Vyf in hof vir moord op Fochville-ma

Natasha Wheeler Barnard (Foto: Verskaf)

Vyf verdagtes het Woensdag in die landdroshof op Fochville, Gauteng, verskyn in verband met die moord op die 33-jarige Natasha Wheeler Barnard, ʼn ma op dié dorp. Sy het haar beweerde aanvallers geken.

Barnard is na bewering op 3 Maart in ʼn plaaslike kroeg op die dorp aangerand en voor haar ma se huis – waar sy ook gewoon het – afgelaai. Haar ma het die ambulans ontbied en paramedici het Barnard op die toneel dood verklaar. Sy het beserings gehad wat daarop gedui het dat sy aangerand is.

Maryna Doyle (37), haar kêrel, Sidney Scheepers (41), Rudolf Pretorius (23), Cecilia Storbeck (23) en Twane Wienand (31) het Woensdag vlugtig in die hof in verband Barnard se dood verskyn.

Volgens sers. Tunase Elsie Majola, polisiewoordvoerder, word Doyle, Pretorius en Wienand voorlopig aangekla van moord. Al vyf word ook aangekla van dwarsboming van die gereg en dat hulle voordeel uit die moord getrek het.

Barnard het einde Januarie van Pretoria na Fochville verhuis om naby haar twee kinders – ʼn 13-jarige dogter en ʼn tienjarige seun – te wees. Hulle gaan op Fochville skool. Barnard het voorlopig by haar ma ingetrek terwyl sy na ʼn plek gesoek het om te woon.

Volgens Barnard se suster, Chantell Wheeler, het Barnard die aand van 3 Maart saam met vriende, haar broer en dié se vrou na ʼn plaaslike kroeg gegaan. Sy het alleen kroeg toe gery en het die ander by die kroeg gekry.

“Ek het nog teen 21:00 met haar op die foon gepraat en sy was nog heel fine. My broer en sy vrou het net ná 23:00 gery. Daar was nog mense wat ons geken het saam met Natasha by die kroeg,” vertel Wheeler. Drie van die verdagtes werk glo as kroegmanne by die betrokke kroeg.

Majola sê ’n argument het in die kroeg uitgebreek, waarby Barnard glo betrokke was. Presiese inligting oor die argument is nog nie bekend nie.

Volgens Wheeler het Doyle haar broer gebel en gesê Barnard is dronk en wil nie in die motor klim nie. “My broer het vir haar gesê om vir Natasha in die motor te sit en by die huis af te laai.”

Wheeler vertel die verdagtes het omstreeks 00:20 by Barnard se ma se huis stilgehou. Doyle, Wienand en Storbeck was glo saam met Barnard in haar (Barnard) motor. Scheepers en Pretorius was glo in ʼn ander motor.

“My ma het ʼn motor se toeter gehoor. Voor die huis het Natasha se motor saam met ʼn ander motor gestaan. Die verdagtes het vir my ma gesê my sussie is dronk en nie by haar bewussyn nie en hulle gaan haar in die kar laat slaap. My ma het gesê sy sal nie kan slaap as sy weet haar dogter lê in die kar nie.”

Volgens Wheeler het die verdagtes toe vir Barnard uit die kar uit “gegooi” en spore gemaak.

“My ma het gesien daar is fout met my suster en ʼn ambulans ontbied. Paramedici het Natasha dood verklaar.”

Volgens Wheeler het Barnard talle beserings opgedoen. “Dit het gelyk asof sy aangerand is.”

Die vyf verdagtes is Dinsdag –  ʼn maand ná die voorval – in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Maandag weer in die hof verskyn wanneer hulle ʼn formele borgtogaansoek sal bring.

Familie soek berusting

Barnard se familie probeer die stukkies bymekaar sit en het Woensdag die hofsaak bygewoon. Hulle was aanvanklik erg gefrustreerd dat daar vir byna ʼn maand niks met die saak gebeur het en geen inhegtenisnemings gemaak is nie.

“Ons is wel nou dankbaar daar is vordering met die saak.”

Volgens Wheeler was dit ʼn emosionele ervaring om die vyf verdagtes in die hof te sien. “Ek glo ons sal die stukkies van die legkaart bymekaar sit soos die saak vorder en op só ʼn manier ook afsluiting kry. Vir nou is dit vir ons moeilik om Natasha se dood te aanvaar.”

Barnard se kinders is onder haar ma se sorg geplaas.

Volgens Wheeler sal sy haar suster onthou as ʼn mens wat altyd ʼn huppel in haar stap gehad het en wat die vertrek sou ophelder met haar vrolikheid.

“Sy het altyd opgewonde en lus gelyk vir die lewe.”

Wheeler sal haar suster ook onthou as iemand met ʼn sagte hart, wat maklik vergewe het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swerwer ·

Genade maar die lewe is boos. Die verskil in opvoeding is darem duidelik sigbaar wanneer so ‘n insident plaasvind. Beslis nie ‘n goeie voorbeeld vir jou kinders nie.

Rooikopheks ·

Absoluut hartelose mense, waarheen is die mensdom oppad?

Grens ·

Kyk maar waar jy jouself inlaat, verkeerde plekke sorg vir moelikheid.

Elize ·

So ‘n pragtige vrou. Jammer dat drank haar onbeheersd laat optree het. Wat ook al gebeur het, het niemand daar die reg gehad om haar te slaan of aan te rand nie.

Aanhouer ·

Haar drank was miskien gespike. Dit gebeur oral. Bose mense.

Chris ·

Ek glo nie daar is ouers wat hul kinders wil “sleg grootmaak” nie. Oorlé ma het altyd gesê, “goed groot geword, maar groot sleg geword”. Jy moet darem groot skroewe in kop los hê om iemand so aan te rand dat die persoon aan die beserings beswyk. Wat gaan met die mense aan. Wanneer jy gesyp is is dit die slegste tyd om te wil boks. Dit is ook al wanneer sekere siele wil of probeer boks. Grond kan jy koop, maar wragtag waar agtergrond kan jy nie koop nie.

Magda G ·

Wat was die rede vir aanranding. Party mense se vuisies werk te vinnig. Sluit hulle toe

Papsak ·

Hoop julle word Ver toe gesluit julle vuiste is te los vieslik van julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.