Waterkrisis: Geen hoeveelheid reën sal SA red

Argieffoto (Foto: teetasse/Pixabay)

Die langverwagte reën het die afgelope week oor groot dele van die land uitgesak en Suid-Afrikaners het die hoop uitgespreek dat die voortslepende droogte binnekort gebreek sal wees. Kenners wys egter daarop dat geen hoeveelheid reën Suid-Afrika se waterkrisis sal oplos nie.

Die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, het verlede maand gewaarsku watertekorte staar groot dele van Suid-Afrika in die gesig.

Volgens Sisulu is Suid-Afrika een van die 30 droogste lande ter wêreld. Meer as 60% van die land se water word vir landbou gebruik wat 27% vir die land se nagenoeg 58 miljoen inwoners laat.

Die grootmaatwatervoorsiener Rand Water het verlede maand aangevoer dat verbruik bloot onvolhoubaar geword het.

Dit is nie weens die droogte nie, maar swak infrastruktuur, korrupsie en die wanbestuur van ons waterbronne.

Volgens kenners word dié krisis voor die deur van die land se ineenstortende infrastruktuur gelê en nié die voortslepende droogte in groot dele van die land soos talle dalk dink nie.

“Die ANC laat Suid-Afrika in die steek en miljoene mense moet voortsukkel sonder water. Dit is nie weens die droogte nie, maar swak infrastruktuur, korrupsie en die wanbestuur van ons waterbronne,” sê Leon Basson, die DA se skaduminister vir water. Piet Meu, VF Plus se woordvoerder van water en sanitasie, sê ʼn tekort aan opgaardamme, die vinnige bevolkingsgroei, en die instroming van miljoene immigrante uit Afrika dra ook by tot die probleem.

“Daar is geen kans dat reënval gaan help nie. In werklikheid kry ons nou destruktiewe reën wat net die land se infrastruktuur verder verwoes,” meen dr. Anthony Turton, ʼn wêreldwaterkenner.

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Turton verduidelik dat daar geen korttermyn-oplossing vir Suid-Afrika se waterkrisis is nie, aangesien infrastruktuur minstens 20 tot 25 jaar neem om te herstel.

Die situasie is benard. Ons verloor 41% van die land se water weens gebrekkige infrastruktuur. Die water wat ons verloor, beloop ʼn verlies van R9,9 miljard per jaar, verduidelik Basson.

Albei kenners meen een van die grootste oorsake van die tekort aan water is die gesloer met die Lesotho-hooglandwaterprojek, ʼn multimiljoenrandse projek wat dekades gelede van stapel gestuur is om water in samewerking met Lesotho aan Suid-Afrika te voorsien.

Die eerste fase van dié projek is reeds in 2004 voltooi. Die tweede fase van die projek moes reeds vanjaar klaar gewees het, maar weens voortslepende vertragings deur die regering sal dit na verwagting eers in 2026 voltooi wees.

“Dit gaan miljoene meer kos om klaar te kom. Die Katsedam [in Lesotho] is 12% vol en dit reën nie daar nie. Daar is destyds gesê dat Suid-Afrika in 2019 ʼn waterkrisis gaan beleef. Hier is ons nou en die tweede fase is nie klaar nie.”

Turton glo dat die projek onder leiding van die ANC “gekaap” is met die aanstel van onbevoegde kontrakteurs en ander verskaffers.

“Die ingenieursproses is verpolitiseer,” meen hy.

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Volgens Basson wend die regerende party geld op verkeerde plekke aan. Hy verwys na R2,9 miljard wat voorheen ook aan ʼn waterprojek bestee is om 10 000 studente op te lei om lekkasies in damme te herstel. “Die projek het nie ʼn druppel gespaar nie. Ons het 36% van ons water verloor toe hulle destyds met die projek begin het. Die projek is nou stopgesit en ons waterverlies is nou 41%. Daar is geen dringendheid in ANC-geledere om die waterkrisis aan te pak nie.”

Dit beteken egter nie dat Suid-Afrikaners nie hul deel kan doen om water te bespaar nie, meen Basson. “As jy 41% van jou ondergrondse water verloor, sê dit mos ons hét water.”

Volgens Basson moet die ANC kers opsteek by die Wes-Kaapse wetgewer wanneer dit kom by waterbesparing en krisisbestuur.

Kaapstad het op die harde manier geleer dat water bespaar moet word. Bywette moet verander word en mense gedwing word om minder water te gebruik.

Basson vertel dat die Wes-Kaap se damvlakke nou op ʼn gemiddeld van 85% lê en steeds bespaar Kapenaars water. “Hulle het waterwys geword. Dit moet in die res van die land gebeur.”

Mey sê huishoudings kan help deur hul eie watertenks aan te skaf. “Dit is lank reeds ʼn gebruik in droë gebiede om water in opgaartenks op te vang. Suid-Afrika het 17 miljoen huishoudings wat deel kan wees van die oplossing van die waterprobleem.” Hy meen die regering moet self watertenks aan arm huishoudings verskaf.

Turton sê Suid-Afrikaners moet ook meer bewus wees van waterbesparing en dat inisiatiewe soos die skoonmaaksessies wat tans by die Hennopsrivier in Gauteng plaasvind ʼn verskil kan maak – hoe gering ook al.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

42 Kommentare

jongste oudste gewildste
Penellope Jones

En dan is daar nog besoedeling in sommige riviere en damme!!

Arie

En die anc het gedink alles wat gebou was hou hulle self in stand, hulle ken van afbreek maar van bou níks!!!

Blommie

En van die bevolkingsaanwas word ook niks gesê nie!!

Vrydenker Vlakvark

Groot dele van die noord-weste van Suid-Afrika moes nooit omgeploeg gewees het nie.

Tweedens: welke persentasie van Tafelberg se fonteinwater word benut?

Derdens: en dan reken ANC-leiers dat Suid-Afrika ook nou gaan toetree tot die 4de Industriële Revolusie! Whow!

Intussen lag die Draak van Ekonomiese Wêreldkompeteerbaarheid vir die Suid-Afrikaanse “nasie” wat nie eens sy waterbronne optimaal kan benut nie, wat nog van ekonomies wêreldkompeterend te wees. Tragies. Die Suid-Afrikaanse staat met sy onnatuurlike histories Britse imperialisties-kolonialistiese grense kan maar net sowel verbrokkel. Die ANC-vakbonde gaan SA nie kan red nie. Nog minder die waterkrisis oplos.

John

Dit is seker dat die inwoners nou gedruk gaan word om H2O te spaar eerder as dat die regering iets reg sal begin doen. Ons het reeds duisende bome regoor die land verloor, praat nie eers van struike en gras nIe. (Plase weet ons is verby vermelding so katastrofies gaan dit daar.) Vir die opgedresste minister om so ‘n aankondiging te maak sonder planne is skaamteloos verby. Tenks aan te beveel vir huishoudings wat nie eers meer krag kan bekostig nie, is ‘n siek grap. En 90 jaar gelede het die Groot Depressie begin. Daar is slegte tekens in die… Lees meer »