Vyf ernstig beseer in botsing in KZN

Die vragmotor en bakkie het op die M1-Higginson-snelweg gebots (Foto: Verskaf)

Vyf mense is Dinsdagoggend ernstig beseer toe ʼn vragmotor en ʼn bakkie op die M1-Higginson-snelweg in KwaZulu-Natal gebots het. Die ongeluk het net na die N2-brug in Chatsworth plaasgevind.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, sê paramedici is Dinsdagoggend net na 08:20 na die toneel ontbied waar hulle die beskadigde voertuie in die pad aangetref het.

Die voertuie het die N2-afrit suidwaarts versper, wat die verkeersvloei beïnvloed het.

Een insittende van die bakkie was steeds in die voertuig vasgekeer. Reddingswerkers van die Durbanse brand-en-reddingsdiens asook Netcare 911-paramedici moes meganiese reddingskake en ander hidrouliese reddingsgereedskap gebruik om hom uit die bakkie te bevry.

Nadat reddingswerkers die man uit die voertuig bevry het, is hy na die naaste hospitaal geneem.

Vier ander insittendes wat elk in een van die voertuie gery het, is ook beseer en op die toneel deur paramedici gestabiliseer, voordat hulle na die hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Die metropolisie en polisie was op die toneel om verdere ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.