Wêreld is SA boere se speelveld

Prof Johan Willemse, landbou-ekonoom en konsultant, sê sake vir boere lyk nie sleg nie. (Foto: Du Preez de Villiers)

Hoewel die Suid-Afrikaanse ekonomie knyp, is daar steeds meer as genoeg geleenthede plaaslik, verder op in Afrika en wêreldwyd vir boere om suksesvol te wees. Dit is die mening van prof. Johan Willemse, ʼn landbou-ekonoom en konsultant, wat vroeër vandeesweek tydens TLU SA se jaarkongres as spreker opgetree het.

Hy het gewys op die ironie dat die regering met sy sosialistiese beleid nie sy rol kan vervul nie, wat beteken dat die land vir alle praktiese doeleindes besig om te privatiseer.

“Die speelveld is nie maklik nie en gaan ook nie oor die volgende drie jaar makliker word nie, maar as boere die reëls van die spel verstaan, gaan hulle die vrugte daarvan pluk. Landbou lyk ook positief en is een van die min sektore wat groei.”

Volgens Willemse is die grootste risiko waarmee Suid-Afrikaners tans gekonfronteer word, staatsineenstorting. “Die aankondiging die naweek dat die staat nie meer geld het nie, voorspel boonop niks goeds nie en kan in ʼn doodspiraal eindig. Geld vloei die land uit en die ekonomie verswak. Soveel as 42% van Suid-Afrikaners is werkloos en 62% van jong mense tussen 15 en 24 sit sonder werk. Vandag gaan R350 miljard van die regering se geld na 28 miljoen mense en die helfte daarvan word aan kos bestee.”

Hy meen boere moet hulle begin toespits op die geleenthede wat die uitvoer van landbouprodukte bied.

“Daar is baie honger mense noord van Suid-Afrika se grense, want hulle regerings se beleid is verkeerd; hulle het nie eiendomsreg nie en daar is nie markkragte teenwoordig nie. Dit skep ʼn groot geleentheid vir boere te midde van die vallende rand, maar beteken ook dat die Land Cruisers en John Deere’s al hoe duurder raak.”

“Daar is ʼn mark vir ons produkte en dit is nie net in Suid-Afrika nie.”

Hy sê 50% van die land se inkomste is van uitvoere afkomstig en dit kan tot 60% en 70% verhoog word deur die Brics-ooreenkoms te benut.

Hy het verwys na die onlangse deurbraak toe Saoedi-Arabië weer sy grense vir Suid-Afrikaanse rooivleis oopgestel het en die avokado’s wat op pad is na China.

“Ons voer mielies, sojabone, skaapvleis, beesvleis, wild, avokado’s, bessies, sitrus, druiwe, neute en sagtevrugte uit, maar dan moet jy weet wat jy doen en die regte gereedskap hê om aan daardie mark te voldoen.

Om vooruit te boer, sê Willemse, moet jy jou onderneming verstaan, ʼn stewige sakeplan en gesonde kontantvloei hê en jou begroting moet met die werklikheid ooreenstem.

“Boere moet ook besef dat markte in siklusse beweeg en geld wegsit vir die maer jare.” Hy waarsku dat dit nou die tyd is om geld weg te sit, want die drie vet jare staan nou einde se kant toe met die weerpatroon La Niña wat nou plek maak vir El Niño. “Jy moet gereed wees as El Niño jou inkomste halveer.”

Laastens sê hy boere moet op die regte dinge fokus en besef dat hulle in ʼn sterk mededingende omgewing is. Die regte gereedskap is nodig om met minder, meer te produseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.