Werkers keer terug na Vrystaat-hospitaal

Van die pasiënte het ook maar self besems en lappe gegryp en die hospitaal skoongemaak (Foto: Verskaf)

Die situasie by die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad in die Vrystaat was teen Dinsdag weer normaal nadat gesondheidswerkers en administrasiepersoneel oor die naweek gestaak het.

Die personeel het van Donderdag af van die werk weggebly en pasiënte “aan hul eie genade oorgelaat”. Personeel het egter van Maandag af stadigaan weer vir werk aangemeld.

Na wat verneem word, het pasiënte tydens die staking honger gely en ook nie hul medikasie gekry nie. Liggame van pasiënte wat gesterf het, is ook vir ure op beddens in sale gelos, wat pasiënte uiters getraumatiseerd gelaat het.

Volgens Mariëtte Pittaway, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die Vrystaat, was die situasie teen Dinsdagoggend weer normaal en die meeste personeellede het weer vir diens aangemeld. Sy kon nog nie aan Maroela Media bevestig waarom hulle besluit het om op te hou staak en weer vir werk op te daag nie.

Die personeel is ongelukkig oor onder meer haglike werksomstandighede, geen oortydbetaling nie en die vervalle geboue en teaters waarin hulle moet werk. Hulle het ook hul ontevredenheid oor die hospitaal se bestuur uitgespreek.

Pittaway het die hospitaal oor die naweek besoek en vertel met haar aankoms was daar omtrent nie ʼn enkele verpleegster of dokter by die hospitaal teenwoordig nie.

“Mediese personeel van die Bongani-hospitaal in Welkom moes by die ongevalle-eenheid kom uithelp en verpleegstudente het ook probeer help waar hulle kan,” vertel Pittaway.

Volgens Pittaway was die pasiënte se kosporsies vir ontbyt kleiner as gewoonlik, wat twee snye brood en ʼn halwe appel ingesluit het. Die pasiënte het vir die res van die dag nie weer kos gekry nie.

“Die pasiënte het die hele Saterdag ook nie medisyne gekry nie en die verpleegstudente wat wel by die hospitaal was, is nie gemagtig om medikasie by die apteek te trek nie.”

Die hospitaal is die afgelope jare al vervalle (Foto: Verskaf)

ʼn Pasiënt se familie het aan Pittaway vertel dat die liggaam van ʼn pasiënt wat gesterf het, byna ses ure lank in dieselfde saal as hul geliefde gelos is voor dit verwyder is.

“Die portiere het ook gestaak en nie die liggame verwyder nie. Dit was uiters traumaties vir die pasiënt.”

Van die pasiënte het ook maar self besems en lappe gegryp en die hospitaal skoongemaak.

Volgens Pittaway is die hospitaal die afgelope jare al vervalle omdat algemene instandhouding nie plaasvind nie. Die probleem is ook nog nooit werklik hanteer nie.

Maroela Media het vroeër berig oor die agterstand in ortopediese operasies in die hospitaal en hoe pasiënte vir maande in die hospitaal lê en op noodsaaklike operasies wag.

Een só pasiënt is Willemien Landman van Parys in die Vrystaat. Sy wag al sedert Desember 2021 vir ʼn heupoperasie ná ʼn bromponie-ongeluk waartydens sy beseer is. Sy is in Julie verlede jaar na die Pelonomi- en toe Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas, maar kon nie die operasie ondergaan nie, weens infeksie wat sy opgedoen het tydens haar lang wagperiode in die Boitumelo-hospitaal.

Die DA beoog om ʼn klag aan die Menseregtekommissie (MRK) te rig om die situasie by die hospitaal te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mariana ·

Wat ‘n skreiende skande dat hulle staak terwyl mense sterf. Hoe lewe hulle met hulself saam? Hulle is die naam “gesondheidswerker” nie werd nie. Hulle hoort nie in hospitale nie. Sies vir hulle.

Eugene ·

Wie ook Al die minister van gesondheid is, sluit daai hospitaal se deure. Die gebou is elk geval oud en daars geen instandhouding nie.

Harley Davidson ·

En om te wys hoe ongelukkig hulle is los hulle toe die pasiënte oor aan hulle eie genade,in ‘n regte land met regte leiers nie soos die ANC of die verraderlike NP sal die skurke nou werkloos wees.

TruthDealer ·

Only in South Africa..jaa wat jong, seker nie veel wat mens hieroor kan sê nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien jy hospitaal toe gaan moet jy net jou eie besem saam vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.