‘Waar is die Voogdyfonds-miljoene?’ vra DA

Adv. Glynnis Breytenbach (Foto: Twitter)

Die DA eis antwoorde oor R18 miljoen wat in April vanjaar by die Voogdyfonds gesteel is.

Die Voogdyfonds is gestig om geld te bestuur namens individue wat wetlik nie in staat is om hul eie sake te bestuur nie, onder meer minderjariges, ongebore erfgename en vermiste persone.

Volgens adv. Glynnis Breytenbach, die DA se skaduminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, het dit het aan die lig gekom dat betalings uit die fonds deur die departement van justisie opgeskort is terwyl hulle alternatiewe en veiliger betalingsverwerkingsmetodes ondersoek. Intussen is die fonds se betaalstelsel afgeskakel om verdere bedrieglike transaksies te voorkom.

“Alhoewel dit nodig is om maatreëls te tref om die kwessie van diefstal te hanteer en die fonds se bates te beskerm, het die opskorting van betalings aansienlike ontberings veroorsaak vir individue wat op hierdie fondse staatmaak vir noodsaaklike behoeftes soos skoolgeld, mediese rekeninge, verblyf en ander noodsaaklike uitgawes,” sê Breytenbach.

“Verder is daar berigte dat individue wat deur die Voogdyfonds geld geskuld word, toegang tot hul geld geweier is, met die departement van justisie wat nie redes vir hierdie vertragings verskaf het nie. Hierdie gebrek aan deursigtigheid en aanspreeklikheid vererger die las op kwesbare individue wat reeds deur groot uitdagings in die gesig gestaar word.”

Die DA gaan parlementêre vrae indien om vas te stel wat die volle omvang van die diefstal is, die redes daaragter, die aantal vertraagde betalings en transaksies wat voortspruit uit die betalingsopskorting, en die stappe wat die departement doen om die gesteelde geld terug te kry.

Die party sal ook vasstel wat gedoen word om te verseker dat behoeftiges toegang tot hul geld kan kry.

“Dit is van kardinale belang dat diegene wat vir hierdie diefstal verantwoordelik is, voor die hof gebring word, en die gesteelde geld teruggekry word om die impak te verminder op die lewens van diegene wat van die Voogdyfonds vir hul finansiële ondersteuning afhanklik is.

“Die DA bly daartoe verbind om te pleit vir die regte en belange van alle Suid-Afrikaners, veral diegene wat die meeste beskerming en bystand nodig het. Dit is nie die eerste keer dat die departement van justisie se stelsels deur kubermisdadigers geskend word nie, en dit lyk asof hulle nie doeltreffend stelsels kan instel om die integriteit van belangrike stelsels te verseker nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ronel ·

Buiten die miljoene, weet iemand al wat met die covid biljoene lening se geld geword het?

Di ·

NEE dis so stil soos die graf oor hierdie geld. Ons sal NOOIT weet waarheen al daai biljoene is nie. Praat nie eers van al die kriminele wat steeds vry rondloop na Staatskaping plaasgevind het nie

annie ·

Die DA het soos ander partye ‘n geskiedenis. Was dit nie aanvanklik die Verenigde Party nie met die vereniging van alle rasse al die pad hul hartsbegeerte nie? En nou huil die tannies al die pad na die bank toe dat die geliefdes waarmee hul verenig het toe nie getrou gebly het in hul skynhuwelik nie. Dit gaan maar so met valse waarbeeldings. Nou betoog die DA/PP/ VP oordat hul te veel verwag het. Tja!

Blikkies ·

Annie, jy maak nou soos die ANC, dit is baie ou geskiedenis. Gaan jy dit nou elke keer voor gooi as iemand iets probeer reg doen. “Of sal ek sê, probeer.

Jannie van Niekerk ·

In SA is daar meer kommisisies van ondersoeke as die totale hoeveelheid inwoners in die heelal.

My siening ·

Ja kyk maar net wie is minister van justisie, net nog ‘n kader wat ‘n salaris verdien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.