Vyf wat aangekla word vir moord op sokkerster dán verhoor

Die beskuldigde Muzikawulahlelwa Sibiya in die hof. (Foto: Verskaf)

Die vyf mans wat teregstaan vir die moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa sal nou eers volgende jaar verhoor word.

Die saak sal van 11 tot 29 April en van 13 Mei tot 17 Junie in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word.

Dit sal dan meer as sewe jaar ná die moord op Meyiwa wees.

Die voorafverhoorverrigtinge is Maandag in die Palm Ridge-landdroshof aangehoor voordat die saak teen Muzikawulahlelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokosizi Maphisa en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso tot volgende jaar uitgestel is.

Dit is nie duidelik waarom die saak nie vanjaar aangehoor kan word nie.

“Die privaatvervolgingseenheid hoop van harte dat dit nou die laaste uitstel is, want sewe jaar het reeds sedert die moord op Senzo verloop,” het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid wat die Meyiwa-familie verteenwoordig, Maandag ná die voorafverhoorverrigtinge gesê.

Die beskuldigde Mthobisi Prince Mncube in die hof. (Foto: Verskaf)

Nel het ook sy teleurstelling uitgespreek oor die feit dat die beweerde baasbrein in die moord op Meyiwa tot op hede nog nie aangekla is nie.

“Ons is steeds van mening en ondersteun die polisie se siening dat daar genoeg bewyse is om die baasbrein te vervolg vir wat ons glo ’n kontrakmoord is. Ons is steeds bekommerd oor die aanklagte en opsomming van die wesenlike feite, en ons ondersteun nie die weergawe van ’n inbraak wat skeefgeloop het nie.

Maroela Media het vroeër berig Meyiwa is op die aand van 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

Twee mense het dié betrokke aand by die huis, waar verskeie ander mense teenwoordig was, ingebars. Hulle was gewapen met ʼn vuurwapen en ʼn mes en het geld en selfone geëis.

Elias Maangwale, adv. Phyllis Vorster, adv. Gerrie Nel en Andrew Leask van AfriForum se privaatvervolgingseenheid in die hof. (Foto: Verskaf)

Nel meen dit is ’n risiko om met die vervolging van verdagtes in ’n kontrakmoord voort te gaan as die baasbrein nie ook aangekla word nie. “Die redes waarom die saak nie vanjaar kon voortgaan nie is nooit aan die publiek of familie bekendgemaak nie; die advokate het onder mekaar om ’n tafel tydens ’n voorafverhoor op die datum besluit.”

Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het op haar beurt gesê die samelewing het die reg om aan te dring op bekwame, rasionele en regverdige optrede deur die Nasionale Vervolgingsgesag, sonder enige politieke inmenging.

“Dit is een van die redes waarom AfriForum by die saak betrokke geraak het. Ons is dit aan die samelewing verskuldig om te verseker dat die NVG sonder vrees, voorkeur en vooroordeel vervolg. Bowenal verdien die familie afsluiting,” het Venter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

kry dan die baasbrein se besonderhede reg en gee vir hoedman iets om homself besig te hou

AW ·

Kan maar net my Kop in Ongeloof skud !!!

Net nog n Bewys van die Onbewoegdheid van die Staat in al sy Glorie !!

kapteinr ·

Dis PRESIES hoekom moord so maklik in SA is, want die skuldige / moordenaar WEET dit vat JARE en intussen gaan sy / haar lewe normaal voort op VRYE VOET.
Waarom kan SA nie soos sekere lande die saak letterlik binne 2-3maande afhandel nie?
Hoekom het die “verdediging” JARE nodig om voor te berei en te “ondersoek”?
EN dan is daar die vertraging dmv van mediese parool / siekte en om regs-span te verander waneer die datum van verhoor nader kom…
Dan sit die beskuldigde in die bank en smile en tart die familie…
Maar ons mag nie die reg in eie hande neem nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.