Weermaglid help glo gevangenes ontsnap

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Twee verdagtes is Dinsdagaand in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by die aanval op polisiebeamptes wat ses verhoorafwagtende gevangenes vervoer het. Een van die verdagtes is ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW).

Maroela Media het vroeër berig die gevangenes is Maandag deur ʼn groep swaar gewapende verdagtes langs die Vivopad in Limpopo bevry. Twee polisiebeamptes is in die proses ernstig gewond.

Lede van Limpopo se opsporing-, moord-en-roof-eenheid, het inligting oor die verdagtes ontvang en nie op hulle laat wag nie. Kedibone Albert Langa (38), ʼn lid van die SANW, asook Thabani Sibanda (28), ʼn Zimbabwiese burger, is kort ná die voorval in Musina in hegtenis geneem. Sibanda is glo die broer van een van die ontsnaptes.

Die polisie het ook beslag gelê op ʼn grys Mercedes-Benz en ʼn wit Toyota-bakkie wat vir die misdaad gebruik is. Die ses ontsnaptes, almal van Zimbabwiese afkoms, is egter steeds op vrye voet.

Die twee wat hulle glo help ontsnap het, het Woensdag in die Louis Trichardt-landdroshof verskyn en sal tot 22 Maart vir verdere ondersoek in aanhouding bly. Hulle staan ​​tereg op verskeie aanklagte, waaronder sameswering om misdaad te pleeg, die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, poging tot moord, regsverydeling, opsetlike saakbeskadiging en die afvuur van ʼn vuurwapen.

Lede van die gemeenskap word versoek om die polisie in kennis te stel indien hulle enige inligting oor die ontsnaptes of ander verdagtes het.

Die VF Plus het intussen gesê die provinsiale regering moet hom sterk uitspreek teen geweldsmisdaad in Limpopo, en onderneem om die voorval deeglik te ondersoek om al die skuldiges vas te trek.

“Wat veral kommer wek, is dat die plaasboere en lede van die plaaslike buurtwag in Musina, wat aanvanklik die misdadigers in samewerking met die polisie aangekeer het, moontlik nou geteiken kan word.

“Maatreëls moet ingestel word om sulke voorvalle te voorkom.”

Enigiemand met inligting rakende die verdagtes of gevangenes kan kol. Nyelisani Mabatha by 082 565 8171 óf Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Moedeloos ·

Seker lankal oor die grens terug Zimbabwe toe totdat die stof gaan lê.

Lillian ·

Mos gesê dis ‘n inside job. Daai lot is lankal oor grens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.