Laat staan politieke inmenging om waterkrisis te ontlont

water, kraan, waterskaarste, dienslewering, druppel, droog, dienslewering

(Argieffoto: Maroela Media)

Kundige werkers is die deur gewys om plek te maak vir kaderontplooiing en Suid-Afrikaners betaal vandag die duur prys daarvoor, sê TLU SA in reaksie op adj.pres. Paul Mashatile se voorneme om die land se waterkrisis te pak deur die landbousektor, AfriForum en Solidariteit te betrek.

Mashatile het in ʼn onderhoud met Sunday Times gesê die regering wil na hierdie groepe uitreik vir hulp om ʼn volskaalse waterkrisis in die land te voorkom. Mashatile sê die kwessie moet “gedepolitiseer” word sodat diegene wat kan bydra na vore kan tree. Hy staan aan die hoof van ʼn watertaakspan wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is om ʼn waterkrisis soortgelyk aan die elektrisiteitskrisis te probeer vermy.

TLU SA sê dat daar dringend aan toekomstige watervoorsiening aandag gegee moet word, is reeds aan die begin van sy termyn aan oudpres. Jacob Zuma genoem. Dit het nie net oor die toestand van infrastruktuur vir waterverspreiding gegaan nie, maar ook oor die beskikbaarheid en gehalte daarvan.

Sedertdien is waterheffings klaarblyklik geensins aangewend vir die behoorlike bestuur en beheer van waterbronne nie. TLU SA sê kundiges is laat gaan en vervang met mense wat nie noodwendig in staat is om die kompleksiteite van waterbestuur na behore na te kom nie.

Die organisasie “sal uiteraard meedoen aan gesprekke om te verseker dat die nodige kundigheid vir doeltreffende waterbestuur ingespan word om die tydbom wat oor tyd heen geskep is, te ontlont en watervoorsiening weer op ʼn stabiele koers te plaas”.

Voordat enige tyd en energie egter hieraan afgestaan word, sal daar eers oor die basis waarvan gewerk word, ooreengekom moet word. Betrokke partye sal onbevange moet kan funksioneer en politieke inmenging wat kundigheid neutraliseer, sal ter syde gestel moet word.

“Dit gaan oor veel meer as net die bestuur van water en die intrek van kundigheid. Solank die regering van die dag nie toesien dat die grense van die land behoorlik bewaak word nie en derduisende vreemdelinge onbeheers oor die poreuse grense stroom, sal daar steeds druk op skaars waterbronne wees. Enige oplossings sal dus deurentyd verydel word,” sê Henk van de Graaf, TLU SA se voorsitter van die Noordstreek.

ʼn Langtermyn-watervisie, met ʼn omvang van 360 grade, is lewensbelangrik.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê ook “indien kundiges nie toegelaat word om die nodige aanpassings te doen nie, sal hierdie poging van die ANC ook beskou moet word as ʼn stukkie politieke spel voor die verkiesing”.

TLU SA sê die ANC moet hom daartoe verbind om kaderontplooiing ter syde te stel sodat die beste kundiges op ʼn spesifieke terrein, ongeag hul ras of geslag, aangestel word.

Indien dieselfde mense wat die probleme veroorsaak het steeds in die posisies is waarvoor daar nou oplossings verkry moet word, sal almal se insette net ʼn vermorsing van kosbare kapasiteit wees, sê die organisasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henry ·

Ons sal meedoen as eiendomsreg beskerm en verseker word. Anders gaan water as bate ‘n verskoning word om grond te vat. En in iedere geval, waarom sal ons iemand help wat aktief en doelbewustelik téén ons werk? As julle water en kos wil hê, wil ek verseker wees dat my kinders en kleinkinders nog hier kan boer en bly.

Raadsman ·

As dit van die ANC afhang, sal hulle emmers uit deel vir almal om water te gaan skep by riviere en spruite om die probleem op te los. Dit is voldoende aan hulle standaarde. Mag sal altyd belangeriker wees as diensverskaffing, maak nie saak wat dit die belasting betaler kos nie.

Heinrich ·

TLU en Afriforum moet maar eers betaling ontvang voordat werk begin; in die lig van die ANC se geskiedenis van rekeninge betaal vir dienste gelewer.

Marous ·

Foeter alles op en kom staan dan bakhand vir hulp net om daarna weer op jou te spuug . Dis die waarheid .

Amelia ·

Stel maar eers die kundiges aan in parmente poste anders sien en kom klaar Ja ek weet almal gaan daar onder lei maar darm nie net weer sekeres nie (minderheid ) so laat almal dan maar betaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.