Wat doen kragminister nou eintlik? Presidensie antwoord

Kgosientsho Ramokgopa (Foto: GCIS)

Die vraag wat by die meeste Suid-Afrikaners opkom wanneer hulle aan die nuutaangestelde minister van elektrisiteit dink, is “wat doen hy nou eintlik?”.

Verskeie politieke partye het onlangs die einste vraag gevra en nadat pres. Cyril Ramaphosa eindelik Kgosientsho Ramokgopa se magte en funksies drie maande ná sy aanstelling bekend gemaak het, het sommige mense steeds kopgekrap.

Die presidensie sê dit is eintlik heel eenvoudig. Ramokgopa is verantwoordelik daarvoor om alle staatsdepartemente en entiteite – soos Eskom – wat by die kragkrisis betrokke is, te koördineer sodat die energie-aksieplan doeltreffend in werking gestel word.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, sê om dít te bereik het Ramaphosa die minister opdrag gegee om toesig te hou oor alle aspekte van die reaksie op die kragkrisis, waaronder die werk van die nasionale energiekrisiskomitee.

Ramokgopa se primêre verantwoordelikheid is dus om die volle inwerkingstelling van die energie-aksieplan binne die volgende 12 maande te verseker.

“Kortweg word daar van die minister verwag om saam met Eskom se leierskap en bestuur te werk om die bestaande kragsentrales se prestasie te verbeter, nuwe opwekkingskapasiteit te bepaal en leiding te neem om met lede van die publiek te kommunikeer oor die kragkrisis,” sê Magwenya.

Hoe verskil al die ministers dan?

Pres. Cyril Ramaphosa en die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Hoewel Suid-Afrikaners onder die indruk is dat daar geen verskil tussen die minister van elektrisiteit, die minister van minerale hulpbronne en energie, en die minister van openbare ondernemings is nie, sê Magwenya dat daar wel is omdat van dié ministers se magte nou aan Ramokgopa oorgedra is.

Art. 34(1) van die Wet op Elektrisiteitsregulering, wat tot dusver by Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, berus het, is nou aan Ramokgopa oorgedra. Dít terwyl Mantashe steeds verantwoordelik is vir art. 34(2) van dieselfde wet.

Art. 34(1) handel oor nuwe opwekkingskapasiteit en maak voorsiening dat Ramokgopa, in oorleg met die Energiereguleerder, kan bepaal dat nuwe opwekkingskapasiteit nodig is om die voortgesette ononderbroke voorsiening van elektrisiteit te verseker. Hy kan verder ook die soort energiebronne waaruit krag opgewek moet word, asook die persentasies elektrisiteit wat uit sodanige bronne opgewek moet word, bepaal.

Mantashe sal egter steeds in beheer wees van die verkrygingsproses van nuwe opwekkingskapasiteit, wat deur die Onafhanklike Kragprodusentekantoor (IPP-kantoor) uitgevoer word. Die IPP-kantoor sal verantwoordelik bly vir die inwerkingstelling van verskeie inisiatiewe wat in die energie-aksieplan uiteengesit word.

Sake wat oor die algemeen met energiebeleid verband hou, soos langtermyn-energiebeplanning, regulering, brandstofprysbepaling, petroleum- en gasbeleid, pypleidings en die lisensiëring daarvan, sal Mantashe se verantwoordelikheid bly.

Ingevolge die Eskom-omskakelingswet bly Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, die verteenwoordiger vir aandeelhouers van Eskom. Dit sluit in die aanstelling van die Eskom-raad en toesig oor die herstrukturering van Eskom in drie afsonderlike entiteite vir opwekking, transmissie en verspreiding.

Gordhan se huidige fokus is op die voltooiing van die stigting van die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika, as deel van die breër hervorming van die energiesektor.

“Hierdie verdeling van verantwoordelikhede sal die minister van elektrisiteit in staat stel om ʼn toegewyde fokus op die onmiddellike krisisreaksie te hê terwyl ander funksies steeds by die betrokke ministeries bly,” sê Magwenya.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nie Verbaas ·

So hy is aangestel om Mantashe en Gordhan se werk vir hulle te doen waarvoor hy ook totaal onbevoeg is?

Di ·

AL verskil is dat hy ook ‘n helse salaris verdien enNIKS doen soos die res van hulle. Mors van ons belasting betalers se geld

Amelia ·

ag what ever net nog n minister wat niks doen en miljoene aan salaris verdien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.