Vuurwapenwetgewing: Individuele vryhede, regte ‘weggekalwe’

Verskeie belangegroepe by die beraad het Dinsdag opnuut hul teenkanting teen die voorgestelde wetgewing te kenne gegee. (Foto: Unsplash)

Só besorg is die regering oënskynlik oor geweldsmisdaad in Suid-Afrika dat hy die begroting vir sigbare polisiëring met R3,8 miljard besnoei het en dié van BBP-beskerming met R26 miljoen verhoog het. Dít terwyl hy steeds voortgaan met voorgestelde wysigings wat gewone burgers se reg om ʼn vuurwapen vir hul eie verdediging te besit, sal skrap.

Dít volgens Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, wat Dinsdag by die DA se vuurwapenberaad gesê het dit is ondenkbaar dat die polisie sy begroting teen die agtergrond van stygende misdaad en moord sny, maar dan ʼn wetsontwerp voorstel wat Suid-Afrikaners se regte om hulself te beskerm, beperk.

Verskeie belangegroepe by die beraad het Dinsdag opnuut hul teenkanting teen die voorgestelde wetgewing te kenne gegee en daar is uit talle oorde te velde getrek teen nie net sekere gedeeltes van die wetsontwerp nie, maar ook gevra dat die wet in die geheel laat vaar word.

Burgers moet ‘demokrasie opeis’

Whitfield sê die polisie het reeds erken dat hy nie self die vermoë het om Suid-Afrikaners en hul eiendom te beskerm nie. “Dit gaan egter oor veel meer as net vuurwapens; dit gaan oor die beperking van individuele regte en vryhede,” sê Whitfield.

“Natuurlik wil ons minder geweld sien, maar hierdie is ʼn lui oplossing. Ons moet die polisie se fokus terug op misdadigers plaas.”

Paul Oxley, voorsitter van die Vuurwapeneienaarsvereniging (Gosa), sê ook burgers moet eienaarskap van die demokrasie neem en aan die regering sê hoe hulle kies om regeer te word. Hy sê die polisie het misluk in sy grondwetlike plig om burgers te beskerm en dat die wetsontwerp ʼn poging deur die polisie kan wees om die ineenstorting van pogings om misdaad te bekamp, te verdoesel.

“Die reg op lewe, liggaamlike integriteit en veiligheid van ʼn persoon is nie gunste nie, dit is regte,” sê Oxley.

Hy sê indien die staat dus nie die vermoë het om sy eie pligte na te kom nie, hy nie in die pad mag staan van burgers om dit self te doen nie.

Oxley het ook verwys na die enorme agterstande by die Sentrale Vuurwapenregister en die polisie se onvermoë om die Wet op Vuurwapenbeheer behoorlik te administreer. “Hierdie is vir hulle ʼn vinnige oplossing. Kom ons verbied alles en miskien raak ons ontslae van sommige van die papierwerk.”

Hy bestempel die wetsontwerp as “bisar en onaanvaarbaar” en sê Suid-Afrikaners moet beheer van die demokrasie opeis.

“Met die wetsontwerp lyk dit of ons beweeg na ʼn samelewing sonder enige vryhede in ʼn konstitusionele demokrasie. Dit lyk na ʼn geval waar jy geen regte het nie, tensy die regering dit aan jou toestaan.”

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, meen ook die wetsontwerp is ʼn aanduiding van hoe Suid-Afrikaners se konstitusionele regte en vryhede “geleidelik weggekalwe” word.

“Dit spreek tot fundamentele regte en vryhede. Indien jy nie opstaan tot net jou eie regte geraak word nie, gaan jy vind daar is later niemand meer oor om jou regte te verdedig nie,” sê sy.

Zille sê die idee dat die ontwapening van die burgery lei tot ʼn vermindering in geweldsmisdaad, is nie nuut nie. En terwyl Suid-Afrikaners in twee vorige vuurwapenamnestietydperke hul wapens vir vernietiging by die polisie ingegee het, het talle van die wapens egter hul weg deur die polisie tot in die hande van misdadigers gevind.

“Ek kan kwalik aan ʼn groter vertrouensbreuk dink,” sê Zille.

Jonathan Deal, nasionale koördineerder en direkteur van die SafeCitizen-veldtog, sê ʼn nuwe krisis staar die polisie daagliks in die gesig. “Mense word in hul huise, op straat en in hul kerke aangeval. Die wetsontwerp is uit voeling met die werklikheid in Suid-Afrika,” sê Deal.

Hy sê die regering moet sy gewapende wagte en blouligkonvooie opgee en soos gewone Suid-Afrikaners begin oorleef.

Die minister van polisie, Bheki Cele. (Argieffoto: Michele Spatari/AFP)

Die minister van polisie, Bheki Cele, het vroeër gesê die Grondwet gee nie aan burgers die reg om ʼn wapen te besit nie – daar kan wel daarvoor aansoek gedoen word. Die minister word egter gereeld deur swaar gewapende beamptes vergesel. Cele is persoonlik uitgenooi na die beraad, maar het dit nie bygewoon nie. Die DA sal nou ʼn digitale weergawe van die beraad aan die minister stuur sodat hy kennis kan neem van die insette.

Zille sê indien die staat reeds toegegee het dat hy nie die kapasiteit het om sy deel van ʼn ooreenkoms na te kom nie, moet die howe uitsluitsel kan gee oor hoe burgers se regte beskerm gaan word. Sy sê die wetsontwerp is ʼn poging van die regering om mag te sentraliseer en burgers te ontmagtig.

“Burgers kan van die staat verwag om sekere dinge te doen. As die staat dit nie kan doen nie, is daar gevolge en kan burgers se regte nie arbitrêr van hulle ontneem word nie.”

Wanneer selfverdediging enigste opsie is

Lynette Oxley, stigter van die organisasie Girls on Fire, sê wanneer ʼn vrou aangeval word, gebeur dit op die aanvaller se terme. “Daar is nie mense, polisie of gewapende veiligheidsbeamptes by nie. Die misdadiger kies die tyd van die aanval en die enigste verweer is om wettig gewapen en behoorlik opgelei te wees,” sê Oxley.

Sy sê vrouens moet dikwels ook hul kinders veilig hou en dat verantwoordelike vuurwapeneienaarskap daarmee kan help. “Ons wil vroue emosioneel, geestelik en fisiek oplei om nie slagoffers te wees nie, om hulself en hul gesinne wettig te beskerm.”

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die landbouorganisasie Saai, sê dieselfde geld vir die landbougemeenskap wat hulle ook dikwels in afgeleë gebiede bevind.

Hier hang die vermoë om te oorleef af van behoorlike voorbereiding – en selfverdediging kan oorlewingstyd koop.

“Hoe is dit rasioneel om die wetsontwerp deur te voer indien die regering self erken dat hy ons nie kan beskerm nie,” sê Rossouw.

“ʼn Gewapende, goed opgeleide en wetsgehoorsame burger moet as ʼn bate gesien word, nie ʼn bedreiging vir nasionale veiligheid nie. Ons ontvang weekliks berigte van boere wat misdadigers kon afweer omdat hulle ʼn vuurwapen gehad het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Wanneer die staat my wapens of eiendom wil kom vat sal ek myself verdedig

Persheks Adri

Inderdaad is hulle onbevoeg en ons eerlike burgers nie skuldig aan wapens of ammunisie verloor nie! Dan moet die polisie en die VIP’s sonder beskerming klaar kom en op ons vlak kom bly waar die kriminele so besig is om ons te slag!

Hierdie wet gaan NIE gebeur NIE! Ons het regte hoed. Wil jy ons eerlike burgers kriminele maak? Dink daaraan en vergeet daarvan!!!

Die Boerepompie

Hy weet nie waar van hy praad nie moet n wilds boer n bok wat beseer is dood slaan met n knopkirie Dan wonder ek maar net as ek aangeval word mag die persoon dood met my knopkirie ???

wimpie

Cele sal se dis nie n reg nie want hy het nie nodig om hom self teverdedig nie,vat n bietjie die swaar gewapende beamptes weg en laat hom aleen ry dan kyk ons hoe sy dientjie verander. Hoeveel wuurwapens het die gewone burgers al verloor deur watse rede ookal SAP verloor 26025 en 10mil patrone die WEERMAG verloor 82000 en die E.METRO 700 vuurwapens. Vuurwapens wat deel vorm van die gene se ‘tools’ om hulle werk tekan doen en niemand kan n antwoord daar op gee nie . As ek die twee berigte so lees lyk dit meer of die… Lees meer »

Ian

Hier is n groter euwel plan agter die wapen onteiening. Hoekom word so baie veranderinge geworsstop ewe skielik. Die wet op data sentralisering, die wet op geloof, onteirning sonder vergoeding, wapen onteiening????
Die regering is definitief besig met iets anders in die mou.