Vyf polisielede vas oor ‘beplande transitoroof, ontvoering’

Die polisiekonstabel en ses ander mans wat Donderdag in Johannesburg in hegtenis geneem is nadat daar inligting ontvang is oor ʼn beplande transitorooftog. Foto: SAPD

Vyf polisiebeamptes is in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem vir beweerde betrokkenheid by ernstige misdaadvoorvalle.

ʼn Polisiekonstabel en ses ander mans is Donderdag in Johannesburg in hegtenis geneem nadat daar inligting ontvang is oor ʼn beplande transitorooftog.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn multidissiplinêre taakspan het die inligting opgevolg en ʼn Toyota Hilux en Ford Ranger van die pad af getrek by ʼn vulstasie in Smitstraat.

“Die verdagtes het op die polisie losgebrand, maar is deur beamptes oorrompel en in hegtenis geneem. Dit het toe aan die lig gekom dat die Ford Ranger-bakkie ʼn amptelike polisievoertuig is en deur ʼn speurder van die Silverton-polisiestasie bestuur is.”

Die Toyota Hilux-bakkie is vroeër in Garsfontein gekaap. Volgens Naidoo het die polisie op twee vuurwapens, springstof en toerusting wat vermoedelik gebruik word om rooftogte te pleeg, beslag gelê.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van sameswering om misdaad te pleeg, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, die besit van springstof en die besit van vermoedelik gesteelde voertuie.

Een van die vuurwapens waarop beslag gelê is toe sewe verdagtes in hegtenis geneem is in verband met ‘n beweerde beplande transitorooftog. Foto: SAPD

In ʼn ander voorval is vier polisiebeamptes verbonde aan die Inanda-polisie in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by ʼn voorval waar twee mans ontvoer en daar glo geld vir hul vryheid geëis is.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee slagoffers, 28 en 36 jaar oud, het omstreeks 22:30 Woensdag in Inandaweg in Springfield gestaan toe hulle deur vyf verdagtes oorval en in die kattebak van ʼn voertuig ingedwing is.

“Hulle is na ʼn vragmotorwerf in Petersweg geneem waar die verdagtes op R50 000 aangedring het. Hulle is erg aangerand toe hulle nie met die geld vorendag kon kom nie. Een van die slagoffers is aangesê om die geld bymekaar te gaan maak. Die slagoffer het die Greenwood Park-polisie genader en beamptes het onmiddellik reageer.”

Volgens Gwala is vyf verdagtes in hegtenis geneem. “Dit het toe aan die lig gekom dat vier van die verdagtes, drie mans en ʼn vrou, almal polisiebeamptes verbonde aan die Inanda-polisie is. Die vyfde verdagte is ʼn veiligheidswag.”

Die polisie het beslag gelê op drie dienspistole en ʼn staatsvoertuig, nog ʼn voertuig wat glo deur die verdagtes gebruik is, asook ʼn selfoon van een van die slagoffers wat in die verdagtes se besit gevind is.

Die verdagtes, tussen 19 en 29 jaar oud, sal binnekort in die Durban-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering, uitbuiting, die rig van ʼn vuurwapen, aanranding met die doel om ernstig te beseer en diefstal.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

55 Kommentare

Magda ·

Ek stem – wys en noem hulle – Dit is de gemors wat ons moet vertrou

O Wee ·

Jammer, ek vertrou laaankal geen een van hulle meer nie! Hierdie land is ‘n hool van wetteloosheid.

lewies ·

Die mense wat hierdie aanstelling gedoen het moet ook aan die pen ry, Was daar sekerheidsklarings gedoen, voordat hierdie aanstellings gedoen het. As die aanstellingsprosedure en voorwaardes vir aanstellings nie strenger gemaak gaan word nie sal hierdie bose kringloop voortduur. ‘n Mens is tot nie eenvoudig nie.

Anel ·

Ons seun sukkel al 10 jaar om aan te sluit. Een van die eerlikste mense wat ek ken. Profiel sê hy is polisiemann, integriteitstoets sê hy is een van die skelmste mense in die land. Nou wonder mens wat se mense word aan gestel. Verlede jaar het hulle so aangegaan dat daar te min blankes is wat aansoek doen, maar hulle word almal afgekeur. Dit is deesdae makliker om ‘n mediese dokter te word as polisieman.

8 maal ·

Moet asb nie so veralgemeen nie, dink eerder aan die van ons wat ons gaaie af sukkel om nog ‘n verskil te probeer maak en dan ons lewe en vertroue moet plaas in die hande van “kollegas” soos die…
En dan wat die aanstellings betref, kyk na die silwerskoon rekord (nie) van die wat die aanstellings doen!

Calvinia skaap kop ·

Ek het gehoor die polisie is opgedeel in verskillende bendes wat met mekaar kompeteer vir hierdie tiepe “jobs”. Dalk was iemand nie genoeg afbetaal nie.
Daar is nog baie om te kom…..

Sarel ·

Swak Bestuur ,swak Dissipline en Vakbonde die oorsaak hiervan.

Johan Swart ·

Daar is 4000 polisiebeamptes in diens met kriminele rekords….volgens Maroela Media se vorige berigte….
Wat verwag julle van die SAPD……

Derick ·

Kan ons die polisie nog vertrou?
Wonder hoeveel van hulle is betrokke by die plaas aanvalle?

Rm ·

Nou ja, nou kan mense nie verstaan hoekom word so min transitorowers gevang nie, want ek glo al lankal die polisie is by meeste van die rooftogte betrokke, so hulle roof en moor en dan moet hulle hulself soek, dit is soos om met jouself wegkruiperdjie te speel, jy gaan jou mos nie selfsoek nie, tweedens kerm en kla almal oor vuurwapens, maar kyk nou wie se wapens word gebruik, dit is tyd dat sulke polisielede lewenslange tronkstraf kry v die tipe misdade, geen borg,dit sal nie hulle eerste roof wees nie

Sê maar net ·

Ek stem saam. Vir my is dit gelyk aan hoogverraad! Sluit toe en gooi die sleutel weg.

Ralph ·

Hoop die buitelanders sien ons paradys sodat hulle meer kom toer hier. Die klonge laat André Stander sommer na ‘n vulletjie lyk.

Hugo ·

Die kriteria is dat wanneer jy gewoonlik blank is Dan slaag jy nie die klaring nie….

Joubert ·

Dit gaan nie oor of hy ‘n polisieman is of nie. Dit gaan ook nie oor of of hy die president van die land is of nie. Dit gaan oor of hy van die begin van die aarde verdoem was… of nie!

Joa ·

Ek stem saam met Joubert. Daar is net 2 paaie wat ‘n mens kan stap – dis of die bree, wye pad waar almal oorgegee word aan hul sondige geaardhede en so self verantwoordelik is vir hul verskriklike dade of die smal en moeilike pad wat jou reguit na die Hemel neem.

Wielspore ·

Multi tasking, met die een hand onderhou jy die land se wette, met die ander hande breek jy die land se wette, nie baie van ons beskik oor die talent.
Dit is jammer dat ‘n gedeelte van ons land se regs stelsel korrup is, daar op vloer vlak waar misdaad voorkom moet word en dit maak ook sin hoekom die stryd teen misdaad nie gewen kan word want die oortreder is die onderhouer.

jz ·

Andre Stander en sy vriende kon jy op een hand tel maar vandag lyk Andre hulle se storie soos n sondagskool uitstappie.en hulle is dood of vervolg wat nie nou die norme vandag is nie.

jean ·

Dis nou die “manne” wat veronderstel is om ons tot hulp te wees….die vuilgoed!

Vivian ·

Kop tussen die bene moet julle maar gaan le in die tronk ook!

Lourens ·

SAPS is baie vinnig. Reeds op toneel as misdaat plaasvind. Hahahaha….

Nonnie ·

……..SMAAK MY DIE SG. ‘POLISIE’ VAN SUID AFRIKA IS EEN GROOT MISDAAD SINDIKAAT……!!!!!!!!

sweis ·

Dit is hoekom die misdaad so styg want die wetstoepassers wat nie suurstofdiewe is nie is korrup en/of skelm.

Grompie ·

Glad rond dik en ongeskik.Wat verwag jy.Vir die job moet jy lenig gespierd en fiks wees .o wee sien nie meer sulkes in wets toepassers nie.Onfikse liggaam brein……..

BlinkStephaans ·

Te Lekker… vuurwapens.. voertuie… radios…alles gratis verskaf deur die staat… just go and do it manne… sorg ook sommer dat jy die dossier kry om te ondersoek na die tyd… dan is jy nou heeltemal verseker daar sal niks van kom… en dan kan jy nou lekker daar in jou staatskantoor sit en die volgende roof beplan.

Marius ·

Opgeleide polisie met staats motors en vuurwapens wat misdade pleeg moet deur iets soortgelyks as n militere strafhof vervolg word – nie die gewone Durbanse landroshof nie. Hoop die hof doen sy werk ordentlik en maak n deeglike voorbeeld van die spul. Wonder of hulle nou ook gaan opeindig op die lang lys van parasiete wat “suspended” is en dan nog vir jare lank salaris gaan trek.

Piet ·

Nou vra mense my nog hoekom het ek geen respek vir SAPS en Metro nie , Want mmhh hulle is die grootste kriminele in die land , saam hulel anc base

Piet Nel ·

Dis ook algemene kennis dat van die polisie hulle vuurwapens verhuur wanneer hulle van diens af is, dit verklaar ook waar misdadigers R4 en ander wapens vandaan kry. ‘n skande

Jerry ·

Wanneer die polisie op die polisie begin skiet dan dui dit daarop dat daar nie net slegte polisie lede is nie. Dit dui ook daarop dat georganiseerde misdaad onbeheers toeneem en verder uitkring. Daar is jou werklikwaar tans groter motivering vir die polisie minister om sy wetsongehoorsame polisiemag te ontwapen, as om gewone wetsgehoorsame burgers en sekuriteitsmaatskappye te wil ontwapen! Opposisie partye behoort goeie argumente te kan voer teen enige van die minister se nuutste voorgestelde vuurwapenontwapening wetsontwerpe!

Daar is goeies ook ·

Ek stem dat daar baie is wat oneerlik is, maar daar is ook eerlike opregte mense.
Watter persentasie dit ookal is, ALMAL is nie sleg nie.
Dankie aan die wat wél aan die regte kant veg en die vrot appels probeer uit kry.

toy ·

Ons het nie sulke skelms nodig om ons veilig te hou nie. Dit maak mens siek hoe dit gaan deesdae.

jz ·

Stem saam,maar hoekom is daar so min van die waarna verwys word.??????

Mika ·

Ou Diep in die hoed is seker baie trots op sy manne. Doet zoo voort. Net een ding.. kom ons kyk na die vernederende, onwaardige wyse waarop hierdie mense en ander wat in hegtenis geneem nie die afgelope tyd aan die publiek vertoon word. Wat laat die onaantasbare, moniterende SAPD hulle doen waar die publiek se oë nie kan sien nie? Dan was die Sap Kamma onmenslik wreed!

Linda ·

Fred ek stem saam met jou, daar is geen ander woirde vir ons polisiemag nie, ongelukkig moet die paar ‘goeies’ nou ook deurloop !

Geitjie ·

Die hele spul van hulle is korrupt, hulle is veronderstel om daar te wees om ons te beskerm en ‘n diens te verrig, maar wat doen hulle?? Duidelik soos daglig. Kan die polisie gladnie meer vertrou nie.

Gert van Wierdapark ·

Die verdagtes was seker van diens af? – hul kan seker maar in hul af tye doen waarin hul goed is!!! He-he-he!!

Foto ·

Selfs die foto bewys hoe die SAP in kriminele se g@tte opgekruip is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.