Weermag-rantsoenpakke: Man in hof

(Argieffoto)

ʼn 59-jarige man het in die handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn in verband met die beweerde vervalsing van vervaldatums op rantsoenpakke wat aan die weermag verskaf is.

Stephen Wallace Weir is op borgtog van R50 000 vrygelaat. Hy word van bedrog, diefstal en vervalsing aangekla sowel as van oortreding van die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels.

Sy maatskappy, Serac MRE (Edms.) Bpk., het ʼn tender van die departement van verdediging ontvang om miljoene rantsoenpakke te lewer vir weermaglede wat opgeroep is vir die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie. Die maatskappy het na bewering die datums op die voorafverpakte kos vervals deur die “beste voor”-datums te verander.

Maroela Media het in April berig oor video-opnames wat na bewering gewys het hoe die datums verander word deur die ou datum met ʼn plakker te bedek waarop ʼn nuwe datum aangebring is.

Weir het destyds beweer dat die rantsoenpakke aan die hoogste standaarde voldoen en deur die nasionale reguleerder vir verpligte standaarde getoets word voor dit aan die weermag gelewer word.

Die weermag betaal R171 per sewe dag-rantsoenpak.

Die weermag se skakelkantoor het toe bevestig dat ʼn klag van bedrog teen die verskaffer by die militêre polisie gelê is terwyl die hoof van die weermag, genl. Solly Shoke, gesê het dat die beweerde oortreding op sabotasie sou neerkom as dit waar is en bewys kan word omdat die weermag se mandaat is om Suid-Afrika te beskerm.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, is Weir gister in hegtenis geneem ná ondersoeke deur die polisie. Die saak is tot 25 November uitgestel vir ʼn voorlopige verhoordatum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Nou, hoe oud was die kos? Hoeveel het siek geword en hoeveel is dood van die kos? Daar is baie van hierdie Pakistanis winkels wat vervalde kos goedkoop verkoop. Gaan kyk maar hoe koop our people dit en dan word daar nie gekla nie. En wie verdedig hulle? Hulle kan nie eens na hulself kyk nie. Ek dink die probleem is dat hulle keelvol was vir “ratpacks”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.