EFF-leier Julius Malema het Woensdagoggend restaurante by die Mall of Africa in Gauteng besoek om die indiensnemingskoers tussen Suid-Afrikaners en buitelanders na te gaan.
Volgens die EFF sal die restaurante se arbeidsbeleid en werkerskorps van nader beskou word om te verseker “mede-Afrikane word nie uitgebuit nie en plaaslike inwoners word op ʼn aanvaarbare vlak in diens geneem”.
Malema, met ʼn gevolg verslaggewers en ondersteuners, het onder meer met die bestuur van Kream Restaurant in die sentrum vergader. Malema sê hy het ʼn afspraak met die restaurantbestuur gemaak en het hulle nie in ʼn “hinderlaag” gelei nie. Hy sê ook almal wat in Suid-Afrika sake doen, moet aan ondersoek onderwerp word.
“Ons het ʼn probleem met hoë werkloosheid en armoede en al hoe dit opgelos kan word, is deur indiensneming.
“Ons wil benadruk – en dit is ook wat ons aan die eienaars van die restaurante gesê het – dat niemand moet ophou om Zimbabwiërs in diens te neem en sê die EFF wil nie Zimbabwiërs hê nie. Ons wil hê Zimbabwiërs moet hier in Suid-Afrika werk, dit is hul tuiste,” sê Malema.
“Hulle moet geen verskoning maak omdat hulle Zimbabwiërs of enige ander Afrika-broer of -suster in diens neem nie. Maar wanneer dit gedoen word, moet dit met die oorweging wees dat daar ook plaaslike mense is wat ten alle tye voorkeur gegee moet word.”
Suid-Afrika het ʼn bevolking van nagenoeg 60 miljoen mense, waarvan sowat 3 miljoen volgens die jongste beskikbare syfers migrante is. Baie van hierdie migrante is Zimbabwiërs wat weens die ekonomiese ineenstorting daar ʼn heenkome in Suid-Afrika kom soek het.
Die EFF-leier sê ʼn situasie waar Suid-Afrikaners van indiensneming uitgesluit word, kan nie geduld word nie – en hy sê daarmee het die restaurante se bestuur saamgestem.
Malema sê Zimbabwiërs mag egter nie minder betaal word as hul plaaslike eweknieë net omdat hulle buitelanders is nie.
Dr. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor indiensneming en arbeid, het die EFF se besoeke gekap en dit bestempel as ʼn “desperate oefening in xenofobiese, politieke gespog wat voorgehou word as wetgewende oorsig”.
“Dit kom neer op ʼn vorm van werkplek-terrorisme en moet heelhartig veroordeel word.”
Cardo sê die idee dat Malema die mag het om homself op ʼn private werkgewer af te dwing en “gewapen, soos ʼn apartheidsera-arbeidsinspekteur”, met ʼn knipbord om ʼn “soort potloodtoets te doen,” is lagwekkend en gevaarlik.
Die DA bestempel die EFF as ʼn populistiese party met weinig of geen samehangende beleid nie en een wat byna enigiets sal doen om aandag te trek, met min ontsag vir die oppergesag van die reg.
Die party gee ultimatums, intimideer werkgewers en bedreig die veiligheid in die werkplek as daar nie aan hul eise gehoor gegee word nie, sê Cardo Die party se optrede ondermyn en destabiliseer boonop arbeidsverhoudinge.
“Die ANC is aandadig in die skep van ʼn kultuur wat bevorderlik vir xenofobie is deur deurlopend buitelanders in die werkplek te teiken en sondaars van hulle te maak. Die regerende party moet hom nou van die EFF se toneelspel distansieer en sy posisie duidelik maak oor politieke partye wat optree as arbeidsinspekteurs en vakbonde.”
Malema het Woensdag gesê die besoeke sal nie ʼn eenmalige gebeurtenis wees nie en dat die EFF ook plase en maatskappye in die veiligheid- en gasvryheidsbedryf sal besoek, veral wanneer hulle wenke oor die plekke ontvang.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
54 Kommentare
Hulle moet kom kuier by die werkgewers wat inentings op jou wil afdwing. DAAI sal nou lekker sports wees.
pfff hy soek net ies om in die kollog te wees, nie lank nie dan plunder hulle die plekke
Se asb vir besighede om skool verlaters ook n kans te gee vir werk, dit is belaglik dat hulle verwag jy moet uit skool uit kom met jare se ondervinding, almal begin kruip voor hulle loop hoe moet n mens ondervinding op bou as niemand jou n kans wil gee nie?
Hy verander sy storie ook elke dag. Dan wil hy die grensposte oopgooi vir sy mede landburgers in Zimbabwe en nou wil hy weer sy mond rek oor werk aan hulle verskaf word. Die idioot soek net aandag. Plaas hyself terug gaan Zimbabwe toe waar hy vandaan kom.
En kyk hoe stap die kapokhaantjie sonder sy masker.