Weerwaarskuwings vir Kersdag

Argieffoto (Foto: Megan Swart, Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het vir Kersdag ʼn geel vlak 3-waarskuwing vir hewige donderbuie met swaar neerslae, groot hoeveelhede klein hael en skadelike wind vir die sentrale en oostelike dele van die Vrystaat, platorand en die KwaZulu-Natalse Middelland, sowel as verre oostelike dele van die Oos-Kaap uitgereik.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir hewige donderbuie met hael, sterk skadelike wind en swaar neerslae is ook vir die Gert Sibande-distrik in Mpumalanga uitgereik.

In Gauteng en die noordelike dele van Noordwes word daar ook enkele donderbuie in die laatmiddag voorspel. Daar word ook enkele reënbuie en donderbuie in die verre noordoostelike dele van die Noord-Kaap verwag.

In die Wes-Kaap sal dit meestal bewolk en koel tot warm wees met ligte reën oor die oostelike dele van die Suidkus. Dit sal opklaar vanaf die weste in die namiddag.

Die weerdiens waarsku dat die swaar neerslae tot oorstromings in kwesbare formele of informele nedersettings, op paaie, lae gebiede en brûe kan lei en ook skade aan eiendom en voertuie kan aanrig.

“Motoriste moet bedag wees op nat paaie en reënweer wat sig kan belemmer,” waarsku die weerdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.