Welverdiende reën ná skroeiende hitte

Argieffoto (Foto: freeimages.com)

Dele van Gauteng kry sedert Sondagaand welverdiende reën nadat inwoners van dié provinsie die afgelope naweek onder skroeiende hitte gebuk gegaan het. Die koeler temperature wat met reën gepaardgaan, sal egter van korte duur wees.

Elders in die land kan dit wel nog dae lank reën en dele van Gauteng, Mpumalanga en Limpopo het reeds meer as 20 mm reën ontvang.

“In Pretoria en Johannesburg reën dit reeds van vroegoggend af en die ligte reën sal waarskynlik tot laat in die middag voortduur,” sê Tokelo Chiloane, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).

Volgens die weerdiens se amptelike reënvalsyfers het dele van Johannesbrug sedert Sondag tussen 33 mm en 48 mm aangeteken, terwyl 19 mm in Bronkhorstspruit en 33 mm in Vereniging aangemeld is.

Chiloane het gewaarsku dat die voortdurende reën in laagliggende gebiede kan opdam, wat toegang tot sekere gebiede kan bemoeilik en verkeersontwrigting kan veroorsaak.

Hoewel temperature in Pretoria en Johannesburg Maandag onderskeidelik tot ʼn koel 21 °C en 18 °C gedaal het, in vergelyking met die naweek se maksimum temperature van 30 °C, sal temperature na verwagting Dinsdag weer styg.

“Die reën sal na verwagting teen Maandagaand heeltemal opklaar, met ʼn geringe kans vir reën Dinsdagoggend,” sê sy.

“Die provinsie kan warm en sonnige weer vir die res van die week verwag, met minimum temperature van 15 °C. Vrydag kan die kwik weer tot 33 °C styg.”

Intussen kan dele van KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Mpumalanga en Limpopo reën tot later in die week verwag.

Durban en Oos-Londen sal na verwagting tot Woensdag tussen 30% en 60% kans vir reën hê, waarna dit sonnig maar koel sal wees. Durban sal minimum temperature van 17 °C hê, wat tot 24 °C kan styg, terwyl Oos-Londen temperature van tussen 14 °C en 23 °C kan verwag.

Hoewel Margate slegs 11 mm reën aangeteken het en Port Alfred sowat 9 mm, is daar kans vir sterk winde en hael Maandag.

“Gebiede langs die kus van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap kan groot hoeveelhede hael verwag wat later tot gelokaliseerde vloede en verkeersontwrigting kan lei,” sê Chiloane.

Dele van Mpumalanga en Limpopo, wat ook na verwagting tot Woensdag reën sal kry, het sedert Sondag aansienlik meer reën gehad, met sommige gebiede wat tussen 28 mm en 46 mm reën aangeteken het.

Temperature in hierdie provinsies sal egter warm bly, met temperature wat wissel van 14 °C tot 29 °C in Mbombela (Nelspruit), en 15 °C tot 28 °C in Polokwane.

Volgens Chiloane het dele van Noordwes en die Vrystaat ook klein hoeveelhede reën gekry, maar verdere reënbuie word nie hier verwag nie.

“Die res van die land sal sonnig wees met hoë temperature later die week.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Welverdiend is dit verseker nie Dankbaar sal dalk n beter woord wees

Karina ·

Dankbaar vir die 30mm wat ek hier by my in PE gemeet het. Was ‘n wonderlike gesig om te sien hoe die reen neerplas op die aarde dat die water loop. Dankie Vader vir die lafenis.

Karina ·

Maroela Media as julle weer my kommentaar verwyder, dan teken ek uit by julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.