Weinig vordering byna vyf jaar ná Lutzville-boer se moord

Jaco Louw is op sy plaas in die Lutzville-omgewing vermoor. (Foto: Facebook)

Byna vyf jaar ná die moord op ʼn boer van Lutzville in die Wes-Kaap, is die polisie steeds op soek na Jaco Louw se moordenaar.

Die Wes-Kaapse polisie se eenheid vir onopgeloste sake het nou opnuut ʼn beroep op mense gedoen om na vore te kom met enige inligting wat kan help om Jaco Louw se moordenaars aan te keer.

ʼn Plaaswerker het op Sondag 10 Februarie 2019 op die 57-jarige Louw se liggaam afgekom. Maroela Media het destyds berig Louw, wat alleen op die plaas gewoon het, is met ʼn steekwond aangetref. Hy is vermoedelik die dag tevore al op die plaas Rusverstand vermoor.

Dit was in daardie stadium onduidelik hoeveel aanvallers by die voorval betrokke was en of enigiets uit sy huis gebuit is.

Sers. Wesley Twigg, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê Louw is “geskiet en vermoor deur onbekende verdagtes wat met ʼn ongenoemde bedrag geld en ʼn vuurwapen wat aan die slagoffer behoort het, van die toneel gevlug het”.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, sers. Clayton Lewis, bel by 082 469 2461 of die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.