Vrystaatse pad word (hopelik) uiteindelik opgeknap

(Foto verskaf deur die DA)

Die DA in die Vrystaat verwelkom die LUR van polisie, paaie en vervoer, Kwekwe Bulwane, se versekering dat die R26 tussen Bethlehem en Ladybrand herstel sal word ná jare se versoeke deur lede van die DA in die Vrystaatse wetgewer en betogings deur gemeenskapsgroepe.

“Die R26 is die ekonomiese aar van die streek,” sê Jafta Mokoena, die DA se woordvoerder oor paaie en vervoer in die Vrystaat. “Die landbougemeenskap en die Kersiefees in dorpe langs dié pad het onlangs miljoene rand verloor omdat toeriste dit nie kon bereik nie weens die slegte toestand van die pad.”

Maroela Media het vroeër berig talle boere het reeds skraperoperateurs betaal sodat gruispaaie geskraap kan word en het hul eie arbeid en hulpbronne gebruik om dit te doen. Dit het gevolg ná Vrystaatse boere gevra is om die departement van polisie, paaie en vervoer te help om paaie in die provinsie te herstel – maar gewaarsku is dat hulle nie vir hul uitgawes vergoed sal kan word nie.

Die Clarens- (R711) en Ficksburg-pad (R26) is hoofroetes na groot toerisme- en landbou-toerismebestemmings en is belangrik vir internasionale handel met Lesotho. Die Ficksburg-Fouriesburg-pad (R26) word as die slegste pad in die provinsie bestempel. Die R34 tussen Memel en Bothaspas is nie ver agter nie en kontrakteurs het volgens Vrystaat Landbou opgehou werk omdat hulle nie betaal word nie.

Mokoena sê die DA is nou bemoedig deur die aankondiging dat onderhandelings tussen die provinsiale regering en Sanral in ʼn gevorderde stadium is.

“Die DA sal seker maak dat Bulwana sy belofte gestand doen en sodat konstruksiewerk so vinnig as moontlik begin. Die pad sal ʼn verlengstuk word van die nasionale N8 wanneer die werk afgehandel is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Tredoux ·

Die pad het nie n “opknap” nodig nie. Daai is die rede dat die paaie nie hou nie.

Christine ·

Hoekom moet daar onderhandel word vir hulle om hul werk te doen? Dit is hoekom ons belasting en munisipale rekeninge betaal, is om fondse te genereer vir sulke werke!

Shakespeare ·

In 1994 as jy zig-zag gery het was jy besope en gearresteer. In 2022 ry almal zig-zag om die slaggate te vermy. Nou kan jy nie meer sien wie is besope nie.

Lesly ·

Dit wil voorkom of daar niks van die pad oor is om op te knap nie. Dit sal heeltemal van voor af oor gedoen moet word. Ek gaan nie my asem ophou nie. Tagtig persent van die “budget” gaan iemand weer verryk

Windhond ·

Voorspoed – ons het ook al daardie wysie op die nommer 1 posisie van die top 20 gehad

Gert ·

Onthou asb die R59 en die R64 wat beide in n toestand van ANC tipe onderhoud vervalle en onrybaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.