Walms lei tot ‘petrolboewe’ se dood

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Die liggame van twee vermeende petroldiewe is Sondag onderskeidelik in ’n struktuur en ʼn tonnel gevind wat na Transnet se petroleumpypleiding in Kibler Park in Johannesburg lei.

Dit is Maandag deur Michelle Phillips, uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, bevestig. Die verdagtes is vermoedelik deur walms oorval en hulle het omgekom terwyl hulle Saterdagaand probeer het om petrol uit die pypleiding te suig.

Die struktuur en tonnel is Maandag gesloop.

“Die voorval oor die naweek is ’n harde waarskuwing aan oortreders dat ’n gepeuter aan petrolpypleidings en -infrastruktuur rampspoedige gevolge kan hê, insluitend persoonlike beserings en dood, omvattende omgewingskade en brande,” het Phillips gesê.

Transnet het in die huidige finansiële jaar al 90 voorvalle van brandstofdiefstal gehad. In samewerking met gespesialiseerde taktiese spanne is 68 inhegtenisnemings al gemaak, onder wie twee vermeende meesterbreine.

“Dié oortreders sal die volle mag van die reg ervaar, aangesien ’n gepeuter aan pypleidings – of sameswering daartoe – ’n skedule vyf-oortreding ingevolge die Wet op Strafregtelike Aangeleenthede is.

“Transnet moedig alle petroleumhandelaars en lede van die publiek aan om nie brandstof by ongeregistreerde handelaars te koop nie, wat die aanvraag na onwettige petrolprodukte aan bande sal lê.”

Lede van die publiek word versoek om enige verdagte aktiwiteite, voertuie en tenkwaens naby Transnet se infrastruktuur by 0800 203 843 aan te meld, of hul naaste polisiestasie te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Christine ·

Transnet se werkers is nutteloos, dis hoekom daar al 90 gevalle van petrol diefstal aangemeld was. Karma spring nou self in. Mooi so.

marius ·

“Die oortreders sal die volle mag van die reg ervaar ” Bwahahhaaa.

Elma ·

waarom die struktuur en tonnel sloop? Klink vir my na n blink plan om dit te hou as afskrikmiddel. Ison’yoka!!!

Elméne ·

Ek besef dat ek nou baie lelik gaan wees, maar nog NOOIT tevore was ek so VERHEUG oor die “blinde sambok het gepraat” nie!!!

Hennie Biebouw ·

Mens spot nie met die dood nie, maar heelaas blyk “natural selection” straks nog met ons te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.