Wes-Kaap vra verskeie uitsonderings op afsonderingsreëls

‘n Vrou staan buite ʼn toetsingskliniek in Khayelitsha, Kaapstad (2 April 2020) (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Die Wes-Kaapse regering het ‘n amptelike versoek gerig aan die nasionale regering om verskeie van die handelsbeperkings wat weens die koronavirus opgelê is, af te skaf – insluitend die verkoop van sigarette.

In ‘n brief aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, vra die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, dat verskeie beperkinge op die private sektor opgehef word. Die versoeke is vervat in ‘n brief wat Maroela Media onder oë gehad het en waarvan die inhoud as korrek geverifieer is.

Bredell skryf aan Dlamini-Zuma dat die doel van die brief tweeledig is – eerstens om te bevestig dat die Wes-Kaap die regering se rampregulasies steun, en tweedens om te vra dat dit gewysig moet word.

Die Wes-Kaap en die nasionale regering het al tevore oor die maatreëls koppe gestamp, toe die Wes-Kaapse minister van finansies, David Maynier, verkeerdelik beweer het die verkoop van sigarette word toegelaat.

Die veranderings wat Bredell voorstel is om verskillende klasse noodsaaklike goedere in te stel omdat, so voer hy aan, dit die stelsel sal vereenvoudig. In die daaropvolgende sin sê Bredell egter dit gaan oor die insluiting van meer bedrywe wat sake kan doen as tans, waaronder die toelating van die verkoop van elektroniese toerusting soos slimfone, skootrekenaars, rekenaars, drukkers, sleutelproppe (“dongles”); en die verkoop van skryfbehoeftes, boeke, hardeware (soos pype en hamers), wasmasjiene, yskaste, sekuriteitshekke, stowe en komberse.

Die verkoop van sigarette word geregverdig daardeur dat as dit nie gewettig word nie, dit onwettige handel in sigarette aanhelp. Nietemin gee die Wes-Kaapse regering in die brief toe dat rook bydraend is tot kwesbaarheid vir respiratoriese siektes. Covid-19 is ‘n respiratoriese siekte. Een van die argumente wat die Wes-Kaapse regering aanvoer is dat onttrekkingsimptome van nikotien aggressie, angstigheid en buiveranderings insluit.

In ‘n uitgebreide voorlegging vra Bredell dus weer vir wat Maynier vroeër verkeerdelik beweer het, naamlik dat sigarette verkoop word mits dit saam met noodsaaklike goedere aangekoop word.

Derdens vra die Wes-Kaapse regering dat daaglikse oefening toegelaat word. Hulle vra dat dit een keer per dag toegelaat word vir ‘n kort rukkie vir almal wat nie aan die koronavirus blootgestel is nie. Die Wes-Kaapse voorstel sluit nie in hoe hierdie kort rukkies buite gepolisieer of gereguleer moet word nie.

Vierdens vra die Wes-Kaapse regering dat ondernemings wat kos voorberei, soos restaurante, toegelaat moet word om kos voor te berei en af te lewer.

Die Wes-Kaapse regering vra ook dat troeteldierwinkels moet kan sake doen omdat hulle ander troeteldierkos as supermarkte verkoop. Die Wes-Kaapse regering beweer daar is miljoene troeteldiere wat ander kos eet as wat in supermarkte verkoop word.

As ʼn sesde punt wil die Wes-Kaapse regering hê gesondheidswinkels moet oop wees want baie mense gebruik ander medisinale middels as wat daar in apteke is.

In die sewende plek vra die Wes-Kaapse regering dat alle bakkerye en slaghuise moet kan sake doen.

Die Wes-Kaapse regering wil ook hê eienaars van supermarkte en spaza-winkels moet toegelaat word om oor provinsiale en distriksgrense heen te reis om goedere op te laai en af te laai, omdat verspreidingsdepots nie oral voorkom nie.

Die Wes-Kaapse regering versoek ook dat die vervoer van plaaswerkers gereguleer moet word. Vir ‘n agtton-trok word ʼn maksimum van dertig passasiers voorgestel. Vir ‘n seston-trok word ‘n maksimum van 20 passasiers voorgestel. Vir ‘n bakkie word ‘n maksimum van vier passasiers voorgestel.

Die insluit van buurtwagte by die lys noodsaaklike dienste word voorgestel en die Wes-Kaapse regering versoek ook dat ondernemings se kantoor- en ander inhoud veilig gestoor moet kan word.

Laastens vra die Wes-Kaapse regering dat vergaderings van Alkoholiste Anoniem toegelaat moet word.

Die nasionale regering het teen Sondag nog nie op die Wes-Kaapse voorstelle gereageer nie en dit is nog onder oorweging.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Gawie ·

Hierdie maak meeste vir my sin, maar die AA byeenkomste? Daar is reeds verskeie sulke groepe wat aanlyn byeenkom. As jy dit toelaat, waar trek jy die streep? Wat dan van al die ander ondersteuningsgroepe?

Cecil ·

Die Wes Kaapse regering het darem baie versoeke. Wat nog van die ander Provinsale Regerings.
Iewers moet n lyn getrek word. Wie gaan al die versoeke bestuur. Verseker nie die SAP en Weermag nie. So bly by die huis vir n verdere 2 weke en maak die beste daarvan. Klaar gepraat.

Johan ·

Cecil jy is of n baie suksesvolle sakeman of jy is n salaris trekker by die belasting betalers (staats amptenaar)

Jan ·

Gaan jy kos gee vir almal wat vd honger gaan omval agv die inperking…

Erik ·

Maak vir my ook alles sin. Veral die oefening. Sal goed wees om ten minste te kan gaan stap.

Troeteldierwinkels wat slegs kos verkoop was nog heeltyd oop hier, en slaghuise, so verstaan nie hoekom hul toe is in die Wes-Kaap nie?

Marthinus Johannes ·

Slaghuise veronderstel om oop te wees, dis voedsel wat verkoop word dus essensieel.

Erik ·

Stem saam, maar hoekom versoek die Wes-Kaap dan dat slaghuise moet kan sake doen?

Leon ·

Nee! Die dag as enigiemand vir my kan bewys dat rookgoed of drank ‘n noodsaaklike of essensiële produk sal ek so iets ondersteun. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek geniet my drankie of bier wanneer ek kan. Nou kan ek nie. Klaar, punt

twaalfboor ·

Wat verstaan die Wes Kaapse regering nie? Met al hulle punte kan die Nasionale regering maar dan net sowel die “lockdown” afskaf. Mnr die wes kaap…… jy stel my en my familie se lewens so in gevaar. Dink verder as dat jou neus lank is asb.

Marthinus Johannes ·

Hulle kan dan netsowel aanvra vir n totale ops korting want dit wat hulle vra is omtrent dit.

Althes ·

Ek was self tot onlangs nog ñ roker en weet hoe swaar dit is om die gewoonte te stop. Dis nie iets wat jy in ñ maand kan los nie. As mense wil rook laat die maatreëls verslap word. Buitendien die regering se finansies en die ekonomie is beroerd, verkoop sigarette en ontvang ten minste sondebelasting.

Jan ·

Die virus is minfer dodelik as kanker tb en hartsiektes.. Maar nou gaan duidsende hongerly agv die inperking

Johan ·

Ek stem saam kyk die ouderdom van die mense wat sterf geen jongmense. Die regering moet eerder ingeperk word.

Jaco ·

Wat die troeteldierwinkels aanbetref….baie veartse wat wel oop is gedurende “lockdown” verkoop ook die “grand” hondekosse vir diegene wat nie weet nie :-)

katerinadiekat ·

Meeste van die mense wat rook, rook al vir jare en selfs dekades. The lung damage is already done. Dit help nie om nou vir n maand geforseer te word om op te hou nie. Al wat dit doen is om die lewe hel te maak vir rokers in n alreeds stresvolle tyd. Sadistiese drakoniese verbod wat GEEN SIN MAAK nie.

Sarel ·

Laat ons sien wat kom hiervan. Sommige voorstelle klink vir my uitvoerbaar masr sal.nog onder beheer en gemonitirvmoet word

Steady Eddie ·

Ek vind dit vreemd dat net die Wes-Kaap moeite doen om verslappings in die “Lockdown” bepalings te beywer !!!
Maar nou-ja, die ander provinsies is seker tevrede om te ‘idle’ terwyl die land ten gronde gaan !!!
Seersekerlik sal hierdie provinsies eerste in die ‘bak-hand’ tou staan om hulp te kry van die Nasionale regering !!!
Ek sê maar net …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.