Vyf vas wat hulle as polisie, paramedici voordoen

Foto: Reza/Twitter

Die polisie in Gauteng het vyf persone in Gauteng in hegtenis geneem op aanklag dat hulle hulself as polisiebeamptes, ‘n soldaat en paramedikus voorgedoen het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 25-jarige man met rastalokke, is in Heidelberg in hegtenis geneem toe hy homself as ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag voorgedoen het. “Hy het Sondag met ʼn volledige weermaguniform in die middestad rondgeloop. Lede van die gemeenskap het gedink dit is ongewoon toe hulle die man, met rastalokke, in Voorstrekkerstraat opgemerk het, en hulle het die polisie in kennis gestel,” het Masondo verduidelik. “Toe die polisie hom ondervra, het hulle bevind dat hy nie ʼn lid van die SANW is nie. Hy is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag dat hy hom as ʼn lid van die SANW voorgedoen het en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.”

ʼn 40-jarige man is Sondag in Johannesburg in hegtenis geneem toe hy ʼn voertuig bestuur het met rooi ligte en ʼn sirene. “Toe hy voorgekeer is, kon hy nie bewys lewer dat hy ʼn paramedikus is nie. Toe beamptes die voertuig deursoek het, het hulle op ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie afgekom asook verkeerskegels wat aan die SAPD behoort. Die man is in hegtenis geneem op aanklag dat hy hom as ʼn paramedikus voorgedoen het, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.”

ʼn Voormalige reservis en twee van haar medepligtiges is Woensdag in Pretoria in hegtenis geneem op aanklag van roof en dat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het. “Die polisie het inligting ontvang oor twee vroue in polisieuniform en ʼn man wat ʼn rooftog uitgevoer het. Polisiebeamptes het ʼn soektog van stapel gestuur en ʼn voertuig, wat by die beskrywing pas, is in Soshanguve opgemerk en voorgekeer. Terwyl die insittendes ondervra is, is daar bevind dat een van die vroue ʼn voormalige polisiereservis is. Die ander vrou en man is gewone lede van die gemeenskap. Tydens ʼn soektog van die voertuig is daar op verskeie polisieuniforms, ʼn leë polisiedossier, eiers en hoenders afgekom. Die verdagtes staan tereg op aanklag dat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en roof.”

Masondo het gesê ʼn ondersoek is van stapel gestuur om te bepaal hoe die verdagtes uniforms en eiendom, wat aan die polisie en die SANW behoort, in die hande kon kry. Verdere klagtes kan moontlik op die klagstate bygevoeg word.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris, het bygevoeg dit is ʼn baie ernstige oortreding om jouself voor te doen as ʼn wetstoepasser. “Hierdie oortreders verdien ʼn swaar straf wat ʼn sterk boodskap sal stuur aan ander misdadigers.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anton ·

Die ergste oor treeding is, WAAR KRY HULLE DIE UNIFORMS??? Is daar Dan geen beheer nie of word die uniforms verkoop??

Michael 1 ·

Ek dink jy moet darem op n baie laagtepunt in jou lewe wees om jou as n polisie beampte voor te doen.

netekalleen ·

Die swaar straf is seker weer net n 1000 rand boetetjie

jzjz05 ·

DIE STRAF IS N KLAP OP DIE HAND EN WORD, GESE BOETTIE MOET NOU NIE WEER NIE ANDERS MOET ONS JOU HERONTPLOOI.

Johan ·

‘n Klient van my het drie gelede nog by ons stad se verkeersdepartement gewerk as offisier. ‘n Nuwe aanstelling het sy volledige uniform en ander toesrusting ontvang en hy het dit in die register geteken dat hy dit ontvang het. Twee maande later, toe daag hy by die offisier op en vra vir ‘n uniform. Nadat daar vir hom gesê is dat hy reeds in besit van ‘n uniform is, bars alle hel los!

Hy het die offisier aangeval, maar ongelukkig vir hom was die offisier onderlê in gevegkuns en het hy baie sleg daarvan afgekom. Maar dis toe dat die “groep” saamgestaan het en ‘n vals klagte van motordiefstel teen die enigste twee oorblywende blanke lede van die department, gemaak het. Die SAPS kon nie vining genoeg reageer nie en het albei, met uniforms geklee, laat toesluit vir ‘n hele naweek.

Na hulle die Maandag voor die hof gebring is, is die saak teen albei laat vaar. Ons kon tot vandag GEEN dossier of misdaadnommer uit die SAPS kry nie. Alles was doodgevee……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.