Waarskuwing oor besmette gesondheidsprodukte

(Foto: Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) waarsku lede van die publiek oor besmette gesondheidsprodukte, wat deur ʼn Indiese maatskappy, genaamd Maiden Pharmaceuticals, verhandel word, wat tot die dood van 33 kinders gelei het.

Volgens dr. Boitumelo Semete, hoof- uitvoerende beampte van Sahpra, is altesaam 33 kinders in Gambië aan nierverwante siekte dood. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het laboratoriumtoetse uitgevoer wat die medikasie met daardie sterftes verbind het.

Die produkte, soos dit op die WGO se produklys verskyn, is nie geregistreer vir gebruik in Suid-Afrika nie. Hierdie produkte is geïdentifiseer in Gambië, Wes-Afrika, maar daar is ʼn moontlikheid dat die produkte na ander lande versprei kan word.

Die produkte is geïdentifiseer as Promethazine Oral Solution, Kofexmalin Baby Cough Syrup, Makoff Baby Cough Syrup en Magrip N Cold Syrup – vervaardig deur Maiden Pharmaceuticals.

“Die vier produkte bevat onaanvaarbare hoeveelhede di-etileenglikol en etileenglikol, wat giftige stowwe is en dodelik kan wees. Die feit dat hierdie medisyne aan kinders toegedien is, maak die saak baie ernstiger,” sê Semete.

“Giftige effekte wat weens die gebruik van die produk(te) kan volg, sluit in buikpyn, braking, diarree, onvermoë om te urineer, hoofpyn, veranderde geestestoestand en akute nierbesering wat tot die dood kan lei.”

Sahpra doen ʼn beroep op diegene wat in besit is van hierdie produkte of enige daarvan teëkom, om dit nie aan kinders toe te dien nie en met die Regulerende Voldoeningseenheid by [email protected] of 012 015 5434 kontak te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Murray ·

Die vraag is of hulle vervolg gaan word. Dit lyk my dat meeste scammers in Indië is en hulle oor die algemeen met moord weg kom

Antie Sarie ·

Onaanvaarbare hoeveelhede van die gifstowwe? Hoeveel van n gifstof is aanvaarbaar?

E ·

Colchichine is giftig, as jy nie daardie toestand het nie, so ja daar is “gifstowwe” wat as medisyne gebruik word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.