Waterkrisis wys opnuut belangrikheid van verskansing teen staat

Foto ter illustrasie (Foto: Piaxabay)

Terwyl die regering van die een krisis na die ander strompel, eers die elektrisiteitskrisis en nou ʼn dreigende waterkrisis, noop dit Suid-Afrikaners om hulself al meer teen die staat te verskans.

Volgens Riaan Grobler, hoof van adviesdienste by Everest Wealth, begin al meer Suid-Afrikaners hul eie krag deur sonpanele opwek om minder van die staat vir elektrisiteit afhanklik te wees.

“Suid-Afrikaners het ook reeds begin om watertenks en aanvullende produkte, soos boorgate en waterpompe, by hul huise te installeer ten einde ook met watervoorsiening minder afhanklik van die staat te wees,” sê Grobler.

Grobler beklemtoon dat met die vinnige agteruitgaan van waterverskaffing en -infrastruktuur, word Suid-Afrikaners gedwing om ander planne te maak om hulle teen die staat te verskans en onafhanklik te word.

Hoewel die proses om onafhanklik te word ʼn duur uitstappie kan wees, hou dit egter ook voordele vir Suid-Afrikaners in. Die grootste hiervan is natuurlik die voordeel om jou eie waterbronne te hê, aldus Grobler. Ander pluspunte sluit die waardeverhoging van eiendom in.

“ʼn Boorgat of watertenks is sogenaamde groengeriewe en kan die waarde van jou eiendom verhoog aangesien voornemende kopers deesdae op soek is na huise wat meer bestand is teen wisselvallige krag- en watertoevoer.”

Die regering probeer intussen die Wetsontwerp op die Nasionale Waterhulpbron-infrastruktuuragentskap deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) druk nadat dit einde verlede maand deur die Nasionale Vergadering aanvaar is. Die wetsontwerp maak voorsiening vir die totstandkoming van ʼn staatsagentskap wat aan die stuur sal wees van alle waterdienste en nasionale waterinfrastruktuurprojekte.

“Dit is bemoedigend dat die staat die private sektor se hulp met die waterkrisis wil inwin, maar die totstandkoming van nog ʼn staatsinstelling, basies ’n Eskom vir water, word ongelukkig met agterdog bejeën weens staatsinstellings wat sinoniem geword het met korrupsie en wanadministrasie. Openbare vertroue in die regering en staatsinstellings is oor die afgelope jare weggekalwe.”

Grobler wys daarop dat dit belangrik is om ook jou geld so ver as moontlik van die regering te beskerm. “Daar is verskeie maniere hoe die staat sy hande op jou geld kan lê, hetsy deur meer belasting of voorgeskrewe bates, so dit is belangrik om jouself te bemagtig en jou geld teen risiko’s te beskerm.

“Dit verg deeglike beplanning, maar daar is verskeie opsies om jou geld beter teen die staat te verskans. Daar is byvoorbeeld verskeie maniere om binne die wet jou belastingplig te verminder of om in alternatiewe beleggings te belê vir verbruikers om hul finansieel te verskans en te beskerm.”

Maroela media het vroeër berig dat adj.pres. Paul Mashatile van voorneme is om die land se waterkrisis te pak deur die landbousektor, AfriForum en Solidariteit te betrek.

In reaksie hierop het TLU SA gesê dat die dreigende probleem lankal aan die groot klok gehang is, maar dat kundige werkers destyds – aan die begin van oudpres. Jacob Zuma se termyn – die deur gewys is om plek te maak vir kaderontplooiing.

Dit het boonop nie net oor die toestand van infrastruktuur vir waterverspreiding gegaan nie, maar ook oor die beskikbaarheid en gehalte van water.

Sedertdien is waterheffings klaarblyklik geensins aangewend vir die behoorlike bestuur en beheer van waterbronne nie.

Solidariteit en AfriForum het nietemin gesê dié organisasies is bereid om hulp te verleen indien Mashatile hulle betrek, mits die regering ernstig daaroor is en dit nie bloot verkiesingspraatjies is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

Wees maar versigtig, die integriteitloosheid van die anc regering is alom bekend.

domheks ·

Alles word nou voor die verkiesing aangepak om punte/stemme te wen. Moet nie alles vir soetkoek op eet nie! PASOP!!!!

JohanR ·

Dankie DA. Ons het darem nog water hier in die Wes-Kaap. Weet nie hoe lank dit sal wees as die Wes-Kaap gaan na ‘n alliansie tussen ANC/EFF/MK/PA/GOOD. Dit sal nag wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.