Wes-Kaap gee R10 miljoen vir Prasa

Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, Bonginkosi Madikizela ondersoek die Prasa-spoorlyn in Pinelands, Kaapstad terwyl plantegroei verwyder word (Foto: Ayanda Ndamane African News Agency/ANA)

Die Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, Bonginkosi Madikizela, het Dinsdag aangekondig dat sy departement sowat R10 miljoen aan die Passasierspooragentskap (Prasa) beskikbaar sal maak om infrastruktuur te herstel en onbetroubare diens aan te spreek.

Madikizela het ná ʼn inspeksie gesê weens Prasa se onbetroubare spoorwegdiens neem dit pendelaars ure om te reis en hulle kan nie enige reisplanne tref nie. Dit het hul waardigheid ondermyn en die moeilik gemaak om toegang te kry tot ekonomiese geleenthede, het hy bygevoeg.

Dit is dus noodsaaklik om alles moontlik te doen om die spoornetwerk te herstel, het Madikizela bygevoeg. Hy het gesê die provinsiale regering werk nou saam met Prasa om die spoorwegdiens te herstel.

“Die provinsie het vroeër deelgeneem aan die oprigting van die Spoorwegwetstoepassingseenheid in die uitbreiding van sekuriteitsdienste vir die spoorwegnetwerk. Die provinsie het finansieel bygedra wat betref beplanning en organisasie. Ons verskaf weereens ondersteuning,” het hy bygevoeg.

Volgens hom is R10 miljoen beskikbaar gemaak en sy departement het ʼn memorandum van verstandhouding met Prasa aangegaan tot samewerking en koördinering om passasierspoordienste, bedrywighede en bestuur, infrastruktuur en bates, inligting en monitering, en veiligheid en sekuriteit vir die hele spoorwegnetwerk te verbeter.

Die ooreenkoms strek van die datum van ondertekening (28 Mei 2020) tot 31 Maart 2022.

“Hierdie werksplan, kragtens die vereistes van die memorandum van verstandhouding, bevat die besonderhede vir spesifieke ingryping waaronder plantegroeibeheer in spoorwegreservate en infrastruktuurbates in die Wes-Kaapse streek van Metrorail.”

Die plantegroeibeheer sal werkskepping en korttermyn werksgeleenthede beteken vir 80 persone.

Volgens hom is die onmiddellike fokus die suidelike lyn (Kaapstad na Simonstad), noordelike lyn (Soutrivier na Bellville), sentrale lyn (Kaapstad na Mutual/Langa/Pinelands) en die Kaapse Vlakte-lyn (Maitland na Heathfield).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Baardman ·

Opskrif moet eerder lui: “Prasa se salarisse styg met R10 miljoen”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.