Wes-Kaapse oorstromings: Liggame van man, tiener gevind

‘n Dae lange soektog is na Reagan Fredericks se liggaam geloods (Foto: JP Smith/Facebook)

Te midde van die swaar reën en oorstromings in die Wes-Kaap die afgelope week, is die liggame van ’n 30-jarige man en ʼn 15-jarige tienerseun Sondag onderskeidelik in Kaapstad en Worcester gevind.

Volgens ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, is Reagan Fredericks (30) reeds Woensdag deur sterk waterstrome in die Keyserrivier in Kaapstad meegesleur. Sy liggaam is eers Sondag gevind.

Die tienerseun, wie se naam nie aan Maroela Media bekend is nie, se liggaam is in Worcester by Drie Bruggies langs die Rooipad gevind.

Volgens die polisie se inligting is Fredericks en sy makker Woensdag deur gemeenskapslede daarvan beskuldig dat hulle by ’n sakeonderneming in Steenberg gesteel het.

“Gemeenskapslede het die twee gejaag en in die hitte van die stryd, het die verdagtes op die hoek van Military- en Floraweg  in die rivier gespring,” sê Swartbooi.

“Een van die verdagtes kon tot by die ander kant van die rivier swem en uitklim, maar die tweede verdagte [Fredericks] is deur die rivierstrome onderdeur die brug meegesleur. Hy het onder die water verdwyn.”

Reagan Fredericks (Foto: Reagan Fredericks/Facebook)

Die polisie het al langs die rivier na Fredericks gesoek en die polisie in Steenberg het ’n verslag vir ʼn vermiste persoon vir verdere ondersoek oopgemaak.

“Gemeenskapslede het die polisie se duikeenheid met die soektog bygestaan en Fredericks se liggaam is Sondag gevind.”

Die Kirstenhof-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Die omstandighede van die 15-jarige se dood word ondersoek en ’n nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Swaar en aanhoudende reën het tot oorstromings in die Kaap gelei en die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel dat die reën nog nie verby is nie.

Die Wes-Kaapse damvlakke staan tans op 81,5% en was 56,8% verlede jaar dié tyd.

Stad Kaapstad se damvlakke was teen Maandag 91,5%.

Maroela Media het vroeër berig een van drie sluise is vir die eerste keer in meer as 30 jaar tot die hoogste vlak oopgemaak om water uit die Wemmershoekdam in die Wemmershoekrivier te laat vloei.

(Foto: Themba R Mnguni via Radio2000 Music Fans/Facebook)

Gemeenskappe en woonbuurte in die stad word deur vloedwaters geteister en die stad se rampbestuurspanne staan slaggereed om gemeenskappe te help waar hulle kan en opruimingswerk te doen.

Een van die woonbuurte wat erg onder vloedwaters deurgeloop het, was Khayelitsha.

“Talle inwoners moes hul huise ontruim en word tydelik in die Andile Mzizi-saal gehuisves,” sê Noko Masipa, die DA se kiesafdelingshoof in Khayelitsha.

“Ingrypings deur die Stad Kaapstad sluit in die vermindering van die impak van oorstromings op die informele nedersettings wat op vleilande gebou is deur groot klippe rondom die gebied te plaas om te verseker dat dit nie verspoel nie.”

Talle paaie wat in die stad oorstroom was, is ook gou opgeruim en deur die dag vir motoriste oopgestel.

Humanitêre organisasies soos Gift of the Givers en gemeenskapsorganisasies probeer ook gemeenskapslede in nood te help met voorsiening van kos, komberse, klere en ander noodsaaklike voorraad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.