Vrystater het SA se ‘lekkerste lamsvleis’

Smullekker-lamsvleis … duisende mense het Saterdag opgeruk vir Saai se jaarliks Lamb Champs-fees. (Foto: Theo de Jager/Twitter)

En dit is amptelik: Paul van Rooyen van die Vrystaat – met sy Meatmaster-lammer – is die land se lamsvleiskoning vir 2023.

Van Rooyen het die naweek by die Loftus-stadion in Pretoria met R50 000 in prysgeld (en ’n trofee, ter waarde van R80 000, van die beeldhouer Nic van Rensburg) weggestap danksy sy smullekker lamsvleis.

Die landbouorganisasie Saai se gewilde Lamb Champs-kompetisie is Saterdag by Loftus gehou en het aan skaapboere van oor die land blootstelling aan verbruikers gegee.

En verbruikers was daar in gróót getalle. Volgens Saai het meer as 5 000 besoekers van die 100 lammers op spitte kom proe om te bepaal watter boer die lekkerste lamsvleis in die land het.

Van Rooyen het uiteindelik met die louere weggestap, gevolg deur Basie van Wyk van Limpopo en Leon Struwig (wat S2 Boerdery verteenwoordig het) in die derde plek. Van Wyk en Struwig se lammers was onderskeidelik Dormer en SAVM.

En die wenners is! Paul Van Rooyen (middel) het met die louere weggestap, Leon Struwig (links) was in die derde plek en Basie van Wyk (regs) is as naaswenner aangewys. (Foto: Theo de Jager/Twitter)

Lamb Champs is in 2022 bekend gestel as deel van Saai se pogings om die landbouwaardeketting te verkort en verbruikers meer regstreekse blootstelling aan produsente te gee.

(Foto: Theo de Jager/Twitter)

“Ons wil vir die verbruiker, wat op ’n Saterdagmiddag ’n skaaptjop braai, kan sê: ‘Ontmoet vir boer A en boer B. Dít is die mense wat met soveel sorg en kennis skape teel sodat jy die beste lamsvleis op jou kole kan braai,’” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Die feestelikheid is ook ’n bemarkingsgeleentheid, veral tussen boere en slaghuise, hotelle, huisgesinne en restaurante.

“Ons is opgewonde oor die nuwe geleenthede wat vir hierdie boere uit vanjaar se Lamb Champs gaan voortspruit,” sê Rossouw.

Heerlike skaapvleis, te kies en te keur. (Foto: Theo de Jager/Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wielspore ·

Die beste lamsvleis kom inderdaad van die Vrystaat af, meer spesifiek Bethlehem omgewing. Dit het te doen met die soort weiding van die skape.

SjN ·

Voeding bepaal die kwaliteit, n seker soort bossie/plant in die veld affekteer die smaak van die vleis.

Nonnie ·

Baie baie geluk met jou harde werk en puik resultate….hoop om nog baie lank te hoor van jou prestasies en eendag die voorreg te hê om daardie heerlike vleisie te proe.

Boer ·

Ek wil net noem dat ek daar was, dit was vir my ‘n lekker ervaring en ek moet sê die lam wat ons geëet het was heerlik. As die organiseerders die boodskap lees. Probeer asseblief om volgende keer meer uit stallings te hê, bv. bring nog trekkers, plaasimplemente, dalk ‘n paar beeste en skape daarheen en stal dit uit. Laastens ook van die lamsboere wat dalk van hul lamsvleis teen ‘n spesiale prys verkoop. Verder is dit ‘n lekker dag. Dankie ouens

Chris ·

As ek in Pietoria gebly het sou ek ook daar gewees het. Daar is net een ding wat lekkerder is as ‘n spit oppie skaap, Dit is nog ‘n spit oppie skaap, Ek wonder hoe het hulle bepaal die betrokke ras is die beste vleis. Ek sien daar was 100 deelnemers. So die ou (beoordeelaar) moes 100 stukke skaap proe? Ek stem saam met Boer, Bethlehem skaap is lekker. Die skape van Vrede se omgewing is ook nie te versmaai nie. Ek is gelukkig nie kieskeurig oor skaapvleis nie. Solank hy aan die dokter se voorkrif voldoen is ek tevrede. (die skaap moet witvleis aan he. Die dokter het aanbeveel ek moet meer witvleis eet)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.