaan. Dis waaroor die studie gegaan het.

Wynand ·

Mense dis waar ek werk van die huis af dit brand jou uit man of vrou dis vir ieder die selfde maar dan moet pligte van werk skei

Santie Gildenhuys ·

Sinvolle, maar nie genoegsame navorsing nie. Sluit ander scenario’s ook in by studie, bv. enkelvaders, tuisteskeppers, beroepsvroue uit verskillende sektore, bv. noodsaaklike dienste tydens Covid, die onderwyserssektor, persone wat hul werk verloor het of wie se vergoeding gesny is., ens. Ek as enkelouer van volwasse kinders uit die huis en ervare opvoeder, het floreer tydens inperking. Daar was geleentheid vir kreatiwiteit tydens virtuele – of aanlyn lesaanbieding. My skoolroetine van jare was onderbreek en die later opstaan soggens was ‘n seën. Vir my was die ervaring so positief dat ek vroeër afgetree het en nou vryskutwerk doen.

Goldy ·

So sou vroue beter af gewees het om nou nog oor kinders op en aflaai te bekommer, die duur rit in dik verkeer geniet het as n uitstappie? Geklike metodes en gevolgtrekkijgs.

Delia ·

En nou, na die navorsing, wat nou. Is daar werkbare doelwitte gestel. Sinvolle voorstelle? Of was die navorsing maar net tydmors.

Wildemien ·

Ja, ons weet (alle) akademici by universiteite het hulle professionele werksuitstette afgeskaal. Om die waarheid te sê, baie van hulle “werk” NOU nog van die huis af sonder om eens ‘n epos te beantwoord. Skokkend hoe dit by universiteite gaan op die oomblik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.