Waterprobleme in Pta gaandeweg beter

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Inwoners in die meeste buurte in die ooste van Pretoria het sedert Dinsdagaand weer water in hul krane soos reservoirs se watervlakke stelselmatig begin verbeter.

Die Stad Tshwane gaan nou ingryp om watertoevoer na hoogliggende gebiede te herstel, en om gebiede waar watertoevoer reeds herstel is, te stabiliseer.

Themba Fosi, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste en streeksbedrywighede, sê die Parkmore-reservoir staan tans op 86%, die Waverley-reservoir op 99% en die Monumentpark-reservoir op 67%.

“Die belangrikste ingryping, noudat ons die Garsfontein-reservoir se kapasiteit herstel het tot ʼn gesonde vlak van 73%, is om die watertoevoer van Garsfontein na Mooikloof te kanaliseer. Hierdie proses sal geruime tyd neem, maar behoort tot vinniger herstel na hierdie hoogliggende reservoirs te lei,” sê Fosi.

“Ons sal ook die proses monitor en bestuur om te verhoed dat enige van die gebiede wat van die Garsfontein-reservoir afhanklik is, in die gedrang kom.”

Watertoevoer na Eersterust en Mamelodi is herstel, maar die stad is steeds bekommerd oor hoë waterverbruik.

Weens die ingryping om water te herstel na gebiede sonder enige watertoevoer, kan sommige van die gebiede met herstelde water lae waterdruk ervaar.

“Dit behoort nie rede tot kommer te wees nie aangesien ons die situasie noukeurig sal monitor om te verseker dat watertoevoer nie weer afgesny word nie.”

Die metro het ʼn beroep op inwoners gedoen wat wel water het om dit spaarsaam te gebruik om die reservoirs die geleentheid te gee om behoorlik te herstel.

“Inwoners moet vir die volgende paar dae eerder stort as bad. Hulle moet ook nie hul motors was of tuine natlei nie.”

Watertenkwaens word steeds na geraakte gebiede ontplooi en dit sal gedoen word tot alle gebiede se watertoevoer volledig herstel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.