Vyf Natalse polisiemanne aangeval

Argieffoto: SAPD

Die KwaZulu-Natalse polisiehoof maak nou stem dik nadat vyf provinsiale polisiebeamptes Donderdag onder aanvalle deurgeloop het. Een van dié polisiebeamptes is doodgeskiet terwyl twee ander beamptes kop- en armbeserings tydens ’n afsonderlike voorval opgedoen het.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, die provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, veroordeel dié aanvalle en sê dit sal nie geduld word nie.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, sê polisiebeamptes van die polisie se eenheid vir openbare orde is Donderdag omstreeks 23:45 na die Zimeleni- informele nedersetting in Umlazi om inligting op te volg oor ’n verdagte wat in die onwettige besit van vuurwapens was.

Dié verdagte (44) het egter die polisiebeamptes sien aankom en skote op hulle afgevuur. Die polisiebeamptes het teruggeskiet en die verdagte is doodgeskiet.

Drie polisiebeamptes is egter ook gedurende die skietery gewond. Onder die gewondes was ’n 29-jarige konstabel wat aan sy beserings beswyk het nadat hy hospitaal toe geneem is.

Daar is op ’n rewolwer met ammunisie asook ’n dolk op die toneel beslag gelê.

Aanklagte van moord en poging tot moord word intussen ondersoek terwyl ’n geregtelike doodsondersoek ook gedoen word.

Dié voorval volg kort nadat twee polisiebeamptes beseer is toe hulle omstreeks 15:30 op ’n klag van huishoudelike geweld in Dukuza naby Bergville gereageer het.

Die polisiebeamptes is met hul aankoms deur ’n verdagte gekonfronteer wat baie aggressief teenoor hulle opgetree het.

Die verdagte (29) het albei beamptes met ’n skoffel aangeval. Een van die polisiebeamptes het beserings aan sy kop opgedoen terwyl die ander se arm beseer is.

Die verdagte het ná die aanval op die vlug geslaan, maar is agternagesit en in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die twee beseerde polisiebeamptes is ná die voorval hospitaal toe geneem vir mediese behandeling.

“Ons sal nie afgeskrik word deur genadelose misdadigers wat geen respek het vir die wette van hierdie land nie,” sê Mkhwanazi. “Ons sal voortgaan om ons grondwetlike mandaat uit te voer en almal wat by kriminele aktiwiteite betrokke is, in hegtenis te neem.

“Ek dra my innige meegevoel oor aan die familie van ons gevalle polisiebeampte wat gesterf het terwyl hy sy pligte uitgevoer het en ek wens die polisiebeamptes wat beseer is ’n spoedige herstel toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kokerboom ·

Hoe ondersaoek mens moord/poging tot moord as verdagte dood is? Die SAP pluk nou vrugte van wanbestuur deur kaders van Polisie asook land oor 27 jaar

christo ·

Dis normale prosedure om met enige onnatuurlike dood ‘n klag van moord, poging tot moord of strafbare manslag te ondersoek. Dieselfde wanneer iemand gewond is in ‘n aanval waar daar beserings is.

casper ·

Intussen “monitor” hulle maar net daar by van Reenens pas waar die vevoer terroriste alles tot stilstand gedwing het en mense ompad moet ry om die anagrgie te probeer ontduik.
Die land word onregeerbaar !!!!!!!!

marius ·

Hy kan sy stem maar so dik maak soos hy wil . Die polisie het GEEN beheer oor misdaad nie . Punt .

Casper ·

Nou vra ek die vraag,hoekom word polisiebeamptes in piesanggland so maklik doodgeskiet,oorval en aangerand en beroof en nie in die VSA nie.In die VSA trek hulle hulle vuurwapens en nader dan die verdagte en as misdadigers dan sy vuurwapen trek gaan hy stilfontein toe,vra maar vir Lindani Myeni.Oom met die hoed skitter in sy afwesigheid.Ssshhht hoor ek iets van sy kant af,dit was my verbeelding ek hoor stilte.

Hettie ·

Die misdaad sal nie ophou voordat daar nie van Sitole and Cele ontsae geraak word nie. Sitole is nie opgewasse vir daardie pos nie en Cele stel net belang in media dekking.

Phillip ·

Lekker lag ek nou hier is nie wet en orde in ons land nie wat n grap

Shakespeare ·

Cele. Ek kry die arme kinders vir wie jy skoolgehou het tot in my murg jammer.Wat ‘n chaos moes dit nie gewees het nie. Ek was jare lank self ‘n onderwyser en jy voldoen nie aan een vereiste kriteria nie.

Di ·

Hy moet dit dalk oorweeg om terug te gaan na sy vorige beroep toe! Van Polisiewerk het hy GEEN idee nie

Nico ·

Julius Malema het mos gesê hulle gaan die Polisiemanne aanval. Hou hom verantwoordelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.