Welkom by die klub: Brics verdeeld oor nuwe lede

Brasilië se pres. Luiz Inacio da Silva, China se pres. Xi Jinping, pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika, Indiese eerste minister Narendra Modi en Rusland se minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov. (Foto: AFP)

Brics-leiers wat vandeesweek in Johannesburg vergader, sal die uitbreiding van die blok van vyf lande bespreek op ʼn tydstip van groot belangstelling in ʼn groepering wat verantwoordelik is vir sowat ʼn kwart van globale welvaart.

Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika verskil egter oor die aanvaarding van nuwe lede in dié klub van groot ontluikende ekonomieë wat ʼn alternatief vir die Westers geleide internasionale bestel soek.

Hier volg sommige van die sleutelkwessies.

Groeiende belangstelling

Suid-Afrikaanse amptenare sê meer as 40 lande uit die sogenaamde “globale suide” – ʼn breë term vir lande buite die Weste – het een of ander vorm van belangstelling in aansluiting by Brics getoon.

Soos die Brics-lede self, verteenwoordig hierdie land verskillende politieke ordes, ongelyke ekonomiese mag en teenstrydige diplomatieke posisies. Hulle is ook kultureel en geografies uiteenlopend. Dink Argentinië, Saoedi-Arabië, Kazakstan en Viëtnam, om maar ʼn paar te noem.

Talle is tradisioneel onverbonde lande, soos Indonesië en Ethiopië, en sommige is openlik vyandig jeens die VSA en sy bondgenote, soos Iran en Venezuela.

Nagenoeg 50 staatshoofde en regerings is by die beraad.

Brei uit, versterk

Pres. Cyril Ramaphosa kort voor die aanvang van die Brics-beraad. (Foto: GCIS)

Ontleders sê China, ekonomies die magtigste van die Brics-lande, is gretig om die klub te laat groei in iets soos ʼn teenwig vir die G7-groep van welvarende demokrasieë.

In Julie het Wang Yi, minister van buitelandse sake, Brics as “die belangrikste platform vir samewerking tussen ontluikende markte en ontwikkelende ekonomieë” bestempel en gesê China is gereed om saam met ander lede te werk om die blok “uit te brei en te versterk”.

Brics bied aan Beijing ʼn forum waar hy “homself kan voorhou as die kampioen of voorpunt van die ontwikkelende wêreld en globale suide”, sê Brian Hart van die Sentrum vir Strategiese en Internasionale Studies.

“Beijing beskou Brics as ʼn unieke platform om sy invloed internasionaal uit te brei,” sê Hart.

Vriende en vyande

Rusland en Suid-Afrika steun ook die aansluiting van nuwe lede, maar dié behoefte is strydig met die siening van Indië, die ander groot rolspeler in Brics, en ʼn ekonomiese en geopolitieke teenstander van China.

Nieu-Delhi is lugtig dat Brics ʼn manier word waarmee Beijing sy agenda beskerm en ontleders sê die botsende belange kan bepaal wie in die toekoms by die klub toegelaat word.

“China en Indië se verskille oor lidmaatskap gaan die vooruitsigte van voornemende Brics-lande en die organisasie se toekoms bepaal,” skryf Hung Trang, ʼn kenner verbonde aan die Atlantic Council.

Brasilië se president, Luiz Inacio da Silva, het Dinsdag gesê hy steun die toelating van “verskeie lande”, ook Argentinië.

Ontleders meen wanneer nuwe lede oorweeg word, sal Suid-Afrika, Indië en Brasilië ʼn behoefte aan bande met China en Rusland moet opweeg teen die moontlikheid dat hulle die VSA, ʼn reusehandelsvennoot, kan vervreem.

“Verdere uitbreiding moet gebalanseer word sodat dit nie net ʼn anti-Westerse alliansie is wat Venezuela en Iran insluit nie,” sê Jakkie Cilliers, stigter van die Instituut vir Sekerheidstudies in Suid-Afrika.

Karakter, invloed

China se pres. Xi Jinping ontmoet vir pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Cobus van Staden, ʼn senior navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Betrekkinge, sê selfs al word minder omstrede lede toegelaat, kan dit steeds ʼn baie groot uitwerking op die profiel en aansien van Brics hê.

“As Saoedi-Arabië byvoorbeeld aansluit, sal dit ʼn mate van bykomende geopolitieke gewig aan die blok gee,” sê Van Staden.

Drie voornemende lede – Bangladesj, die Verenigde Arabiese Emirate en Egipte – is in die afgelope paar jaar tot die Brics-ontwikkelingsbank toegelaat. Die bank wil ʼn alternatief vir die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds wees.

Uruguay se aansoek om die Nuwe Ontwikkelingsbank in Sjanghai in te sluit, word ook oorweeg.

Naledi Pandor, Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het dit as ʼn soort uitbreiding bestempel en sê Brics-lande by die beraad sal ʼn versoek oor die kriteria van nuwe lande oorweeg.

“Dit is moeilik om te sien wat die vereistes vir uitbreiding sal wees. Brics is ʼn uiters uiteenlopende groep en dit is te betwyfel of China magtig genoeg is om sy wil af te dwing,” sê Wits se John Stremlau.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Indië is in ‘n liefdesverhouding met die VSA se Biden vandaar die afsydigheid deesdae. Die DA en die nuwe Witdoek-Arikaners moet met Zelensky se brawe weerwag saamsmelt en ‘n aanval teen Rusland uitvoer. Genoeg is genoeg van die ‘bose’ Putin wat soveel skade in ons land aangerig het… Wat was dit nou weer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.