Wedstryd ná die Bok-wedstryd loop soos stroop

‘n Skermgreep uit die video wys watter vet pret daar tydens die “wedstryd na die wedstryd” was. (Skermgreep: TikTok/tino_musiek)

Die video is getiteld Die game ná die game en hoewel die Springbokke se toets teen Wallis die afgelope naweek menige Bok-ondersteuner soms in sy hande (en meer dikwels dalk in sy bier) wou laat huil, was ʼn groep entoesiastiese Loftus-besoekers se spontane “wedstryd” heelwat meer aanskoulik.

Die TikTok-video, kompleet met kommentaar oor die game, is reeds duisende kere op sosialemediaplatforms gekyk en talle kere gedeel.

Ruan van der Colff, een van die ywerige spelers in die video, sê hulle was ʼn groep vriende van Pretoria tot Malelane, eMalahleni en Standerton wat saam na die toets gaan kyk het. Hulle is ná die wedstryd – wat Suid-Afrika danksy ʼn strafskop in die doodsnikke van die wedstryd met 32 – 29 gewen het – terug na die kuierarea by die stadion waar hulle die oorwinning verder gevier het.

“Vir die mense wat wonder, daar was nie brandewyn betrokke nie …” skerts Van der Colff oor die manne se wedstryd.

ʼn Bierblikkie het wel aanvanklik diens gedoen in die plek van ʼn rugbybal tot iemand die ware Jakob te voorskyn gebring het en die wedstryd, wat eers net met ʼn paar lynstane begin het, behoorlik vlamgevat het.

“Ek weet nie by wie ons die bal gekry het nie, maar iemand het een aangebring en toe begin ons pass en skop – en toe ons weer kyk is dit vol kontakrugby.”

In die video kan gesien word hoe twee manne mekaar en ʼn heining platduik – dis onbekend of die heining vir die opposisie gespeel het – maar Van der Colff gee die versekering dat niemand beseer is nie. Die gebrek aan beserings is waarskynlik hoofsaaklik te danke aan die skeidsregter (nogal met fluitjie en al) wat die wedstryd eindelik afgelas het.

“Niemand het seergekry of gebloei nie,” lag hy.

Van der Colff sê die meeste van die ouens speel klubrugby en die lywe was Maandag darem “nie heeltemal seer nie”. Daar was wel ʼn paar ooms wat saamgespeel het wat effe lanklaas self op die veld gedraf het, maar aan begeestering nie kortgekom het nie.

Hulle het nie eens geweet iemand maak ʼn video van die wedstryd nie, tot iemand Sondag laat weet het dat hulle kaperjolle soos ʼn veldbrand versprei. Sedertdien bly hulle fone besig met mense wat wil saamgesels … en vrae oor een of twee van die meer verdagte plettervatte wou vra.

“Dit was net lekker vet pret,” sê Van der Colff.

Enigiemand wat wou, kon inval en saamspeel. “Almal word vriende want ons is almal lief vir rugby.”

Oor die wedstryd tussen die Bokke en Wallis sê Van der Colff daar was veral in die eerste helfte ʼn hele paar benoude oomblikke terwyl die tuisspan oënskynlik net nie aan die gang kon kom nie.

Teen halftyd het Wallis ʼn voorsprong van 18 – 3 gehad en die stampvol Loftus het in toenemende spanning al hoe stiller geword. Die benarde situasie is in die tweede helfte minstens omgekeer en die Bokke het eindelik met ʼn oorwinning weggestap.

“Gelukkig kon ons daai wedstryd deurtrek, danksy Damian Willemse se skop, maar ek dink nie dieselfde gees sou na die tyd daar gewees het as die Bokke nie gewen het nie,” sê Van der Colff.

@tino_musiek

“die game na die game” ???????? #fyp #rugby #funny #savswales #springboks #funnytok #satiktok???????? #xyzbca

♬ original sound – William Rose

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swerwer ·

Wonderlik, en dit is weereens ‘n bewys dat waar die ANC en EFF nie betrokke is nie, is daar ‘n goeie samesyn tussen ons land se landsburgers. Die gees is net wonderlik

Pannies ·

Dis hoe mense van hul frustrasies ontslae raak op n goeie manier.
Ander mense breek onskuldige mense se motors en eiendom of brand iets af.

Frank ·

Ai, ons boere skep ons eie pret., Unieke kultuur en mens ons boere!

Pietertjie ·

Wat van ons verander die Springbok-embleem na ‘n Boerbok? Dit sal meer van pas wees.

twaalfboor ·

Pieterjie, wat van jy haal jou kop uit die sand uit en wees deel van ñ oplossing in ons land, in plaas van kritiseer waar ookal jy gaan?

Marilize ·

Dis kommin wanneer die skeidsregter deur ouers en spelers aangerand word na ‘n game. Die game na die game was nie kommin nie

madels ·

Ek kry hoendervleis! Wat n wonderlike gebaar van almal wat deelgeneem het, sjoe! Ons mooi landjie en sy se mense ka darem saam vet pret hê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.