‘Wat rook Nxesi?’ vra kraamverlofeisers

Sommige mense sê die verwerking en uitbetaling van eise duur maande en soms selfs jare lank. (Foto: Maroela Media)

Die minister van arbeid en indiensneming hou dalk vol die uitbetaling van kraamverlofeise deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) loop klopdisselboom, maar diegene wat dié proses onlangs gevolg het, meen min. Thulas Nxesi het dit duidelik nog nooit self probeer doen nie.

Nxesi het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van Heloise Denner, ʼn VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor arbeid, gesê tussen 1 Desember 2021 en 28 Februarie vanjaar is altesame 26 131 eise vir kraamverlof by die WVF ingedien.

Hiervan is 22 774 eise goedgekeur en 22 188 eise is uitbetaal.

Volgens die minister het die WVF ʼn omkeertyd van vyf werksdae om die eis uit te betaal en dié vyf dae word bereken vandat die fonds die sogenaamde betalingsvoortsettingsvorm van die aansoeker ontvang het. Eisers met wie Maroela Media gepraat het, sê egter hulle wag soms tot ses maande vir hul geld om uitbetaal te word.

Maar Nxesi hou vol: “Tans is daar geen agterstand met geldige kraamverlofeise nie. Die eise word binne die voorgeskrewe omkeertyd verwerk. Daar is geen geldige eise wat nie volgens skedule is nie en dus geen agterstand nie.”

Nxesi sê daar is verskeie redes waarom ʼn eis afgekeur kan word. Dit sluit in onvolledige of verkeerde dokumente of inligting, geen of verkeerde stawende dokumente, of byvoorbeeld ʼn uitstaande verklaring van ʼn werkgewer.

“Sodra alle uitstaande dokumente of inligting van ʼn eiser volledig verskaf is en akkuraat en naspeurbaar is, word daar van die WVF verwag om die aansoek binne tien dae goed te keur, of te verwerp,” het die minister in sy geskrewe antwoord gesê.

Watwou, sê diegene wat die afgelope paar maande onophoudelik met hul eise gesukkel het.

“Daar is nie ʼn manier dat die proses verloop soos die minister sê nie,” sê ʼn Pretoriase vrou wat haar huiswerker gehelp het om aansoek te doen vir ʼn kraamverlofeis.

Sy het die huiswerker gehelp om al die vorms in te vul en die vrou is self na ʼn kantoor van die WVF om dit ook per hand in te dien.

“Ná haar vier maande kraamverlof het sy teruggekeer werk toe en nog nie ʼn sent van die fonds gekry nie.”

Die vrou sê die eis is herhaaldelik afgekeur, kwansuis omdat dit gebrekkige inligting bevat het. Soms is dit teruggestuur omdat die inligting glo foutief was. “Net as jy dink jy is nou klaar, soek hulle nog iets, maar hulle vra nooit alles tegelyk nie.

“Ek het e-pos op e-pos gestuur, heen en weer.”

Sy het haar later tot die VF Plus gewend in ʼn poging om hulp te kry.

Sommige vroue sê hulle het jare lank getrou hul bydraes aan die fonds gemaak, maar noudat hulle ‘n eis indien, word daar maande lank gesloer. (Foto: iStock)

Nadat die inligting op die eisdokumente amptenare ná talle probeerslae klaarblyklik tevrede gestel het, is die eis einde ten laaste goedgekeur en uitbetaal. “Ek weet werklik nie hoe mense regkom wat nie toegang tot tegnologie het of iemand soos die VF Plus wat hulle kan help nie.”

Volgens die minister spruit die poel klagtes uit aansoeke vir uitbetalings uit die tydperk van September verlede jaar tot Maart vanjaar.

Altesame 11 605 aansoeke vir kraamverlofeise is ingedien, maar kon nie betaal word nie omdat daar uitstaande inligting is, voer Nxesi aan.

Francine Prins is van Paarl in die Wes-Kaap. Sy het in Mei 2020, lank voor dié tydperk, ʼn eis ingedien. Sy het tot vandag nog nie ʼn sent ontvang nie.

“Ek het af en toe ʼn SMS gekry om te sê my aansoek is nie aanvaar nie,” sê sy. Een spesifieke vorm, bekend as ʼn UI19, is kwansuis uitstaande.

Prins het van ʼn agentskap gebruik gemaak om die administrasie namens haar te hanteer en hulle het dié spesifieke vorm reeds male sonder tal namens haar ingedien. Dit wys egter steeds nie op die UFiling-stelsel, die fonds se aanlyn administrasiestelsel, nie.

“ʼn Mens is gewoond aan ʼn sekere salaris en jy het bepaalde uitgawes.

“Dit gaan vir my egter ook oor die regverdigheid daarvan. Elke maand word daar ʼn bedrag van my salaris afgetrek om aan die WVF te betaal, maar wanneer ek dit nodig het, word dit nie aan my uitbetaal nie,” sê sy.

Dit is reeds byna twee jaar sedert sy die eis aanvanklik ingedien het. Prins se tweede kind word binnekort gebore en sy beoog om opnuut te probeer om ʼn suksesvolle verwerking van haar eis te verseker. Maar sy hou nie haar asem op nie.

Prins sê wat haar selfs meer bekommer, is die minister se antwoord dat die verwerking van eise op datum is.

“Óf hy vertel leuens, óf hy het geen benul wat in die departement aangaan nie.”

Die eienaar van ʼn maatskappy wat help met die administrasie van eise, sê aansoekers wag maklik tot ses maande vir ʼn uitbetaling en heel dikwels selfs langer. “Daar is dalk een of twee eise wat vinnig gedoen word, maar dit neem beslis nie vyf dae nie. Jy is bly as dit ʼn maand of twee duur.”

Weet die minister dan nie?

Die VF Plus sê ook die minister se antwoord is teenstrydig met die klagtes wat die party daagliks van aansoekers ontvang.

“Die minister se antwoord is onaanvaarbaar, ek het byna van my stoel geval. Ek praat elke dag met mense hieroor en uit daardie praktiese ondervinding is dit nie die geval nie.

“Dit wil daarom voorkom of die minister van arbeid en sy departement óf nie weet wat in hierdie entiteit aangaan nie, óf blatant oneerlik is oor die situasie,” sê Denner.

Volgens haar is die fonds se administrasie swak en kan dit waarskynlik tot groot mate aan onbevoegdheid of swak werksetiek toegeskryf word. “Daar moet bevoegde amptenare aangestel word en daar moet gevolgebestuur wees. Mense word bloot nie aanspreeklik gehou vir swak diens of werk nie.”

Nog ʼn probleem is kaderontplooiing, sê Denner. “Jy moet bevoegde mense aanstel, mense met bewese werksondervinding en kwalifikasies en wat verantwoordelik gehou word.”

Denner sê mense is veronderstel om te kan staatmaak op dié uitbetalings in ʼn tyd van nood. “Dit gaan sleg met baie ondernemings en mense, en nou wag jy maande, soms selfs jare lank, om ʼn uitbetaling te kry.

“Jy het jou bydrae reeds aan die fonds gemaak, maar weens die WVF se gesukkel word jou eis nie uitbetaal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Wys n mens net weereens hoe ver verwyderd ANC van realiteit is.

Jurgens ·

Soms wag mens vier jaar sonder dat een sent uitbetaal word.

Misky ·

My jongste seun word volgende maand 18. Ek wag steeds vir my “maternity leave” om uit te betaal. Toe ek destyds navraag gedoen het, het die stelsel aangedui my geld is uitbetaal oor 6 maande. Ek het nie ‘n sent ontvang in my bankrekening nie.

Nie Verbaas ·

Laat weet Solidariteit. Weer in n kader se rekening in.

Estelle ·

Ek het Oktober 2020 aansoek gedoen toe ek afgetree het. Ek wag steeds. Ek kan ook nie vir SASSA aansoek doen voor WV uitbetaal het. Ek bel en epos hul weekliks. Uitbetaling is goedgekeur, maar lê al weke by betaalmeester. Niemand kan help. Ek is desperaat.

Cecilia ·

Dit gaan al jara lank so. My oudste is 1998 gebore. Ek was al terug by d werk na 4mnde op kraamverlog. Toe betaal hulle eers d geld uit. Ook elke keer was daar kwansuis n vorm kort of onvolledig.
Met my jongste in 2002 was ek slim. Maak afskrifte en laat hulle teken vir elke vorm.
Binne 2 mnde het my eis uitbetaal

D minister sit in sy grand kantoor. Hy het nie n idee wat aangaan nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.