Vyf sterf op N2

Die motorwrakke op die N2. (Foto: IPSS Medical Rescue)

Vyf mense is Saterdagoggend in ’n gru-ongeluk op die N2 naby Tugela in KwaZulu-Natal dood. Vyf ander het beserings tydens die botsing opgedoen van wie twee ’n kort ruk gelede in ’n kritieke toestand hospitaal toe gehaas is.

IPSS Medical Rescue sê paramedici was vanoggend reeds op ’n ongelukstoneel op die N2 naby Zinkwazi doenig toe hulle inligting ontvang het oor nóg ’n motorongeluk nie ver daarvandaan nie.

Paramedici het egter met hul aankoms op dié toneel op ’n bloedbad afgekom. Voorlopige inligting dui daarop dat ’n bakkie en ’n sportnutsvoertuig reg van voor gebots het.

Vyf van die agt insittendes van die sportnutsvoertuig is op slag dood, terwyl twee van die oorlewende drie insittendes kritieke beserings opgedoen het. Die derde oorlewende het matige beserings opgedoen en is ook na ’n hospitaal vir mediese behandeling vervoer.

Die motorwrakke op die N2. (Foto: IPSS Medical Rescue)

Die bakkie het ten tyde van die botsing twee insittendes gehad. Albei het ernstige beserings opgedoen en is ook na ’n hospitaal vervoer.

Die polisie, paramedici en die brandweer was vanoggend op die toneel.

Zinhle Mngomezulu, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse padverkeersinspektoraat, sê ’n ernstige vragmotorongeluk op die N3 by die Peter Brown-wisselaar naby Town Hill in Pietermaritzburg het vanoggend ook vir groot verkeersopeenhopings gesorg.

Geen beserings is tydens dié ongeluk aangemeld nie.

Mngomezulu waarsku dat KwaZulu-Natalse paaie vanoggend nat en glad is. Motoriste word versoek om waaksaam te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.