Vyfde SA sjef spog met gesogte Michelin-ster

Hylton Espey voor sy restaurant in Falmouth, in die Verenigde Koninkryk. Die Suid-Afrikaner is pas met ‘n Michelin-ster vereer. (Foto: Hylton Espey/Facebook)

Die Suid-Afrikaanse sjef Hylton James Espey (40) het pas die vyfde Suid-Afrikaanse sjef geword om met ʼn gesogte Michelin-ster bekroon te word.

Michelin-sterre word toegeken aan restaurante van uitsonderlik hoogstaande gehalte en word beskou as ʼn kroonjuweel vir restaurante en sjefs wêreldwyd.

Espey volg in die spore van Jan Hendrik van der Westhuizen wat in 2016 die eerste Suid-Afrikaanse sjef geword het om ʼn Michelin-ster te kry. In 2019 het die eer Jean Delport en Conor Toomey te beurt geval. Verlede jaar het Thinus van der Westhuizen hom in dié uitgelese groep bevind en nou is Espey ook een van die handvol Suid-Afrikaners wat met die wêreldbekende ster kan spog.

Culture se oopplan-kombuis. (Foto: culture.restaurant/Instagram)

Espey het aan GoodThingsGuy gesê hy het nog altyd daarvan gedroom om ʼn Michelin-ster te kry en dat sy ouers hom geïnspireer het om die droom te volg. “Grootword in ʼn huis met ʼn ma wat ʼn uitsonderlike kok is, het beteken ons het goed geëet. Sy het in die wynbedryf gewerk en ek het verlief geraak op klein, landelike restaurante en wynparings.

“Die soektog na mossels en alikreukel saam met my pa het my moderne, natuurgeïnspireerde styl beïnvloed,” het Espey aan GoodThingsGuy gesê.

Hylton Espey en sy vrou, Petro. (Foto: culture.restaurant/Instagram)

Espey is die eienaar van die restaurant Culture in Falmouth in Engeland. Die restaurant het sy deure maar agt maande gelede geopen en is luidens die webwerf die verwesenliking van ʼn lewenslange droom van twee sjefs wat verlief geraak het op mekaar, op wyn en op kookkuns.

Sjefs snuffel elke dag buite vir bestanddele en inspirasie; die name van disse op Culture se spyskaart is ook afkomstig van dít wat die bepaalde dis geïnspireer het.

Hulle was oorstelp van vreugde om die uitnodiging na die Michelin-toekennings te kry en des te meer toe die groen Michelin-ster toegeken is.

Een van die disse op sjef Hylton Espey se spyskaart by Culture. (Foto: culture.restaurant/Instagram)

Espey, oorspronklik van Kaapstad, is steeds ʼn trotse Suid-Afrikaner. Hy was die afgelope week terug in die Moederstad waar hy die toekenning saam met familie en vriende gevier het.

“Ek mis werklik die billike vleispryse, wyn en weer in Suid-Afrika. My familie is steeds almal hier en ons mis hulle natuurlik. Die branders is goed en die Kaapse berge ʼn ander belewenis,” het hy aan die webwerf gesê.

(Foto: culture.restaurant/Instagram)

Hy hoop ook sy verhaal inspireer ander Suid-Afrikaners om hul drome te verwesenlik.

“Glo in jouself, aanvaar kritiek op ʼn opbouende manier en wees vasbeslote oor dít wat jy glo. Wees nederig wanneer jou drome bewaarheid word en onthou almal wat deel was van jou reis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.