Vrouewedloop bly in slag oor taxi-staking

(Foto: Women’s Race/Facebook)

Die Totalsports-vrouewedloop wat Woensdag in Kaapstad sou plaasvind, is weens die voortslepende taxi-staking gekanselleer.

Volgens die organiseerders het hulle die afgelope paar dae die staking mooi dopgehou en alle moontlike scenario’s oorweeg.

“Ná intensiewe beraadslaging met al die belanghebbendes is ons jammer om u mee te deel dat ’n besluit geneem is om die vrouewedloop te kanselleer,” het die organiseerders in ’n Facebookplasing gesê.

Volgens die organiseerders is die kansellasie genoodsaak omdat die staking ’n ernstige veiligheidsprobleem vir alle hardlopers, werkers en verskaffers van die byeenkoms inhou.

Die wedloop is ook gekanselleer weens die gebrek aan openbare vervoer en die gepaardgaande gevaar vir alle deelnemers wat Woensdag by die versamelingspunt moet byeenkom en by die geleentheid self moet uitkom.

“Sodra ons duidelikheid het oor die einde van die staking, sal die nodige aangepaste inligting aan alle deelnemers wat nie hul wedlooppakkette kon afhaal nie, binnekort deur middel van ons sosialemediakanale en SMS’e gedeel word.”

Die organiseerders sal deelnemers ook op die hoogte hou sodra daar op ’n nuwe datum besluit is om die wedloop te hou.

“Dit was ’n uiters moeilike besluit vir almal betrokke, maar as organiseerders, borge en alle ander belanghebbendes is ons verplig om die veiligheid van ons hardlopers ons hoogste prioriteit te maak.

“Daarbenewens moet ons verseker dat alle hardlopers ’n gelyke en veilige geleentheid het om aan die byeenkoms deel te neem. Vir al die betrokkenes vra ons opreg om verskoning dat die Vrouedagviering gekanselleer moet word en dankie vir u volgehoue ondersteuning en begrip.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Truman Burbank ·

Hulle moes die vroue wedloop laat voortgaan. Die taxis sal nie weet wat hulle tref. Jy ruineer nie n vrou se beplanning sonder n goeie medies nie.

Samuel ·

Wat ‘n tragedie. Dit alles as gevolg van ‘n spul rampokkers. Skande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.